Monday, November 1, 2021

Twee Poorte en Drie Passe - Baviaans en Gamkas

Om te reis is ‘n interresante siekte.  Dis ongeneeslik.  Daar is altyd nog ‘n plek wat jy nog nie
gesien het nie – dit raak ‘n obsessive. “Was jy al daar” is so goed soos ‘n brandende vuurhoutjie in ‘n bondel droeë grassaad.

Hierdie keer was dit die Baviaans en die Gamkas Klowe, mooi aanmekaar gestring deur gladde grondpaaie en uitsonderlike bergpasse – die Prins Alfret-, Montagu- en Swartbergpasse.

Vrydagoggend, 15 Oktober 2021, 04h30 rol die wiele vanaf Centurion – soos gesoute Gautengers wil ons die verkeer suid mis.  Bloemfontein is die eerste koffie stop – en omdat ek met die Freelander ry, hoef sy dors nie geles te word nie.  Met die getroue V8 Disco 2, wat vandag by die huis rus, sou ek al die eerste duik in my kaart gemaak het.  Hierdie roete is uitgewerk om te sien wat die Freelander 2 kan doen – kan dit hierdie tiepe roetes baasraak sonder om dit te verniel – ek sal versigtig moet wees, want dis Moeksie se werkesel.



Op Smithfield bring ons familie bymekaar.  Gerrit gaan groet sy neef wat die Kraay’s Pie op Smithfield besit.  Daar word baie lippe geklap.  


Op Bethulie ontmoet ons vir Trudie Venter wat ons op ‘n geskiedenisles toer vat oor die Konsentrasiekamp en die Anglo Boereoorlog wat daar afgespeel het. Die kamp was een van die ergstes wat meer as 1700 sterftes uit 5000 vroue en kinders tot gevolg gehad het – dit oor die magsug van die Britse Ryk.  Trudie se ouma was in die kamp en die stories oor lyding en onreg krap nog steeds ‘n senuwee raak.  Ons ry ‘n draai – en as jy mooi luister, is daar nog steeds Boer/Brit onmin in die dorp.  Ek verstaan dit.



Ons slaap vanaand op Burgersdorp en die eerste grondpad word betree – heerlik. Op Burgersdorp is daar ‘n nagwaak vir ‘n jong sportster, kerse word gebrand. 

Ons gaan bekyk ‘n Britse Blokhuis – dit moes onaangenaam gewees het om daar te bly en verg.  Die dorp is skoon en mooi – ‘n heerlike verrassing. 

Volgende stop in PE, Ocean View – daar huur ons ‘n huis vir die aand.

Ons ry Houtkloof en Elandskloof oor na Patensie en slaap by Twee Riviere net voor die Baviaanskloof se Hek.  Vroegdag vat ons die pad om genoeg tyd te hê vir die kloof en wat ‘n belewenis was dit nie.  Van Oos na Wes is die “moeilike” en skouspelagtige stuk eerste – dis goed so, want die vrouens raak moeg geskud teen middag.  ‘n Buffel jaag ons die skrik op die lyf toe dit skielik uit die bosse se verskyning maak – Moeksie skrik so groot dat sy skoon vergeet om ‘n foto te neem.  

  


 

Etenstyd is by Smitskraal en later die aand braai by Verlorenrivier – terwyl ‘n buitengewone koel bries waai.  Dis droog in die Karoo, maar dis 'n buitengewone stuk aarde met sy eie mense wat daar bly, vasbyt en planne maak.



Uniondale verby, Prins Alfredpas, die King Edward Groot Boom en die Olifant Wandelpad
gaan verby – niks wat ek kan skry of sê maak dit moontlik om die skoonheid en almag te beskryf nie.  Op verskei plekke het ek gestaan en wonder hoe neem ek ‘n foto van wat ek sien, sodat ander dit ook kan sien, en meer as een keer het ek niks geneem nie – want dis nie moontlik nie.  
      



Ons ry na Mosselbaai en bly in die Springer Bay Eco Estate, ‘n droom wêreld op sy eie, met ‘n
strand om oor te huil.  Die weer is ons genadig en ons benut die geleentheid om die nuwe zip line te ry – briljant.  Ons proe wyn by Jakkalsvlei en ry teen die kus af – Boggomsbaai, Vleesbaai, Gouritsmond, besonders mooi maar geen eetplek naby nie.  Mens moet eet!

Die Montagupas stel nie teleur nie en die absolute presisie van Thomas Bains en sy pad/pas bouers word meer as gereeld tentoon gestel – daar is te veel om in te neem en op fotos vas te lê.  Ons kry verskeie fietsryers op die pad – aan die onderkant manhaftig en vol glimlagte, maar verder boontoe is daar geen oogkontak nie en lippe is dun getrek van determinasie.  Ek vermoed dis makliker met die trokkie.

Op Oudtshoorn eet ons roosterkoek ontbyt en verwonder ons aan die versameling motors en motorfietse by die Smitswinkel Farmstall.  Dan, die Swartbergpas in al sy glorie, waaruit ons afdraai na die Gamkaskloof of Die Hel. 

Die pad Hel toe is vrot – uitgespoel, maar stel nie teleur aan skoonheid nie.  Onder in die vallei is daar spookbeelde van die November 2019 brand – swart stompe wat ten hemele skree, maar die groen is besig om die veld terug te wen.


Ons slaap vanaand in een van die Cordiers se huisies, afgesonder in die kloof.  Terwyl ons om die vuur kuier laat ‘n Tampan sy merke orals oor my bene.   Dis doodstil in die kloof met net die stroompie wat langs die huisie verby kabbel, wat ‘n geluid maak.  Ek wonder of die Cordiers ook gedink het dis hemel op aarde.
Vroegdag uit die koof uit, af teen die Swartbergpas rigting Prins Albert – die pas stel weereens nie teleur nie en die rotsmassas vertel hulle eie storie.  Huistoegaantyd.  


  


Ons sluit die roete af by Waschbank langs die Gariep, en net voor ons die laaste stuk teer
kafdraf rigting Centurion, groet die son ons oor die Gariep.

Ons land is besonders. Verruklik. Mooi.  O ja, die Freelander kan.  Verseker.

MooiLoop – tot volgende keer.