Sunday, April 26, 2020

Hier K@k ‘n Band, Meneer!


Desember 2015, die land is in die greep van ’n hittegolf soos min gesien.  Amper soos nou; nou hou ‘n virus ons in die huis, toe het die son ons naby ‘n lugversorger gehou, in jou huis of motor.

Ons moet Kaap toe, sien, komende vanaf die Kalahari is ‘n hittegolf nie noodwendig buite die normaal nie.  In die Coetzee’s se huis word ‘n pad selde twee keer gery – maak nie saak of die bestemming dieselfde is nie, en daar moet stofpaaie betrokke wees.  Daar is eenvoudig te veel om te sien in hierdie wonderlike land van ons.

So vat ons die pad – teer tot by Gariep, slaap by Ovison, daarvandaan allerhande agterpaaie na Prins Albert, Swartbergpas, Die Hel, Calitzdorp, Ronnie se Sekswinkel, Barrydale, kuier by my ma in Gordonsbaai, en dan slaap ons oor in die Paarl by vriende.  En dis waar die storie begin.

Sien, toe ons by die Pretorius’e aankom, in die Paarl, toe kook dit. 40 Grade plus.  Die eerste keer sit ek in die kar en wag vir die vrouens in die winkel - terwyl die enjin luier en die lugversorger loop.  Die probleem is die humiditeit – dit druk my dood, en ek begin verlang na die woestyn.  Enige toekomsdroom van Kaap toe trek verdamp net daar.  Die aand slaap ons in die plaashuis, en soos enige goeie plaashuis is die stoep toegebou – met die gevolg dat die kamers in die middel van die huis ‘n bakoond is, warm.

04H00 die volgende oggend is ons op, drink koffie en word die trok gelaai.  Die trok is ‘n ’99 V8 Discovery 2.  Ingerig vir die lang pad.  Stofpad.  Bainskloof, Ceres nog voor die petrolpompe behoorlik oop is.  Dan die R355 – een van die paaie op my om te doen lys.  Die padteken wat wys “hier hou die teer op” doem op en my hart sing – die trok is gelukkig.


So 30 km in die pad af is daar ‘n draai in die pad, met ‘n skaduboom en ‘n plek om te eet.  Belinda haal die koffie en broodjies en eetgoed uit – daar is niks soos ‘n lekker beker koffie met ‘n ietsie in die hand lang ‘n grondpad nie.  Die pad draai noord en ons is gewaarsku om nie vining te ry nie – hierdie pad vreet bande op, en dis hoeka die laaste reis wat hierdie stel bande onderneem.

So klompie grade verder op die sonmeter stop ons by ‘n Ford Ranger, wiele in die lug.  “Alles oraait? Kan ek help?”  Nee oom, reken die mater, die wielmoere het losgekom en die “studs” teen die drom afgebreek – ek kan nie help nie, maar hulle is reeds besig met ‘n plan.  Ek maak sommer dadelik seker die trok se wielmoere is vas, maar eers toe ek buite sig is van die Ranger.


Die Tankwa Padstal is toe, en ons stoot aan – Calvinia toe.  Ons slaap daar vanaand.  Iewers langs die pad is daar klipstapeltjies teen ‘n “cutting” - ons stop en voeg ons eie daartoe.  

Die vlaktes is wyd en die stilte is groot.  Die berge in die verte is verskillende skakerings van grys en blou.  Die grondpad is gryswit en reguit – die toekoms in.  As jy mooi konsentreer sal jy sulke swart en wit strepies sien – dis die dae en nagte wat aankom.  Die son brand blou-wit, die metertjie wys 42 grade.  Maar daar is geen haas nie, en ons het nog nie ‘n ander motor gesien nie – niks.  Afdraai paaie na huise of poste is so 15 – 20 km uitmekaar, en dan kan jy nie noodwendig die huis van die hoofpad af sien nie.  Afgeleë.

Ongeveer 20km voor Calvinia gaan ons deur ‘n dippie in die pad en ek voel die trok maak so lastige swaai – net soos my rugbyknie in die winter.  Ek stop en weliswaar, regs agter, pap.  Gelukkig het nie die band of die velling seergekry nie.  Die metertjie wys 44 grade – die wiel wat moet af is aan die sonkant van die trok.  Warm genoeg dat jy onder jou hoed “tan”.  Die snotproppe wou nie die gat toemaak nie.  

Twee vrouens in ‘n Isuzu kom van die dorp se kant af by ons verby – hulle praat so baie dat hulle ons nie eers sien nie; gooi stof op ons en maal verby.  Almal werk saam en sonder te veel moeite is die wiele geruil en is ons oppad. 

Dit is Saterdag knap voor 13h00 en ek het ‘n behoefte aan ‘n spaar band.  Soos ‘n herderskim duik Supa Quick op soos ons Calvinia inry, onmiddelik draai ek in.  Ek hoor of hulle die spaar vir my kan herstel – ek weet dis Saterdag maar ek moet more huistoe, motiveer ek.  Natuurlik sal hulle help.  Band af – moeilikheid, 2 groterige gate; die band kan nie herstel word nie.  Ons redekawel en uiteindelik vind 2 groot “gaters” hulle weg na die binnekant van die band – hierdie outjie reis van nou af verder op die trok se rug.

Ek verwyl my tyd deur orals in te loer en praatjies te maak.  Daar is ‘n stoor met gebruikte bande.  BF Goodridge, MAXXIS, Good Year en nog ander – maar hulle is gaar, dit lyk of hulle deur ‘n motteplaag aangeval is.  Orals gate in die loopvlak en stukke rubber weg.  Klipwêreld.  Synde ek dan nou op die drempel is van nuwe bande koop vra ek die man in die stoor of hy, met sy ervaring, enige band sou aanbeveel – hy kyk my reguit in die oë en sê; “met daardie bande wat jy het sal jy hier so 7 tot 8 papwiele ‘n jaar kry, met daardie sal jy so 3-5 papwiele ‘n jaar kry, maak nie saak nie meneer, hier kak ‘n band.”

Ek verstaan.

MooiLoop.


 

No comments:

Post a Comment