Thursday, January 9, 2020

Die Pad deur die Woestyn tot by die Huis – Brandstofpompe en Engele (#8)

Bosua Pas, Bastion Farmyard tot terug in SA
Soos gewoonlik spring ons douvoordag weg - Windhoek toe, deur die Namib Naukloof Park en die Khomas Hochland.  Maak nie saak hoeveel keer ek al die pad gery het nie – dit bly spesiaal.  Deur die Namib loop die pad mooi, met ‘n misgordel wat 80km die woestyn in strek.  Geen motor in sig nie, dis net ons en die lang wit pad.




Die pad voor en na die Bosua Pas is uitgery maar ongelooflik mooi - Hettie kan nie uitgepraat raak oor die kontraste en die natuurskoon nie.  Ek wys vir die manne die “long drop” by die uitkykpunt, waar jy regtig die toekoms kan insien terwyl jy doen waarvoor die natuur jou roep.  En natuurlik is daar ‘n paar manne wat ‘n ernstige roeping ervarvaar. 



 
 Ons maak 'n draai by skoonma in Windhoek en word bederf met koek en koffie - regte Namibiese gasvryheid.  Maar ons kan nie lank bly nie, Mariental is nog ‘n ent in die pad af.  Ons vat die pad na Mariental, stop voor die Kalahari Lafenis Hotel in Kalkrand - vroeër jare was dit die Kalkrand Hotel en Pupkewitz, maar dis nie meer dieselfde nie.  Die Jongspan is reeds in Mariental en ingeboek by die Bastion Farmyard - hulle steek solank die vuur aan.  Uitstekende oornagplek.


Op Keetmanshoop maak ons die brandstoftenks propvol, ry 'n draai deur die dorp en sien 'n standbeeld wat vir skaapwagters opgerig is.  Ons kry die grondpad na Aroab - die pad is mooi en nie lank nie toe ry ons Aroab in – dis arm en stowwerig, maar met ‘n eietydse bekoring.

By die Rietfontein grenspos word ons hout, aartappels, tamaties en eiers gekonfiskeer, maar ons is terug op eie bodem.  Interresant dat die grenspos se kombuis net neffens die deurgang lê – ek vermoed hulle was lus vir “chips” en vars slaai …. maar nie voordat Leon die tamaties uit die asdrom opdiep en enetjie eet vir die pad. 

Die grondpad tussen Askam en Van Zylsrus is baie na aan die slegste pad wat ons op die hele roete gery het, met diep wit stofgate.  Die trok is nukkerig, definitief brandstof "starvation" en die krag is min - natuurlik, as jy dors het hardloop jy nie lekker nie.  Nou moet ons maar ry totdat ons gaan staan, dan maak ons ‘n plan.

Ons is vir twee nagte bespreek by Leeupan - maar ongelukkig was die blyplek nie op standaard nie, en daar word besluit dat ons die volgende (Saterdag) deurstoot huistoe.  Vir my persoonlik was dit 'n geweldige teleurstelling, maar min het ek geweet dat daar tog geluk by die ongeluk is.  Die Kalahari is egter ongelooflik mooi.



                       

 











'n Onklaar brandstofpomp en engele
Van Zylsrus
Ons groet die rooi sandduine en kameeldoringbome by ons blyplek en vat die pad na Van Zylsrus.  Petroltenks word vol gemaak en dan draai rigting Karasburg. Die grondpad droog gelukkig op en kort voor lank is ons op teer - nooit gedink ek sou dit verwelkom nie, die rooi duine met vaal gras en doringbosste flits verby.

Net voor Hothazel begin die trok weer sukkel en toe ons Kuruman haal trek ek by die eerste groot motorhawe in.  Dis tyd vir planmaak - so gaan ons nie die huis haal nie.  Ek laat die Kleinspan en Leon hulle verder ry, dis Saterdag voormiddag in Karasburg en daar is geen rede hoekom hulle moet wag nie.

Daryll en Johann
By die motorhawe staan 'n groot sekerheidswag nader - met 'n 12 boor haelgeweer oor sy skouer lyk hy nogal intimederend.  Hy pas die motorhawe op want dis al drie keer beroof, en van hy daar is - geen probleem.  Sy naam is Johann met twee n'e en hy bel onmiddelik 'n werktuigkunidge vriend - Daryll.  Tussen my, Gerrit en Daryll word 'n inlyn petrolpomp by Midas gekoop en geinstalleer - en na vele probeerslae vat ons die pad Vryburg toe.  Die uitdaging is dat dit 'n hoëdruk pomp is wat sonder die regte "fittings" in die petrollyn ingeforseer is - en lekke is verseker.

Maar - die koop van die petrolpomp is 'n storie op sy eie - dit loop so.  Na die beslut om 'n ekstra petrolpomp in te bou moet ene gekoop word, by Midas op die dorp, en tyd loop uit.  Daryll en sy vrou is voor in 'n Chico Golf en ek agterin - en maak nie saak hoe ek sit nie, my kop druk teen die dak.  Daryll reken hy is Geniel de Villiers en blits deur die dorp - wel eintlik klink dit so as gevolg van 'n tekort aan 'n agterste klankdemper - en moet konstant hard rem vir taxis en trokke en voetgangers - daar is geen reëls nie.  By Midas gekom is daar 'n keuse van twee verkeerde pompe - 'n swak ene en 'n sterk ene, dis dan die sterk ene, dankie meneer.  Maar die is 'n "fitting" wat oor 'n "banjo" bout moet kom en die het Midas nie - ek verstaan nog steeds nie wat, waar en hoe musiekinstrumente en boute met gate in enigiets met mekaar te doen het nie.
Daarom sit ons af na iewers in die onderdorp, wat lyk of ons pas Nigerië betree het - by 'n hardewarewinkel wat enigiets van 'n kopspeld tot 'n dooie polisieman verkoop, loop ons 'n bloutjie.  Langsaan is daar 'n straat werktuigkundige wat vanuit 'n vodde Navara bakkie sy besigheid bedryf - ek verstaan nou weereens die gesegde dat 'n werktuigkunidge se motor altyd stukkend is, ek dink nie daai Navara het in die afgelope jaar geroer nie, maar hy is vol gereedskap en goete.  

Daar is 'n plastiek vernouing wat uit die "banjo" bout verwyder moet word, meneer Navara probeer eers met 'n stukkie draad, toe 'n spyker en later 'n groter spyker.  Gerrit bel en vra waar is ons - ek sê staan by.  Nou vra ek of hy dalk 'n boor het - en uit die Navara se paneelkissie verskyn 'n houer met boorpunte - ons kies ene.  Het jy 'n boor - natuurlik, en die word uitgevis onder die agterste sitplek.  Kan ons boor - nie hier nie, krag is langsaan.  Ons stap na die huis langsaan, klim deur 'n hek wat lankal nie meer kan oopmaak nie, stap verby 'n konka met vuur en 'n pot bo-op met pap in, dalk was dit ontbyt.  'n Kleintjie loer vir my oor 'n snotneus, wantrouig - ek dink ook nie hulle hond was baie ingenome met my nie.  Maar daar is krag en na 'n paar probeerslae is die plastiek uit en groet ek dankbaar.  Daryll ken definitief die manne en groet geesdriftig.

Terug by die trok is daar 'n ernstige spoeg en plak operasie, en na vele spreekwoorde loop die trok.  Ons pomp bande terwyl die petrol joggie ons waarsku teen skelms wat jou helder oordag in die hoofstraat aanval - hou alles toe en wees versigtig vra hy mooi, sodat niemand kan sien nie.

Met voldoende brandstof na die enjin loop die trok asof hy pille ingekry het - maar 30km voor Vryburg radio Gert dat ek moet stop want die brandstof spuit uit.  Uit kom die sleeptou en die Navara loop voor tot in Vryburg.  Wat teleurstellend is dat niemand wat ek bel bereid is om te help nie.
Ons het nog nie die seile onder die trok ingegooi nie, toe stap 'n "local" nader, Johan - hy wil hoor of hy kan help.  Hy kan, en vir die eerste keer is ek opgewonde, want hy bel vir Mike, en Mike is nog by sy werkswinkel - Mike van Kalahari Gearbox Exchange.  Mike en Gerrit praat met mekaar in tegnies en kort voor lank het ons die regte bout om die banjo se gate toe te knyp, sonder enige petrol lekke - blessings.  Dis by 16h00 en ons is moeg - Johan se sy vrou het 'n gastehuis (die Molopo Inn), skoon en netjies.  Ons gaan bad en geniet aandete by die Spur - more (Sondag) vat ons die laaste stuk huistoe - wat 'n avontuur.

Nodeloos om te se, 6km van die huis af gaan staan die trok weer – die enjin loop droog.  Maar ons is by die huis en vir oulaas vra ek vir Gert om ons te sleep tot by die huis.  Dit maak nie saak nie. 5600km verder.  Ons is tuis.

1 comment:

  1. Sjoe..EK is skoon moeg..... dankbaar die teenspoed is eintlik net n frustrasie en nie iets regtig erg nie.

    ReplyDelete