Monday, December 21, 2020

Sederberge - Rooibos Heritage Route, Wupperthal en die Stadsaalgrotte

Wanneer jy besef dat die reis net so belangrik is as die bestemming, dis dan waar jou oë vir die ruwe en asemrowende skoonheid van ons land oopgaan.  Wanneer jy wonder watter ander pad daar is as ‘n breë teerpad, dan begin jy verstaan hoe lekker dit is om padkos en koffie langs die pad te geniet, om ure te ry sonder ander voertuie in sig, en wanner jy ‘n ander reisiger sien, word die hand gelig in ‘n groet – wanneer jy reis en stop sonder beplanning, om ‘n foto te neem of om net in angstige onvermoë die landskap gade te slaan – en te weet dat ongeag watter hoek jy neem, niks vir ander kan vertel wat jy tans sien en beleef nie. 

Stofpaaie en vrotpaaie is kos vir die siel, al sorg dit soms vir ‘n knoop in die derm!  Dis die ervaringe waarvan stories en herinneringe (memories) gemaak word.

2017.  Ons reis vanaf Pretoria met ‘n wye draai na die skone Kaap en terug – hierdie keer deur die Sederberge; die berge wat hulle naam te danke het aan die Clanwilliam Sederboom, wat endemies van daardie omgewing en baie raar is. 

Van Nieuwoudtsville ry ons die Rooibos Heritage Route tot by Wupperthal en daarvandaan na die Stadsaalgrotte.  In Wupperthal ontmoed ons vir Albert, wat vir baie jare reeds die skoenfabriek bestuur, en elke dag 6 km in en uit stap – werk toe en terug.



Die Stadsaalgrotte is ‘n besonderse plek om te wees –  ‘n groep grotte wat deur gange aan mekaar verbind is, gange wat deur jare se wind en ander erosie uitgekerf is.  Buitekant flymskerp rotse, afgeëts teen die helder son en binnekant, glad.

Anders as die Boesmantekeninge wat verwag kan word, pryk daar name van mense teen die wande van die grotte, so ver terug as die 1800’s.  Nogal prominente name ook.  Ek wonder baie oor die gesegde van “gekke en dwase skryf hulle name op mure en glase (of so iets).”

Die grotte opsigself is ‘n fotograaf se droom. Buitengewone vorms, kleure en lig sal jou kreatiewe self besig hou, veral om die grotte se oranje en bruin skakerings (die werk van yster oksied) in beeld vas te vang.


        


Interresant van die Sederberge is dat dit ook plek het in die Anglo Boereoorlog, toe ‘n klein Boere Kommando daar probeer het om opstand teen die Britse regering te bewerkstellig.
  Hulle het gefaal.  Daar is egter ‘n staaltjie van ‘n Engelsman, Luitenant Clowes, wat saam met sy patrollie deur die Kommando in ‘n lokval gelei is en almal het geval.  Daar word verder vertel dat die Kommando deur ‘n enkele Engelsman  gekonfronteer is en geeis het dat hulle oorgee.  Die Boere wou nie oorgee nie en die Engelsman wou nie bes gee nie – wat tot sy dood gelei het.  Presies hoe al hierdie drade inmekaarsteek is ek nie seker nie, maar waar die Engelsman geval het, word vandag Engelsmankloof genoem.


Die Sederberge is ryk aan geskiedenis en foto oomblikke – gaan kyk self.  

Kom ry saam.