Vroegoggend, die voertuie is gepak, die sleutels word afgegee by die kantoor en dan staan ons in die ry om die Oranje oor te steek. Met die pont. Die voertuie word opgetrek, twee op 'n slag - dit is 'n ervaring op sy eie. Die water is heeltemal ten aby aan my trok se wiele. Die manne wat die pont hanteer weet wat hulle doen en in 'n oogwink is ons aan die Namibiese kant.
By die grenspos word ons vriendelik ontvang en die Namibiers kyk ons voertuie deeglik deur. Ek maak die paneelkassie oop en die beampte wil weet wat is daai - Wilhelminas - my voorkeur pepperminte, vanuit Holland. Die maak 'n wit poeier van al die skud - hy frons. Ek bied hom een aan en sit self een in my mond, hy waai my tevrede aan.
Nou is dit rigting noord, maar eers ry ons swaai-swaai al langs die Oranje en menige geleentehede vir fotos word aangebied, net om gemis te word omdat ek net nog so bietjie vorentoe wil ry. Ons maak voete nat in die rivier en ry tot ons Aushenkehr, 'n groen oase in die woestyn.
En die wind waai onaangenaam hard.
Ons draai links, noord, en die landskappe speel 'n dramatiese spel van vorm en kleur. Verrasende opeenvolging van berge, klip koppe en vlaktes - waar daar gras kan staan wanneer dit reën. Maar dit is nou baie droog. Die voertuie trek stofstrepe soos ons voortbeur – en die Baster Kokerbome kyk ons toe.
Ai-ais, oase in die woestyn en eindpunt van die dapperes wat die Visrivier Canyon stap. Ons draai in en besoek die winkel, eet 'n ys-lollie en was ons gesigte by die swembad. Die water is louwarm en ek vermoed die son het sy handbriek op – dit staan doodstil reg bo ons. In die kamparea is daar twee paartjies wat kamp, en die een vrou is besig om in leer te verander; die son is genadeloos, die manne drink bier. Errol is een van die wagte by die hoofhek en is baie dankbaar vir die Afrikaanse Bybels wat ek vir hom gee - hy gaan dadelik sy naam voorin skryf.
Ons gaan saal af by die Mountain Camp, 6 km van nêrens. Dit lyk soos ‘n plaasopstal wat in ‘n hol vierkant gebou is met ‘n gesamentlike kombuis en braai area. Die braai kyk uit oor die dorre Namib vlakte, agter ons is klipkoppe, vanwaar jy kilometres die toekoms in kan sien.
Ons ry na die uitkykpunt van die Visrivier Canyon met die plan om sononder fotos van die Canyon te neem. Ons is egter nie die enigste wat daardie plan het nie. Die pad daarheen is verskriklik uitgetrap deur die massas toeriste en trokke wat daarheen beweeg en die hoof uitkykpunt lyk soos 'n piekiekplek met allerhande interresante mense wat daar rondloop, oud tot jonk, baie van hulle ingekleur soos 'n ou Huisgenoot Bollie.
Die son skyn reg in ons kameras se lense in en die kwaliteit van die fotos maak ons nie opgewonde nie – ons besluit om die aftog te blaas, voordat ons in die toeristebusse se stof moet ry.
No comments:
Post a Comment