Wat ‘n ongelooflike voorreg om
langs die see wakker te word, om die son te voel met die vars geur van see in
jou neus. Daar is geen haas nie en ons
eet ‘n ietsie – net om seker te maak die honger oorval ons nie langs die pad
nie. Die plan is eenvoudig – ons gaan ‘n
draai by die soutgat maak, ons gaan vir Retha ‘n herdenkingsteen opsit en Henties
so bietjie verken. More gaan ons Sandwich Harbour toe, dan gaan ons ‘n dag niks
doen nie – en daarna draai die neuse suid om die terugtog te begin aanpak. Maklik. Lekker.
Soutgat. Ons ry
deur Swakop na Henties toe. Stadig,
stadig. Swakop groei teen ‘n
ongelooflike tempo. By Myl 30 draai ons
af see toe en gaan soek ‘n plek om vir vir Retha 'n herdenkingsteen op te
sit. Ons was saam op skool, vriende vir
ewig, haar man is 2 jaar gelede oorlede en sy 'n paar weke gelede aan kanker. Nog nie 60 nie – dis hartseer. Die steen vind sy plek en kyk uit oor die see,
net bokant die hoogwatermerk. Dieselfde
see wat beide van hulle baie lief gehad het. Die lewe gaan aan.
Ons ry deur Henties en ek probeer
my niggie wat in Henties bly in die hande kry – maar selfone laat my in die
steek. Nog ‘n jammerte, maar die die
doelwit is om by die Soutgat uit te kom, of die Namib se eie Dooie See. So 40km Noord van Henties is daar ‘n kwarriegat
vol verskriklike soutwater – dis waar ek wil uitkom en in gaan dryf, glad mos
nou nie nodig om Israel toe te gaan vir hierdie ondervinding nie.
Ons kry dit maklik genoeg en drie
van ons is durf die water aan. Die water is groen,
lou warm en ek kan nie die bodem sien nie. Ek swem nie maklik in water waar ek nie kan
sien nie, maar enigiets wat in hierdie soutwater kan oorleef, kan my maar byt -
daai bytplek sal onmiddelig ontsmet wees.
Sonder om dramaties te raak, jy dryf nie in
die water nie, jy dryf bo-op die water. Die water druk jou letterlik uit die water
uit. Alle grense moet getoets word en ek
probeer om 'n "crunchie" te maak sodat ek kan sink, maar heelaas, ek
val net om. Dryf, dryf ek – wat ‘n
interresante ervaring. Natuurlik is die
volgende uitdaging om die soutkristalle van jou lyf af te kry voordat jy weer
aantrek, maar gelukkig het ek heelwat water saamgebring. My hoed, wat vir 'n sekonde die water geraak
het, staan nog steeds stokstyf, nes Lot se vrou.
Terug in Swakop probeer ons 'n
koffie drink by die Mohle, maar dis 17h20 en die kelner lig ons vriendelik dog
ferm in dat ons 10 minute het om koffie te bestel en te drink - 17h30 word die
deure toegetrek? Dan gaan ons maar.
Sandwich Harbour. Vandag ry
ons strand en duine, vir my die hoogtepunt van die reis - Sandwich Harbour toe,
of soos my pa-hulle gese het: Sandvishawe. Jan en Koot is ons gidse met 'n almintige Land
Cruiser 200. Ons wikkel deur die
soutwerke en blaas bande af - 1 bar. Dan
strandlangs, deur die mis – met robbe wat so hier en daar vir ons kyk. Die mis maak oop en toe, en is tegelykertyd
vreesaanjaend en betowerend.
Jan trap gou spoor die duin op en
ek is volgende - maar ek maak geen hond haar af nie. My getroue V8 gaan nêrens, dis asof ek probeer
om deur in plaas van oor die duin te ry. Probeer weer, terug, sit vas. Jan sleep my
uit. Probeer weer - iets is nie reg nie. Reg so – kom ons bepaal die oorsaak van die problem. Dan stop 'n ou groen Cruiser by my. Die legendariese Uwe Kessler klim uit wat is
sy woorde aan my? “Dis omdat jy 'n k@k kar ry en jou bande is te hard.” Nou verstaan almal. Gelukkig ken ek hom en vat dit van wie dit af
kom. Cruiser eienaars het hulle eie
probleme. Hy gee sy bandrukmeter aan my
en heelaas, my banddruk lees 1.6 bar - my meter is verkeerd. Blaas af. Blaas af. Skielik hardloop daardie trok van my teen die
duine uit soos 'n miskruier op spirits - manjefiek.
Gustav sy soos 'n professional,
maar vol adrenalien kom vra hy vir my of "ek hulle wil doodmaak". Hoekom sou ek dit wou doen? Die Amarok is 'n monster in die sand, maar
buig sy pensplaat teen 'n duin. Die vrouens ry saam met Jan in sy Cruiser - en
opsluit verloor ons ander gesig - die Cruiser ry blykbaar soos die Gautrein
teen die duine op. Lekker. Hogere slip
faces word oorgesteek en hoë duine word oorwin - lekker man, lekker. Gril lekker.
Ons sluit duine af met 'n middagete by die Walvisbaai Waterfront en
drink 'n Jaggermeister om die senuwees te kalmeer. Dit help, veral vir die dames. Dalk moes ons vir hulle al voor die tyd
ingegee het – goeie medisyne.
Daar is tyd en ek ry gou Swakop
toe om die idler pulley wat ek by LR Parts bestel het, te gaan haal. Ek vat 'n kans en ry na Venieta Motors toe,
kom 16h30 daar aan en 17h10 is die pulley op en die Amarok se pensplaat is
reguit geslaan met 'n Land Rover hammer - 'n moerse hammer, met ander woorde. Verniet. Dankie Nico en Grobbies. Ons groet dankbaar en vertrek - min het ons
geweet.
Rus dag moeilikheid. Woensdag
is rusdag - 12h00 is dit middagete saam met 'n ou vriend, maar eers gaan ons
Duin 7 om en neem 'n paar fotos. Die trok wil nie onmiddelik aanskakel nie,
maar daar gaan ons. Ons stop by die
bakkery in Swakop om broodjies te koop vir ons reis terug. Ek en Gerrit besluit om die voertuie bietjie
af te stof by 'n karwas, so die vroue gaan te voet, en sonder ons, die dorp in.
Ek vermoed dit was die leidraad
wat die trok gesoek het, niks wat ons doen kry hom aan die gang nie. Wel, Gerrit se Amarok moet maar sleepvoertuig
speel na Venieta Motors toe - en natruurlik is daar verskeie beterwetige
gesigte en glimlagte langs die pad. My
eer is nie gekrenk nie. Ondersoek word
ingestel na die "crank sensor" wat toe nie die probleem is nie - en
uiteindelik is die uitslag dat die petrolpomp se "relay" foutief
is. Die word vervang en daar gaan ons - maar nie ver nie. Weer sleep die Amarok die Trok terug - ek los
die trok daar en gaan drink 'n rustige koffie terwyl die vrouens die vellie
fabriek besoek en Gerrit sy kar laat was. Uitslag - die gronddraad van die
"relay" was foutief en die is reggestel. Dis 17h00 - na gister was hierdie maar 'n
anti-klimaks. Maar, met almal se bystand
is ons op skedule - more vat ons die pad Mariental toe.
Maar ek is nie tevrede nie, 'n
man weet mos as sy ryding nie lekker is nie .....
No comments:
Post a Comment