Sondagoggend. Rusdag. Dis die dag wat ons besluit om die Maluties van alle hoeke te bekyk. Die plan is om rondom Lesotho in 6 dae te ry, en omdat Covit Lesotho se grense ontoeganklik gemaak het, is die Sanipas en die Orange River Gorge uitgesluit - maar ry gaan daar gery word.
Die groep is klein, Covit het selfs hier 'n impak gehad. 08h00 word Santie se tasse gelaai en die Kraaij'e daag op. Santie gaan saam om die fotografie deel van die toer te hanteer. Ek vermoed ek gaan iets hier leer.Die teerpad na Harrismith word vinnig afgestof, maar die trok herinner my gou dat haar tande lank is. Onder die enjinkap is daar 'n geweeklaag en 'n gekners van tande. Altenator se bearing. Dis Sondag! Namiddag. Regtig! Maar geen probleem word op 'n leë maag opgelos nie. Wimpie toe, en 'n broodjie met 'n groot koffie later kry ons die Midas oop - wonderwerk. 'n Besonderse goeie dosis Q20 en Copper Slip laat die geluid bedaar, tot omtrent op die vlak van die gebrom van my maag voor Sondag middagete.
Nou moet daar stof gemaak word. Die SS1101 vanaf Harrismith na Geluksburg is 'n juweel. Die pad kronkel deur die landelike gebied, tussen huisies deur, bokke wat op die pad loop en smal enkelvoertuig bruggies wat rivierlope oorsteek. Die berge vertoon kontraste van asgebrande swart, grasgroen uitgroeisels en skakerings van blou en bruin soos die berge en valleie die verte invloei. Manjefiek.
Die pas val vinnig teen die berg af tot onder in die vallei se vloer - dis waar jy Geluksburg aantref. 'n Piepklein dorpie uit vergange se era - sommige huisies met kleurvolle potplante op 'n helder geverfde stoep.
Aandete? Die Sandford Country Hotel, gestig in 1852, het goeie kamers en 'n besonderse uitsig, maar vanaand, geen aandete nie. Ons ry na die Tower of Pizza (R74, rigting Harrismith) en word bederf met 'n gesellige ete. En 'n yskoue bier.
More gaan ons verder suid, rigting Underburg, maar eers gaan ons na die kaalvoetvrou kyk. Die bearing is nog stil. Die Q20 is gereed.
MooiLoop
No comments:
Post a Comment