Die wind is stiller vanoggend en in die plek van golwe maak die
wind speel-speel patrone op die water. Dit fluister deur die bome vir ons -
gister was sy kwaad. Vandag gaan ons die Park verken - en ons gaan foto's
neem soos ons aangaan, soos en wanneer die wind ons toelaat.
Ons ry
slinger-slinger met die smal grondpaadjie, deur die Halfmenspas oor klipharde,
barre droë aarde. Die paadjie is met moeite deur die droeë rivierloop oopgebaklei
– net wyd genoeg vir een voertuig op ‘n slag. As daar ‘n voertuig van voor af
kom, moet een aftrek sodat die ander eers kan verby. En soos altyd is daar ‘n mamparra op die pad,
hierdie keer ‘n GP in ‘n Unimog Kampeerwa – ek vermoed hy het gedink hy is op
die Hakskeenpan, besig met ’n landspoed rekord. Knopkop.
Ons stop
by die Hand van God. Die plaaslike bewoners glo dat God sy hand hier op die
rotse geruk het - hier by ons, suid van die Oranje Rivier.
Voort tot
by Potjiespram se kampeerterrein en ons verwonder ons aan die manne wat met
hulle "boogie boards" afstap rivier toe; ek wonder hoe ver hulle
rivieraf gaan swem. Ek weet darem nie – ek het juis vanoogend ‘n enorme “skaduwee”
in die water gesien.
Terug by
Sendelingsdrif maak ek my hoenderpotjie en daar word gesmul.
Sononder ry
'n paar van ons weer die Park in om fotos te neem. Die wind het gaan lê en
ons word bederf met trotse Baster Kokerbome wat oor die vlaktes kyk, Halfmense
wat wag hou en 'n besonderse sonsondergang in skakerings van grys, swart en
blou.
Jy sal self moet gaan beleef –
hierdie is meer as sien – dis beleef.
More
beweeg ons aan, bestemming Canyon Lodge, Mountain Camp - noord, oor die Oranje,
met die pont.
Dankie Johan.... fotos maak mooi groot oop as jy op dit click...Jy kan dan heen en weer scroll... Die onderste een is surreal... Daai hele wereld is eintlik n bietjie surreal...
ReplyDelete