Thursday, December 19, 2019

Die Pad Noord – Aus, Luderitz en die Outpost (#5)

Visrivier Canyon

Vandag is ‘n lang trek, maar voordat ons verder Noord beur, moet ons eers weer 'n draai maak by die Visrivier Canyon se uitkykpunt, ons het mos betaal vir 'n permit wat 24 uur geldig is.  Uitstekende idee - dis baie stiller en die mense wat daar is, is meer respekvol teenoor die groot natuurwonder.  Die son kom op die regte op en fotos word geneem.  Ek knoop 'n geselsie aan met Vivian - hy is 'n toeroperateur wat (volgens hom) 'n klomp oumense rondry – wil hom eers ‘n klap gee want die mense in sy bus is net knap ouer as ons.  Knopkop.  Hy ry Canyon toe omtrent 15 keer elke jaar. Ons eet gisteraand se koue vleis en spoel dit af met vars, warm koffie, terwyl ons die omvang van die canyon bewonder.  Selfs die toilette het 'n uitsig oor die canyon.

Holoog Kalk Oond



Ons stop by Holoog, wat lank terug 'n spoorweg stasie was vanwaar die Duitsers kalk gebrand en uitgevoer  het.  Die oond is nog daar en so ook die grafte van twee Duitse soldate wat nooit huistoe gegaan het nie.  







Ons val in die pad en draai in by die Canyon Roadhouse Lodge – definitief ‘n besoek werd.  Die dames koop SIM kaarte, want daar moet gepraat kan word.  Dis egter nie so maklik om die spul op te stel nie en Gerrit word die tegnologie held van die dag - die moeders is gelukkig want hulle fone werk en daar kan met die spruite gekommunikeer word. 















Leon is nie bekommerd oor SIM kaarte nie - hy gesels sommer met almal wat lyk of hulle lus het vir gesels.  Daar is duisende foto's om te neem, wat 'n aangename plek en ons spandeer heeltemal te veel tyd daar.                       
         
      


 Die fokus is nou Aus want ons slaap vanaand daar, maar eers moet ons Seeheim verby.  Ek was laas as kind daar.  Die GPS en die kaart verskil met mekaar oor die beste pad na Seeheim en amper bevind ons ons op 'n pad wat lankal nie meer onderhou word nie – daar is gelukkig geen eer om te verloor nie, so ons draai om en vind die beter pad.  Daar is nie brandstof op Seeheim nie en 60 km voor Aus moet die Jerrykan se inhoud die holte in die Land Rover se tenk vul.

By Aus aangekom besluit on sons is moeg gery en gaan daarom vanaand by die Bahnhof Hotel eet.  'n Uitstekende besluit en ons maak vir ‘n vroeë aand – more gaan ons Luderitz besoek.

Vroegmore pak ons die pad Luderitz toe aan, daar moet fotos geneem word by Kolmans kop.  Die wind waai ons tot in Kolmanskop, maar toe ons daar uitklim is die wind stil - 'n heerlike dag.  Omdat ek alleen rondloop praat die plek met my - die Duitsers het darem 'n vermoë om iets uit niks te skep, dit moes 'n besonderse plek gewees het.

                           
                               
                         





     


                                       

 In Luderitz voed ons die hongeriges by die Diaz Koffiewinkel waar almal 'n monster hamburger eet - met gekrummelse hoender of calamari.  Tilla, die eienares is 'n besige bytjie en baie trots op haar plek - goeie kos, goeie prys, maak gerus 'n draai daar.
 










Ons draai terug Aus toe en neem nog ‘n paar fotos langs die pad en gaan maak 'n draai by die Oorlogbegraafplaas en die Krygsgevangenekamp net buite Aus.  Ek kan my net indink hoe swaar daardie mense moes kry - daardie plek is koud.  Om die koue te ontsnap het die gevangenes ingegrou, en dis die klipstrukture wat nog daar rondstaan - maar min mense gee om oor geskiedenis.


                                  





Outpost toe.  Vandag is die pad lank - D707, Duwiseb Castle (Maj van Wolf se blyplek), oor Betta, 
Maltahohe tot by Ababis Lodge se Outpost. 


   

Voor sonop is ons al aan die gang.  Langs die pad maak ons 'n noodstop by die Tirool Kampterrein - daar moet toiletbesoek gedoen word. Hermien die plaasvrou stap ons tegemoed en sluit die ablusies oop.  Ons gesels oor die droogte en die uitdagings wat hulle het - almal voel verlig en toe ek 'n foto van haar wil neem lyk dit of sy 'n slang gesien het, sy verdwyn in die huis in en ons reis verder Noord.


Maltahohe is die volgende kol op die kaart.  Ons stop op Betta en ry by Maltahohe verby, tot die vrouens se frustrasie - hulle wou gaan kyk hoe lyk die dorp.

Maltahohe hou nie noodwendig goeie herinneringe vir my in nie.  Terugflits na die vroeë 1970's en Laerskool Kalkrand - 29 kinders in die hele skool.  Ons is arm en kan nie elke naweek huistoe nie. 'n Maatjie nooi my saam na hulle plaas toe by Maltahohe.  Vrydagaand speel die familie Monopolie en ek verloor alles, tot my waardigheid.  Die volgende dag gaan ons perdry, nie noodwendig iets waarmee ek vertroud is nie – alhoewel dit baie lekker was eindig ek blikners op en kan Sondag amper nie loop nie.  Niks hiervan was snaaks nie.  Maar nou ja.

Ons verloor die kleinspan - hulle kry 'n papwiel in die berge en ons kan nie die radio hoor nie.  Ons draai om en kry hulle net toe Gustav die laaste boute vasdraai.  Nou na die Outpost - en wat 'n plek is dit nie.  Drie huise op 'n koppie langs 'n droeë rivierloop, met baie glas in die rigting van sonopkoms, absoluut buitengewoon.  Hier maak ons die pap band reg en steek die vuur aan, ons bly twee aande hier en gaan in en uit ry na Sesriem.



My trok het 'n nare skreeugeluid voor iewers by die enjin - dit klink soos die "idler pulley" wat besig is om uit te klaar.   Wel, ons is ver van die beskawing af en draai moet die “pulley” draai, so ek dokter die met 'n goeie dosis Q20.  Sal maar sien wat gebeur.

Wednesday, December 11, 2019

Wilhelminas tot by die Mountain Camp (#4)

Vroegoggend, die voertuie is gepak, die sleutels word afgegee by die kantoor en dan staan ons in die ry om die Oranje oor te steek. Met die pont. Die voertuie word opgetrek, twee op 'n slag - dit is 'n ervaring op sy eie.  Die water is heeltemal ten aby aan my trok se wiele.  Die manne wat die pont hanteer weet wat hulle doen en in 'n oogwink is ons aan die Namibiese kant.





By die grenspos word ons vriendelik ontvang en die Namibiers kyk ons voertuie deeglik deur.  Ek maak die paneelkassie oop en die beampte wil weet wat is daai - Wilhelminas - my voorkeur pepperminte, vanuit Holland.  Die maak 'n wit poeier van al die skud - hy frons.  Ek bied hom een aan en sit self een in my mond, hy waai my tevrede aan.





Nou is dit rigting noord, maar eers ry ons swaai-swaai al langs die Oranje en  menige geleentehede vir fotos word aangebied, net om gemis te word omdat ek net nog so bietjie vorentoe wil ry.  Ons maak voete nat in die rivier en ry tot ons Aushenkehr, 'n groen oase in die woestyn.

En die wind waai onaangenaam hard.  




Ons draai links, noord, en die landskappe speel 'n dramatiese spel van vorm en kleur.  Verrasende opeenvolging van berge, klip koppe en vlaktes - waar daar gras kan staan wanneer dit reën. Maar dit is nou baie droog.  Die voertuie trek stofstrepe soos ons voortbeur – en die Baster Kokerbome kyk ons toe.




Ai-ais, oase in die woestyn en eindpunt van die dapperes wat die Visrivier Canyon stap.  Ons draai in en besoek die winkel, eet 'n ys-lollie en was ons gesigte by die swembad.  Die water is louwarm en ek vermoed die son het sy handbriek op – dit staan doodstil reg bo ons.  In die kamparea is daar twee paartjies wat kamp, en die een vrou is besig om in leer te verander; die son is genadeloos, die manne drink bier.  Errol is een van die wagte by die hoofhek en is baie dankbaar vir die Afrikaanse Bybels wat ek vir hom gee - hy gaan dadelik sy naam voorin skryf.

Ons gaan saal af by die Mountain Camp, 6 km van nêrens.  Dit lyk soos ‘n plaasopstal wat in ‘n hol vierkant gebou is met ‘n gesamentlike kombuis en braai area.  Die braai kyk uit oor die dorre Namib vlakte, agter ons is klipkoppe, vanwaar jy kilometres die toekoms in kan sien.  


'n Groot boom staan tussen die voete van twee swart gebrande klip koppe - 'n tikkie groen teen die swart klip - visuele towerkrag.  Dit is ‘n besonderse plek, veral as jy van afsondering hou.








Ons ry na die uitkykpunt van die Visrivier Canyon met die plan om sononder fotos van die Canyon te neem.  Ons is egter nie die enigste wat daardie plan het nie.  Die pad daarheen is verskriklik uitgetrap deur die massas toeriste en trokke wat daarheen beweeg en die hoof uitkykpunt lyk soos 'n piekiekplek met allerhande interresante mense wat daar rondloop, oud tot jonk, baie van hulle ingekleur soos 'n ou Huisgenoot Bollie.
Die son skyn reg in ons kameras se lense in en die kwaliteit van die fotos maak ons nie opgewonde nie – ons besluit om die aftog te blaas, voordat ons in die toeristebusse se stof moet ry. 


Terug by die Mountain Camp pak ons 'n vuurtjie en braai 'n vleisie - 'n uitstekende afsluiting vir 'n lang dag.  Ons gaan definitief weer more probeer om fotos van die Canyon te neem.  Maar eers roep skoon beddegoed ons.


Saturday, December 7, 2019

Richtersveld Park / Sendelings Drif (#3)


Die wind is stiller vanoggend en in die plek van golwe maak die wind speel-speel patrone op die water. Dit fluister deur die bome vir ons - gister was sy kwaad.  Vandag gaan ons die Park verken - en ons gaan foto's neem soos ons aangaan, soos en wanneer die wind ons toelaat.





Ons ry slinger-slinger met die smal grondpaadjie, deur die Halfmenspas oor klipharde, barre droë aarde. Die paadjie is met moeite deur die droeë rivierloop oopgebaklei – net wyd genoeg vir een voertuig op ‘n slag. As daar ‘n voertuig van voor af kom, moet een aftrek sodat die ander eers kan verby.  En soos altyd is daar ‘n mamparra op die pad, hierdie keer ‘n GP in ‘n Unimog Kampeerwa – ek vermoed hy het gedink hy is op die Hakskeenpan, besig met ’n landspoed rekord. Knopkop.


Ons stop by die Hand van God. Die plaaslike bewoners glo dat God sy hand hier op die rotse geruk het - hier by ons, suid van die Oranje Rivier.


Die volgende stop is by 'n Nama hut - dis onbewoon.  God's verlate.   Neffens die hut is daar bewyse van 'n kraal waar kleinvee gestaan het, die kraal is omtrent 10m by 10m met ‘n dik laag bok en skaap mis.  Daar was lewe, maar ek weet nie hoe lank terug nie. Ek verwonder my daaraan dat mens en dier hier kan bly, met geen water in sig nie. Met die wind wat onaangenaam hard waai.


Ons draai af na Potjiespram.  Teen die Oranjerivier is daar nog onbewoonde Nama hutte, maar hierdie hutte het 'n spog uitsig oor die Oranjerievier.  Die hutte het verskeie verbruikersitems in, asof die mense terstond gaan terugkom.  Ongeag die feit dat ons teen die rivier staan met ons voete in die koue water, is ons steeds bewus dat dit baie droog is – hier groei niks amper ‘n meter hoog.



Voort tot by Potjiespram se kampeerterrein en ons verwonder ons aan die manne wat met hulle "boogie boards" afstap rivier toe; ek wonder hoe ver hulle rivieraf gaan swem. Ek weet darem nie – ek het juis vanoogend ‘n enorme “skaduwee” in die water gesien.

Terug by Sendelingsdrif maak ek my hoenderpotjie en daar word gesmul.  

Sononder ry 'n paar van ons weer die Park in om fotos te neem.  Die wind het gaan lê en ons word bederf met trotse Baster Kokerbome wat oor die vlaktes kyk, Halfmense wat wag hou en 'n besonderse sonsondergang in skakerings van grys, swart en blou.  

Jy sal self moet gaan beleef – hierdie is meer as sien – dis beleef.

More beweeg ons aan, bestemming Canyon Lodge, Mountain Camp - noord, oor die Oranje, met die pont.







Wednesday, December 4, 2019

Spookstories (#2)


Springbok, Kleinsee, Port Nolloth, Alexanderbaai, Sendelingsdrif.
Vroeg op - die kilometers is nie te veel nie, maar na die spookstorie oor die toestand van die pad, weet ons nie hoe lank ons gaan ry nie. 

Ek het vergeet dat die son 40 minute later in die Kaap opkom as in Gauteng .... die dat ons die motors pak terwyl dit nog donker is.  Die gesamentlike kombuis is gesluit en my ysblokke is in die vrieskas ... toe klop ek maar een van die gaste op om oop te sluit. Jammer hoor. Regtig, maar 'n man moet doen wat 'n man moet doen.

Cynthia vertel ons dat sy en Gert gisteraand 'n besoeker gehad het .... in die enigste kamer met 'n dubbelbed.  Sy vertel dat daar gisteraand nog 'n vrou in hulle bed was.  'n Ouerige dame, baie mooi opgemaak en netjies, het tussen haar en Gert gelê en boeklees, en as Cynthia omdraai dan kyk die ou tannie vir haar.  Gert weet van niks.  Belinda sê vir Cynthia sy moet asseblief net die tannie hier los, daar is nie vir haar ook plek nie .....

Ons vat die pad.  die eerste stuk is teer en dan kom die bordjie wat my opgewonde maak - daardie ene wat wys die teerpad is nou klaar en grondpad begin nou.  Die pad is toe gladnie so vrot soos beweer nie - hier en daar uitgetrap, maar ons ry goed.

Kleinsee - kusdorpie, ons vind die strand.  Die wind begin weer waai en die water is besonders koud - ons het die Atlantiese Oseaan gehaal en ons gaan die met gepynigde, blou-van-die-koue, tone vier.  Ek knoop 'n gesprek aan met twee "locals", hule gee nie name nie.  Die ene is 'n rasta wat sy dreadlocks al 14 jaar groei, die ander ene mis 'n paar tande, maar glimlag breed.  Ek vra waarmee hulle hulself besig hou – “hoofbesigheid in die dorp is maar diamante en kreef, my lanie”.  Ek vra uit na 'n paar diamante en hou my hand uit - nee sê die manne, dit werk nie so nie!  Kreef dan - nog nie uitgehaal vanoggend nie.  Ek wonder.

Grondpad na Port Nolloth - die pad is nie te erg nie en Leon se X Trail maal aan.  Min het ons geweet wat wag.  Dis Sondag en die plek is morsdood, behalwe teen die see is daar so ietwat lewe.  Die plaaslike mampara met sy warmgemaakte Datsun dreun rook rook daar rond.  Dis tyd om 'n hol kol te vul, en Vespetti is oop, ons val in en word gewaarsku dat alle voedsel vars voorberei word - niks voorafvoorbereide disse nie. Ons wag 2 ure vir ons bestelling, maar dit smaak besonders.  O ja, moet net nie 'n verkeerde bestelling terugstuur nie.

Nou is dit die pad Alexanderbaai toe.  Die plek het agteruitgegaan. Die klubhuis op die golfbaan se dak het 'n gat in - diewe.  Die see kan in die verte gesien word, en perde wei op die "greens". 
Die vrouens rapporteer dat daar nood is - maar nêrens is daar 'n publieke fasiliteit te vinde nie.  Ons sien een van die huisies se deur is oop en dit lyk of daar lewe is - die vrouens klop aan en Meidjie maak oop.  Sonder om te huiwer jaag sy almal in die huis uit - hier is gaste sê sy - en die vrouens in ons lewens slaak 'n sug van verligting.  Almal se baie dankie en Meidjie glimlag van oor tot oor.  Gewone mense wat ander gewone mense (in nood) help. 
En die wind waai ons flenters.

Ons loop 'n bietjie laat as gevolg van ons uitgerekte ete in Port Nolloth maar ons durf die pad na Sendelingdrif aan met nuwe krag.  Die dag se einde is in sig, of so het ons gedink.  Die grondpad Sendelingsdrif toe wissel van mooi tot sinkplaat kwadraat - en die wind waai ons moedeloos.  Op sommige plekke verloor jy sig van die pad en fotos neem is bykans onmoontlik. Dis erg.




Ons bereik die Park se hek net betyds en word verras met puik huisies op die oewer van die Oranje Rivier - terwyl die lug wit is van die stof. 
Ons pak af en kyk of daar skade is - die Amarok se bak is gladnie stofdig nie, en my yskas het uit sy hegpunte geskud - gelukkig geen skade nie.  Ons steek die vuur aan en die son verdwyn oor 'n stowwerige horison - 'n vuilwit bal. 








More gaan ons in die Park in en 'n hoenderpotjie is bestel vir aandete.






Ons mik moeg bed en net voor ek aan die slaap raak is daar iemand by die deur.  My armhare spring regop - het die antie saamgery vanaf Springbok?!  
Ek staan op om my vrou te beskerm in die aangesig van die vyand, kyk deur die deur se venster ... maar dis die deur, die wind en die sleutel in die slot wat saamwerk om met my brein gek te skeer.
Bleddie spookstories. Toe slaap ek - morsdood.







Monday, December 2, 2019

Namibia 2019 - Mostert na die Maal (#1)

Mostert na die maal is wanneer iemand iets doen nadat die rede daarvoor reeds verby is. Dis wat hierdie reeks is - ons was reeds Namibia toe, ons is reeds terug, maar die trip lewe nog steeds in my gedagtes en siel .... en daarom gaan ek dit vertel asof ons dit nou doen. Want ek doen - met elke letter wat getik word, word elke kilometer, sonsopkoms en sonsondergang herleef. Elkeen. En tog is daar geen manier om in woorde uit te druk wat in die gees afspeel nie. Maar ek gaan probeer.

Ek het nog nie regtig gehoor van iemand wat nie Namibia toe wil gaan nie - en ons (ek en Moeksie - aka my vrou, Belinda) laat nie maklik 'n kans verbygaan om rigting noord te vat nie. Na maande se beplanning breek die tyd aan, die laaste week van September - tyd om te ry. Stof te proe.  Stilte te ervaar.  Vrede te beleef. Sinkplaatstofpad te ry ..... 16 Dae.

Ons gaan vier motors wees, 9 mense.  My trok, 'n 1999 Discovery 2 (V8), Gert se splinternuwe VW Amarok V6 met 1500km op, Leon se X Trail en Gustav se Discovery 3. Maar Vrydagoggend is dit net ek en Gert in die konvooi – ons slaap vanaand op Red Sands, knap anderkant Kuruman; die span kry mekaar Saterdagaand in Springbok.


Sannieshof verby. Ventersdorp – dis tyd vir 'n Wimpy koffie, jy kan tog nie die langpad vat sonder 'n Wimpy koffie nie. Die vyand slaan toe, Cynthia se selfoon kry voete. Bummer.
Red Sands - wat 'n mooi plek in die barre landskap.  Ons vermy die dorp gedeelte van Kuruman omdat ons gewaarsku is oor ons veiligheid daar.  Min het ons geweet.


Saterdagoggend - ons is oppad om ontbyt te gaan eet toe Gustav bel - die Discovery 3 mors diesel.  Hy staan op Vryburg, dis nog vroeg en hy sukkel om iemand te kry om te help;  hy kom reg - dit was "net" 'n koppeling wat losgekom het. Vasgemaak en skoongemaak - hulle is oppad. Sjoe. Springbok is nog ver.














Pienk Padstal. Upington.  Pofadder - ons neem fotos voor die Pofadder Hotel; Gert en Cynthia om vir die kinders te sê hulle was daar, en ek om 'n belofte wat in 1981 gemaak is, na te kom.  Dit was 'n belofte aan 'n diensplig vriend waar ek onderneem het om eendag 'n draai in Pofadder te maak - hy is nie meer daar nie.  Tyd vlieg.


Die laaste skof na Springbok raak ongemaklik, die wind waai ons stukkend - kopwind.  Die landskap wissel van rooi sand na hope klip, Versamelvoëlneste, doloriet rotse wat opgebreek is deur wind en weer.  En die wind waai.

Dis namiddag in Springbok en koud - baadjies aan.  Winkels toe, moet gou water en die uitstaande voorraad aankoop.  Moeksie konsentreer nie en lees haar PIN drie keer reg in - verkeerde kaart - kaart geblok! Plastiek is toe nie geduldig nie.

Geen probleem - nou gaan ons braai.  Leon en Hettie is reeds by die gastehuis en het oopgessluit.  Hy verduidelik dat hy homself met net twee biere gerantsoeneer het want hy bestuur more. Verantwoordelik.  Verdere verduideliking helder die rantsoen meer op - dit het niks met die alkohol te doen nie. Met meer as twee biere moet hy te veel deur die nag opstaan en dan is hy moeg die volgende dag. Sien. Logies.

Ek gaan loop 'n draai en neem die mooiste fotos van Baster Kokerbome.
Ek vind uit by die "locals" oor die pad na Kleinsee - ek word met smaak verduidelik dat die pad flenters gery is.  Die slaggate is so groot dat een kar gaan inry sodat die volgende ene bo-oor kan gaan! Genugtig.




Die D3 span daag op, moeg gery, almal gaan slaap vroeg.
Die reis het begin!