Die son steek sy kop uit oor die Vrystaatse vlakte en kondig so die laaste dag van ons reis aan. Terwyl ons na die RSG luister om te hoor wat in Senekal aangaan, drink ons koffie en eet 'n beskuitjie. Ons is maar almal bekommerd.
Ons stop by die Surrender Hill Gedenksteen. Die plek het besonderse betekenis in ons geskiedenis. Dis hier waar 4300 boere aan die Engelse oorgegee het, nadat slegs 2000 saam met Generaal de Wet ontsnap het. Hierna het die gevegstaktieke van die boere begin oorleun na guerilla oorlogvoering. Dis 'n jammerte dat daar mense is wat geen respek vir geskiedenis het nie - die gedenksteen is gesteel.
In Clarens is die vrouens in hulle noppies. Dit lyk darem of besigheid begin oplewe. Ons verkyk ons aan die mense dan eet ons 'n laaste aandete by Clementines. Puik.
En so sluit ons die laaste aand van ons reis af. Vreetsaam. Ons bespreek die roete en slaapplekke - ek neem kennis vir die volgende toer. Die lewe is soms gekompliseerd, baie keer as gevolg van die besluite wat ons maak - maar dis nog steeds goed. More is ons weer almal tuis - elke perd in sy eie stal.Ek bedink die roete en dit wat ons beleef het. Die wonderskoon en avontuur is beskikbaar vir elkeen, ons moet net bereid wees om dit te gaan soek. Ky kan of na een plek toe gaan en alles daar beleef, of jy kan kan jou rybroek aantrek en gaan soek. Ons mooi is orals, maar die kilometers is baie.
Dankie aan my reismaats, ons maak weer so. Hier is nog so 'n paar onthou fotos.
Tot volgende keer. MooiLoop.
No comments:
Post a Comment