Showing posts with label Absolute Gravel. Show all posts
Showing posts with label Absolute Gravel. Show all posts

Monday, November 1, 2021

Twee Poorte en Drie Passe - Baviaans en Gamkas

Om te reis is ‘n interresante siekte.  Dis ongeneeslik.  Daar is altyd nog ‘n plek wat jy nog nie
gesien het nie – dit raak ‘n obsessive. “Was jy al daar” is so goed soos ‘n brandende vuurhoutjie in ‘n bondel droeë grassaad.

Hierdie keer was dit die Baviaans en die Gamkas Klowe, mooi aanmekaar gestring deur gladde grondpaaie en uitsonderlike bergpasse – die Prins Alfret-, Montagu- en Swartbergpasse.

Vrydagoggend, 15 Oktober 2021, 04h30 rol die wiele vanaf Centurion – soos gesoute Gautengers wil ons die verkeer suid mis.  Bloemfontein is die eerste koffie stop – en omdat ek met die Freelander ry, hoef sy dors nie geles te word nie.  Met die getroue V8 Disco 2, wat vandag by die huis rus, sou ek al die eerste duik in my kaart gemaak het.  Hierdie roete is uitgewerk om te sien wat die Freelander 2 kan doen – kan dit hierdie tiepe roetes baasraak sonder om dit te verniel – ek sal versigtig moet wees, want dis Moeksie se werkesel.



Op Smithfield bring ons familie bymekaar.  Gerrit gaan groet sy neef wat die Kraay’s Pie op Smithfield besit.  Daar word baie lippe geklap.  


Op Bethulie ontmoet ons vir Trudie Venter wat ons op ‘n geskiedenisles toer vat oor die Konsentrasiekamp en die Anglo Boereoorlog wat daar afgespeel het. Die kamp was een van die ergstes wat meer as 1700 sterftes uit 5000 vroue en kinders tot gevolg gehad het – dit oor die magsug van die Britse Ryk.  Trudie se ouma was in die kamp en die stories oor lyding en onreg krap nog steeds ‘n senuwee raak.  Ons ry ‘n draai – en as jy mooi luister, is daar nog steeds Boer/Brit onmin in die dorp.  Ek verstaan dit.



Ons slaap vanaand op Burgersdorp en die eerste grondpad word betree – heerlik. Op Burgersdorp is daar ‘n nagwaak vir ‘n jong sportster, kerse word gebrand. 

Ons gaan bekyk ‘n Britse Blokhuis – dit moes onaangenaam gewees het om daar te bly en verg.  Die dorp is skoon en mooi – ‘n heerlike verrassing. 

Volgende stop in PE, Ocean View – daar huur ons ‘n huis vir die aand.

Ons ry Houtkloof en Elandskloof oor na Patensie en slaap by Twee Riviere net voor die Baviaanskloof se Hek.  Vroegdag vat ons die pad om genoeg tyd te hê vir die kloof en wat ‘n belewenis was dit nie.  Van Oos na Wes is die “moeilike” en skouspelagtige stuk eerste – dis goed so, want die vrouens raak moeg geskud teen middag.  ‘n Buffel jaag ons die skrik op die lyf toe dit skielik uit die bosse se verskyning maak – Moeksie skrik so groot dat sy skoon vergeet om ‘n foto te neem.  

  


 

Etenstyd is by Smitskraal en later die aand braai by Verlorenrivier – terwyl ‘n buitengewone koel bries waai.  Dis droog in die Karoo, maar dis 'n buitengewone stuk aarde met sy eie mense wat daar bly, vasbyt en planne maak.



Uniondale verby, Prins Alfredpas, die King Edward Groot Boom en die Olifant Wandelpad
gaan verby – niks wat ek kan skry of sê maak dit moontlik om die skoonheid en almag te beskryf nie.  Op verskei plekke het ek gestaan en wonder hoe neem ek ‘n foto van wat ek sien, sodat ander dit ook kan sien, en meer as een keer het ek niks geneem nie – want dis nie moontlik nie.  
      



Ons ry na Mosselbaai en bly in die Springer Bay Eco Estate, ‘n droom wêreld op sy eie, met ‘n
strand om oor te huil.  Die weer is ons genadig en ons benut die geleentheid om die nuwe zip line te ry – briljant.  Ons proe wyn by Jakkalsvlei en ry teen die kus af – Boggomsbaai, Vleesbaai, Gouritsmond, besonders mooi maar geen eetplek naby nie.  Mens moet eet!

Die Montagupas stel nie teleur nie en die absolute presisie van Thomas Bains en sy pad/pas bouers word meer as gereeld tentoon gestel – daar is te veel om in te neem en op fotos vas te lê.  Ons kry verskeie fietsryers op die pad – aan die onderkant manhaftig en vol glimlagte, maar verder boontoe is daar geen oogkontak nie en lippe is dun getrek van determinasie.  Ek vermoed dis makliker met die trokkie.

Op Oudtshoorn eet ons roosterkoek ontbyt en verwonder ons aan die versameling motors en motorfietse by die Smitswinkel Farmstall.  Dan, die Swartbergpas in al sy glorie, waaruit ons afdraai na die Gamkaskloof of Die Hel. 

Die pad Hel toe is vrot – uitgespoel, maar stel nie teleur aan skoonheid nie.  Onder in die vallei is daar spookbeelde van die November 2019 brand – swart stompe wat ten hemele skree, maar die groen is besig om die veld terug te wen.


Ons slaap vanaand in een van die Cordiers se huisies, afgesonder in die kloof.  Terwyl ons om die vuur kuier laat ‘n Tampan sy merke orals oor my bene.   Dis doodstil in die kloof met net die stroompie wat langs die huisie verby kabbel, wat ‘n geluid maak.  Ek wonder of die Cordiers ook gedink het dis hemel op aarde.
Vroegdag uit die koof uit, af teen die Swartbergpas rigting Prins Albert – die pas stel weereens nie teleur nie en die rotsmassas vertel hulle eie storie.  Huistoegaantyd.  


  


Ons sluit die roete af by Waschbank langs die Gariep, en net voor ons die laaste stuk teer
kafdraf rigting Centurion, groet die son ons oor die Gariep.

Ons land is besonders. Verruklik. Mooi.  O ja, die Freelander kan.  Verseker.

MooiLoop – tot volgende keer.


Monday, December 21, 2020

Sederberge - Rooibos Heritage Route, Wupperthal en die Stadsaalgrotte

Wanneer jy besef dat die reis net so belangrik is as die bestemming, dis dan waar jou oë vir die ruwe en asemrowende skoonheid van ons land oopgaan.  Wanneer jy wonder watter ander pad daar is as ‘n breë teerpad, dan begin jy verstaan hoe lekker dit is om padkos en koffie langs die pad te geniet, om ure te ry sonder ander voertuie in sig, en wanner jy ‘n ander reisiger sien, word die hand gelig in ‘n groet – wanneer jy reis en stop sonder beplanning, om ‘n foto te neem of om net in angstige onvermoë die landskap gade te slaan – en te weet dat ongeag watter hoek jy neem, niks vir ander kan vertel wat jy tans sien en beleef nie. 

Stofpaaie en vrotpaaie is kos vir die siel, al sorg dit soms vir ‘n knoop in die derm!  Dis die ervaringe waarvan stories en herinneringe (memories) gemaak word.

2017.  Ons reis vanaf Pretoria met ‘n wye draai na die skone Kaap en terug – hierdie keer deur die Sederberge; die berge wat hulle naam te danke het aan die Clanwilliam Sederboom, wat endemies van daardie omgewing en baie raar is. 

Van Nieuwoudtsville ry ons die Rooibos Heritage Route tot by Wupperthal en daarvandaan na die Stadsaalgrotte.  In Wupperthal ontmoed ons vir Albert, wat vir baie jare reeds die skoenfabriek bestuur, en elke dag 6 km in en uit stap – werk toe en terug.



Die Stadsaalgrotte is ‘n besonderse plek om te wees –  ‘n groep grotte wat deur gange aan mekaar verbind is, gange wat deur jare se wind en ander erosie uitgekerf is.  Buitekant flymskerp rotse, afgeëts teen die helder son en binnekant, glad.

Anders as die Boesmantekeninge wat verwag kan word, pryk daar name van mense teen die wande van die grotte, so ver terug as die 1800’s.  Nogal prominente name ook.  Ek wonder baie oor die gesegde van “gekke en dwase skryf hulle name op mure en glase (of so iets).”

Die grotte opsigself is ‘n fotograaf se droom. Buitengewone vorms, kleure en lig sal jou kreatiewe self besig hou, veral om die grotte se oranje en bruin skakerings (die werk van yster oksied) in beeld vas te vang.


        


Interresant van die Sederberge is dat dit ook plek het in die Anglo Boereoorlog, toe ‘n klein Boere Kommando daar probeer het om opstand teen die Britse regering te bewerkstellig.
  Hulle het gefaal.  Daar is egter ‘n staaltjie van ‘n Engelsman, Luitenant Clowes, wat saam met sy patrollie deur die Kommando in ‘n lokval gelei is en almal het geval.  Daar word verder vertel dat die Kommando deur ‘n enkele Engelsman  gekonfronteer is en geeis het dat hulle oorgee.  Die Boere wou nie oorgee nie en die Engelsman wou nie bes gee nie – wat tot sy dood gelei het.  Presies hoe al hierdie drade inmekaarsteek is ek nie seker nie, maar waar die Engelsman geval het, word vandag Engelsmankloof genoem.


Die Sederberge is ryk aan geskiedenis en foto oomblikke – gaan kyk self.  

Kom ry saam.

Saturday, November 28, 2020

Sesriem, Duin 45 en Sossusvlei

 

Toerismeplek; emmerskoplys bestemming; heilige plek; fotografie bestemming.  Sossusvlei, majefieke rooi duine wat uit die dorre aarde opstaan, al ‘n miljoen keer gefotografeer, en tog is die vernis nog nie eers afgekrap nie.  Afhangende van wie jy is en hoekom jy reis het Sesriem met sy rooi duine en die Dooie Vlei met sy wit klei vloer verskillende betekenisse.  

Vir baie is dit ‘n pelgrimstog, erg gefrustreerd deur malende toeriste wat net nog ‘n plek op hulle lysie wil aftik. 

Vanaf Sesriem loop die duine amper 60km weerskante van die pad, verby Duin 45 tot by die Dooie Vlei.  Die duine weerskante van die pad is “ster duine”, tot 220m hoog, wat hulle besondere vorm te danke het aan die altyd teenwoordige wind wat ewe sterk van alle rigtings af waai.  Yster oksied sorg vir die besonderse rooi kleur van die duine met swart magnetiet (magnetite) wat donker kwasstrepe daarteen maak.

  

Geen twee fotos is dieselfde nie.  Die duine speel verkleurmannetjie tussen oggend- en aandlig, en in die middag word alles oorbelig.  Vroegoggend vries jou voete in die koue sand en net ‘n knikkie later stroom die sweet teen jou gesig af wanneer jy Duin 45 se sand piek aandurf.  Duin 45, ongeveer 45 km vanaf Sesriem, is die toeriste se duin, almal wil daar op, en dis ‘n moet.  80m bo die vloer van die vallei is dit ‘n uitdaging vir enige paar bene – gaan vroeg, sit ‘n hoed op en vat water saam.  Geen terugkeer daarna laat jou onaangeraak nie.  Nie as jy jouself net ‘n oomblik se stilte, met toe oë en ‘n ligte Namib bries in die gesig toelaat nie.

Sossusvlei wat in Nama “plek waar die water bymekaarkom of doodloop” beteken, is die einde van die droeë Tsauchab Rivier, ‘n kurkdroeë wit kleipan wat net in uitsonderlike nat jare water kry.  

In die vlei poseer 900 jaar oue Kameeldoring boomstompe trots vir die volgende fotograaf om dit deel te maak van sy storie - swart gebrand deur die son, geduldig.  Probeer vir ‘n oomblik jouself afsluit van die duisende voete wat die laaste 500m vanaf die parkering loop en drink die algehele verlatenheid in; hoe sou dit wees sonder al die mense wat daar maal?


 Godgeskape.  Beeldskoon.

Kom ry saam.

Absolutegravel@gmail.com