Mostert na die maal is wanneer iemand iets doen nadat die rede daarvoor reeds verby is. Dis wat hierdie reeks is - ons was reeds Namibia toe, ons is reeds terug, maar die trip lewe nog steeds in my gedagtes en siel .... en daarom gaan ek dit vertel asof ons dit nou doen. Want ek doen - met elke letter wat getik word, word elke kilometer, sonsopkoms en sonsondergang herleef. Elkeen. En tog is daar geen manier om in woorde uit te druk wat in die gees afspeel nie. Maar ek gaan probeer.
Ek het nog nie regtig gehoor van iemand wat nie Namibia toe wil gaan nie - en ons (ek en Moeksie - aka my vrou, Belinda) laat nie maklik 'n kans verbygaan om rigting noord te vat nie. Na maande se beplanning breek die tyd aan, die laaste week van September - tyd om te ry. Stof te proe. Stilte te ervaar. Vrede te beleef. Sinkplaatstofpad te ry ..... 16 Dae.
Ons gaan vier motors wees, 9 mense. My trok, 'n 1999 Discovery 2 (V8), Gert se splinternuwe VW Amarok V6 met 1500km op, Leon se X Trail en Gustav se Discovery 3. Maar Vrydagoggend is dit net ek en Gert in die konvooi – ons slaap vanaand op Red Sands, knap anderkant Kuruman; die span kry mekaar Saterdagaand in Springbok.
Red Sands - wat 'n mooi plek in die barre landskap. Ons vermy die dorp gedeelte van Kuruman omdat ons gewaarsku is oor ons veiligheid daar. Min het ons geweet.
Saterdagoggend - ons is oppad om ontbyt te gaan eet toe Gustav bel - die Discovery 3 mors diesel. Hy staan op Vryburg, dis nog vroeg en hy sukkel om iemand te kry om te help; hy kom reg - dit was "net" 'n koppeling wat losgekom het. Vasgemaak en skoongemaak - hulle is oppad. Sjoe. Springbok is nog ver.
Pienk Padstal. Upington. Pofadder - ons neem fotos voor die Pofadder Hotel; Gert en Cynthia om vir die kinders te sê hulle was daar, en ek om 'n belofte wat in 1981 gemaak is, na te kom. Dit was 'n belofte aan 'n diensplig vriend waar ek onderneem het om eendag 'n draai in Pofadder te maak - hy is nie meer daar nie. Tyd vlieg.
Dis namiddag in Springbok en koud - baadjies aan. Winkels toe, moet gou water en die uitstaande voorraad aankoop. Moeksie konsentreer nie en lees haar PIN drie keer reg in - verkeerde kaart - kaart geblok! Plastiek is toe nie geduldig nie.
Geen probleem - nou gaan ons braai. Leon en Hettie is reeds by die gastehuis en het oopgessluit. Hy verduidelik dat hy homself met net twee biere gerantsoeneer het want hy bestuur more. Verantwoordelik. Verdere verduideliking helder die rantsoen meer op - dit het niks met die alkohol te doen nie. Met meer as twee biere moet hy te veel deur die nag opstaan en dan is hy moeg die volgende dag. Sien. Logies.
Ek vind uit by die "locals" oor die pad na Kleinsee - ek word met smaak verduidelik dat die pad flenters gery is. Die slaggate is so groot dat een kar gaan inry sodat die volgende ene bo-oor kan gaan! Genugtig.
Die D3 span daag op, moeg gery, almal gaan slaap vroeg.
Die reis het begin!
Sien... as ek nie rond gekrap het, sou ek die een gemis het... awesome.... ek is nou ook reg geskuif vir die reis....
ReplyDelete