Diegene van ons wat die voorreg het om grondpadtoere (of overlanding) te doen, weet dat dit ‘n besonders belonende (rewarding) ervaring is. Die grootsheid van ons land en kontinent, die ekstreme kontraste en landskap verassings, die stilte van die woestyn en die lekker van ‘n stofstreep wat onder jou voertuig se wiele uitborrel, die gesprekke met “locals” en die deel van hulle stories, die samesyn van vriende en die spanwerk as daar moeilikheid kom – is maar ‘n paar van die dinge wat dit alles die moeite werd maak; of meer as die moeite werd.
Elke toer het sy unieke oomblikke en redes hoekom dit onthou sal word – en dit is tog die stoffasie van die stories wat ons nou kan deel, en more by die werk, en oormore by die rolbalklub en eendag wanneer ons op die ouetehuis se stoep sit – en as daar niemand is om jou storie en wyshede mee te deel nie, dan behoort dit nog ‘n glimlag op die gesig te bring.
Die fotos wat ons neem is die bewys van die feit dat ons lewe, ‘n erkenning van ons ervaringe en ‘n belofte van nog ‘n reis – so spoedig moontlik, want om elke draai is daar nog iets wat gesien moet word. Om te reis is ‘n verslawing – maak nie saak waarmee of waarheen nie, dit gee jou jou eie inspuiting van “happy” hormone.
Hierdie grondpadtoer sal onthou word spesifiek as gevolg van die laaste twee dae se gespook - frustrerend maar lekker.
Die ster van die grondpadtoer was Leon en sy X Trail - buiten die "plastics" wat ek moes vasplak met duck tape het hulle alles gehanteer wat na sy kant toe gegooi was. Al die ander voertuie het iets gehad wat aandag moes kry – die D3 het 2 padwiele gehad, my D2 se petrolpomp het die wit vlag opgesteek en Gert se Amarok het ‘n gebuigde pensplaat gehad - met die komplimente van ‘n sandduin.
Nabetragting -
- Daar is min dinge so mooi en bekoorlik as ‘n sonopkoms iewers in die vlaktes, langs die pad of in jou voertuig, met ‘n koppie stomende koffie in die hand nie.
- Namibia is skoon en netjies, het omtrent nêrens papiere en gemors sien rondlê - maar baie droog. Die konsep van onderhoud en instandhouding word defenitief beter verstaan as in SA. ‘n Voorbeeld is die aftrekplekke langs die paaie; die asdromme is skoon, die afdakke staan, die sitplekke is nie gevandaliseer nie, en ek voel veilig om daar te stop. Wat my hart verbly het, is die "toet" van verbygaande motoriste - vriendelike mense wat waai en kyk of alles reg is. Ons kan 'n kers gaan opsteek by die Namibiers.
- Afrikaans is koning in Namibia. Die hoeveelheid mense van alle geslagte, ouderdomme en kleure wat met my suiwer Afrikaans gepraat het is verstommend.
- Die mense op die platteland is vriendelik, behulpsaam en respekvol. Die Namibiers is veral respekvol.
- Die petrolpomp was toe stukkend. Een van die pype in die tenk het gebars en lug getrek - geen petrol na voor. Die inlyn pomp het toe nie ook gebreek nie - die sigaret aansteker wat ek gebruik het om krag na die pomp te voorsien het stadig maar seker warm geword en gesmelt - geen krag na die pomp, geen petrol na die enjin.
- Die Ai-Ais na Walvisbaai pad - ai, wat 'n gemors. Ek kan met oortuiging se dat dit waarskynlik die swakste en mees uitgeryde grondpad is wat ek al teegekom het. Baie goeie kompetisie is die Askam na Van Zylsrus pad in Suid-Afrika - of nee, die ZA pad is swakker, dit gaan nog mense se dood veroorsaak.
- Die Bosua Pas se pad kort regtig aandag - dis een van die mooiste paaie wat ek al gery het, maar dit het aandag nodig.
- Ek het skaam gekry toe ons deur Kuruman, Vryburg en Vendersdorp gery het. Die dorpe is net kort van ashope. Dis vuil, verniel en afgetakel. Die motorhawe in Kuruman waar ek gesukkel het om my trok weer aan die loop te kry word deur 'n wag met 'n haelgeweer opgepas - hy het die hele tyd by ons gesit. Klaarblyklik is daardie motorhawe in sy eerste week drie keer beroof. Dit is so erg dat die petroljoggie in die dorp ons gewaarsku het om ons deure gesluit te hou en op die uitkyk te wees van skelms wat jou met messe aanval en beroof.
- Maar net soos die Kuruman en Vryburg erg afgetakel is, is dit ook die plekke waar engele hulle oor ons ontferm het.
- Waar ek nou sit en skryf en boodskappe van reën in die dorre streke instroom, moet ek sê dat ek Namibia en die Noord-Kaap nog nooit so droog gesien het nie. Ongeag hoe goed dit nou reën gaan dit nog ‘n jaar of 3 se goeie reën kos om die veld te herstel.
- Al ons blyplekke was uitstekend – net een plek was sub-standaard, en toe ek daaroor kla toe word die “ons kry swaar” kaart gespeel. Oud was nog nooit ‘n probleem nie, vuil en/of onversorg sal altyd wees.
- Uiteindelik reis ons saam met mense - jy trek hier weg en kom terug as vriende of as vyande. Ons trap almal spore in mekaar se lewens.