Saturday, November 28, 2020

Sesriem, Duin 45 en Sossusvlei

 

Toerismeplek; emmerskoplys bestemming; heilige plek; fotografie bestemming.  Sossusvlei, majefieke rooi duine wat uit die dorre aarde opstaan, al ‘n miljoen keer gefotografeer, en tog is die vernis nog nie eers afgekrap nie.  Afhangende van wie jy is en hoekom jy reis het Sesriem met sy rooi duine en die Dooie Vlei met sy wit klei vloer verskillende betekenisse.  

Vir baie is dit ‘n pelgrimstog, erg gefrustreerd deur malende toeriste wat net nog ‘n plek op hulle lysie wil aftik. 

Vanaf Sesriem loop die duine amper 60km weerskante van die pad, verby Duin 45 tot by die Dooie Vlei.  Die duine weerskante van die pad is “ster duine”, tot 220m hoog, wat hulle besondere vorm te danke het aan die altyd teenwoordige wind wat ewe sterk van alle rigtings af waai.  Yster oksied sorg vir die besonderse rooi kleur van die duine met swart magnetiet (magnetite) wat donker kwasstrepe daarteen maak.

  

Geen twee fotos is dieselfde nie.  Die duine speel verkleurmannetjie tussen oggend- en aandlig, en in die middag word alles oorbelig.  Vroegoggend vries jou voete in die koue sand en net ‘n knikkie later stroom die sweet teen jou gesig af wanneer jy Duin 45 se sand piek aandurf.  Duin 45, ongeveer 45 km vanaf Sesriem, is die toeriste se duin, almal wil daar op, en dis ‘n moet.  80m bo die vloer van die vallei is dit ‘n uitdaging vir enige paar bene – gaan vroeg, sit ‘n hoed op en vat water saam.  Geen terugkeer daarna laat jou onaangeraak nie.  Nie as jy jouself net ‘n oomblik se stilte, met toe oë en ‘n ligte Namib bries in die gesig toelaat nie.

Sossusvlei wat in Nama “plek waar die water bymekaarkom of doodloop” beteken, is die einde van die droeë Tsauchab Rivier, ‘n kurkdroeë wit kleipan wat net in uitsonderlike nat jare water kry.  

In die vlei poseer 900 jaar oue Kameeldoring boomstompe trots vir die volgende fotograaf om dit deel te maak van sy storie - swart gebrand deur die son, geduldig.  Probeer vir ‘n oomblik jouself afsluit van die duisende voete wat die laaste 500m vanaf die parkering loop en drink die algehele verlatenheid in; hoe sou dit wees sonder al die mense wat daar maal?


 Godgeskape.  Beeldskoon.

Kom ry saam.

Absolutegravel@gmail.com

No comments:

Post a Comment