Visrivier Canyon |
Vandag is ‘n lang trek, maar
voordat ons verder Noord beur, moet ons eers weer 'n draai maak by die
Visrivier Canyon se uitkykpunt, ons het mos betaal vir 'n permit wat 24 uur
geldig is. Uitstekende idee - dis baie
stiller en die mense wat daar is, is meer respekvol teenoor die groot
natuurwonder. Die son kom op die regte
op en fotos word geneem. Ek knoop 'n geselsie aan met
Vivian - hy is 'n toeroperateur wat (volgens hom) 'n klomp oumense rondry – wil
hom eers ‘n klap gee want die mense in sy bus is net knap ouer as ons. Knopkop.
Hy ry Canyon toe omtrent 15 keer elke jaar. Ons eet gisteraand se koue vleis
en spoel dit af met vars, warm koffie, terwyl ons die omvang van die canyon
bewonder. Selfs die toilette het 'n
uitsig oor die canyon.
Holoog Kalk Oond |
Ons stop by Holoog, wat lank terug 'n spoorweg stasie was vanwaar die Duitsers kalk gebrand en uitgevoer het. Die oond is nog daar en so ook die grafte van twee Duitse soldate wat nooit huistoe gegaan het nie.
Ons val in die pad en draai in by
die Canyon Roadhouse Lodge – definitief ‘n besoek werd. Die dames koop SIM kaarte, want daar moet
gepraat kan word. Dis egter nie so
maklik om die spul op te stel nie en Gerrit word die tegnologie held van die
dag - die moeders is gelukkig want hulle fone werk en daar kan met die spruite
gekommunikeer word.
Leon is nie bekommerd oor SIM kaarte nie - hy gesels sommer met almal wat lyk of hulle lus het vir gesels. Daar is duisende
foto's om te neem, wat 'n aangename plek en ons spandeer heeltemal te veel tyd
daar.
By Aus aangekom besluit on sons is
moeg gery en gaan daarom vanaand by die Bahnhof Hotel eet. 'n Uitstekende besluit en ons maak vir ‘n
vroeë aand – more gaan ons Luderitz besoek.
Vroegmore pak ons die pad
Luderitz toe aan, daar moet fotos geneem word by Kolmans kop. Die wind waai ons tot in Kolmanskop, maar toe
ons daar uitklim is die wind stil - 'n heerlike dag. Omdat ek alleen rondloop praat die plek met my
- die Duitsers het darem 'n vermoë om iets uit niks te skep, dit moes 'n
besonderse plek gewees het.
Outpost toe. Vandag is die pad lank - D707, Duwiseb Castle (Maj van Wolf se blyplek), oor Betta,
Maltahohe tot by Ababis Lodge se Outpost.
Voor sonop is ons al aan die gang. Langs die pad maak ons 'n noodstop by die
Tirool Kampterrein - daar moet toiletbesoek gedoen word. Hermien die plaasvrou
stap ons tegemoed en sluit die ablusies oop. Ons gesels oor die droogte en die uitdagings
wat hulle het - almal voel verlig en toe ek 'n foto van haar wil neem lyk dit
of sy 'n slang gesien het, sy verdwyn in die huis in en ons reis verder Noord.
Maltahohe is die volgende kol op
die kaart. Ons stop op Betta en ry by
Maltahohe verby, tot die vrouens se frustrasie - hulle wou gaan kyk hoe lyk die
dorp.
Maltahohe hou nie noodwendig goeie
herinneringe vir my in nie. Terugflits
na die vroeë 1970's en Laerskool Kalkrand - 29 kinders in die hele skool. Ons is arm en kan nie elke naweek huistoe nie.
'n Maatjie nooi my saam na hulle plaas toe by Maltahohe. Vrydagaand speel die familie Monopolie en ek
verloor alles, tot my waardigheid. Die
volgende dag gaan ons perdry, nie noodwendig iets waarmee ek vertroud is nie – alhoewel
dit baie lekker was eindig ek blikners op en kan Sondag amper nie loop
nie. Niks hiervan was snaaks nie. Maar nou ja.
Ons verloor die kleinspan - hulle
kry 'n papwiel in die berge en ons kan nie die radio hoor nie. Ons draai om en kry hulle net toe Gustav die
laaste boute vasdraai. Nou na die
Outpost - en wat 'n plek is dit nie. Drie huise op 'n koppie langs 'n droeë
rivierloop, met baie glas in die rigting van sonopkoms, absoluut buitengewoon. Hier maak ons die pap band reg en steek die
vuur aan, ons bly twee aande hier en gaan in en uit ry na Sesriem.
My trok het 'n nare skreeugeluid
voor iewers by die enjin - dit klink soos die "idler pulley" wat
besig is om uit te klaar. Wel, ons is ver van die beskawing af en draai
moet die “pulley” draai, so ek dokter die met 'n goeie dosis Q20. Sal maar sien wat gebeur.
No comments:
Post a Comment