Tuesday, January 14, 2020

Terugblik op die 2019 Namibia Grondpadtoer (#9)

Diegene van ons wat die voorreg het om grondpadtoere (of overlanding) te doen, weet dat dit ‘n besonders belonende (rewarding) ervaring is.  Die grootsheid van ons land en kontinent, die ekstreme kontraste en landskap verassings, die stilte van die woestyn en die lekker van ‘n stofstreep wat onder jou voertuig se wiele uitborrel, die gesprekke met “locals” en die deel van hulle stories, die samesyn van vriende en die spanwerk as daar moeilikheid kom – is maar ‘n paar van die dinge wat dit alles die moeite werd maak; of meer as die moeite werd.

Elke toer het sy unieke oomblikke en redes hoekom dit onthou sal word – en dit is tog die stoffasie van die stories wat ons nou kan deel, en more by die werk, en oormore by die rolbalklub en eendag wanneer ons op die ouetehuis se stoep sit – en as daar niemand is om jou storie en wyshede mee te deel nie, dan behoort dit nog ‘n glimlag op die gesig te bring.

Die fotos wat ons neem is die bewys van die feit dat ons lewe, ‘n erkenning van ons ervaringe en ‘n belofte van nog ‘n reis – so spoedig moontlik, want om elke draai is daar nog iets wat gesien moet word.  Om te reis is ‘n verslawing – maak nie saak waarmee of waarheen nie, dit gee jou jou eie inspuiting van “happy” hormone.

Hierdie grondpadtoer sal onthou word spesifiek as gevolg van die laaste twee dae se gespook - frustrerend maar lekker.

Die ster van die grondpadtoer was Leon en sy X Trail - buiten die "plastics" wat ek moes vasplak met duck tape het hulle alles gehanteer wat na sy kant toe gegooi was.  Al die ander voertuie het iets gehad wat aandag moes kry – die D3 het 2 padwiele gehad, my D2 se petrolpomp het die wit vlag opgesteek en Gert se Amarok het ‘n gebuigde pensplaat gehad - met die komplimente van ‘n sandduin.


 Nabetragting -
  • Daar is min dinge so mooi en bekoorlik as ‘n sonopkoms iewers in die vlaktes, langs die pad of in jou voertuig, met ‘n koppie stomende koffie in die hand nie.
  • Namibia is skoon en netjies, het omtrent nêrens papiere en gemors sien rondlê - maar baie droog. Die konsep van onderhoud en instandhouding word defenitief beter verstaan as in SA.  ‘n Voorbeeld is die aftrekplekke langs die paaie; die asdromme is skoon, die afdakke staan, die sitplekke is nie gevandaliseer nie, en ek voel veilig om daar te stop.  Wat my hart verbly het, is die "toet" van verbygaande motoriste - vriendelike mense wat waai en kyk of alles reg is.  Ons kan 'n kers gaan opsteek by die Namibiers.
  • Afrikaans is koning in Namibia.  Die hoeveelheid mense van alle geslagte, ouderdomme en kleure wat met my suiwer Afrikaans gepraat het is verstommend.
  • Die mense op die platteland is vriendelik, behulpsaam en respekvol.  Die Namibiers is veral respekvol.
  • Die petrolpomp was toe stukkend.  Een van die pype in die tenk het gebars en lug getrek - geen petrol na voor.  Die inlyn pomp het toe nie ook gebreek nie - die sigaret aansteker wat ek gebruik het om krag na die pomp te voorsien het stadig maar seker warm geword en gesmelt - geen krag na die pomp, geen petrol na die enjin.
  • Die Ai-Ais na Walvisbaai pad - ai, wat 'n gemors.  Ek kan met oortuiging se dat dit waarskynlik die swakste en mees uitgeryde grondpad is wat ek al teegekom het.  Baie goeie kompetisie is die Askam na Van Zylsrus pad in Suid-Afrika - of nee, die ZA pad is swakker, dit gaan nog mense se dood veroorsaak.
  • Die Bosua Pas se pad kort regtig aandag - dis een van die mooiste paaie wat ek al gery het, maar dit het aandag nodig.
  • Ek het skaam gekry toe ons deur Kuruman, Vryburg en Vendersdorp gery het. Die dorpe is net kort van ashope.  Dis vuil, verniel en afgetakel.  Die motorhawe in Kuruman waar ek gesukkel het om my trok weer aan die loop te kry word deur 'n wag met 'n haelgeweer opgepas - hy het die hele tyd by ons gesit.  Klaarblyklik is daardie motorhawe in sy eerste week drie keer beroof.  Dit is so erg dat die petroljoggie in die dorp ons gewaarsku het om ons deure gesluit te hou en op die uitkyk te wees van skelms wat jou met messe aanval en beroof.
  • Maar net soos die Kuruman en Vryburg erg afgetakel is, is dit ook die plekke waar engele hulle oor ons ontferm het.
  • Waar ek nou sit en skryf en boodskappe van reën in die dorre streke instroom, moet ek sê dat
    ek Namibia en die Noord-Kaap nog nooit so droog gesien het nie.  Ongeag hoe goed dit nou reën gaan dit nog ‘n jaar of 3 se goeie reën kos om die veld te herstel.
  • Al ons blyplekke was uitstekend – net een plek was sub-standaard, en toe ek daaroor kla toe word die “ons kry swaar” kaart gespeel.  Oud was nog nooit ‘n probleem nie, vuil en/of onversorg sal altyd wees.
  • Uiteindelik reis ons saam met mense - jy trek hier weg en kom terug as vriende of as vyande.  Ons trap almal spore in mekaar se lewens.


Finale gedagte - Mense wat nie lees of reis nie lewe net een lewe.  Elke boek en reis het ‘n lewe van sy eie – wat deel word van joune en jou vir ewig beinvloed.

Nou ja – MooiLoop, tot volgende keer.



Thursday, January 9, 2020

Die Pad deur die Woestyn tot by die Huis – Brandstofpompe en Engele (#8)

Bosua Pas, Bastion Farmyard tot terug in SA
Soos gewoonlik spring ons douvoordag weg - Windhoek toe, deur die Namib Naukloof Park en die Khomas Hochland.  Maak nie saak hoeveel keer ek al die pad gery het nie – dit bly spesiaal.  Deur die Namib loop die pad mooi, met ‘n misgordel wat 80km die woestyn in strek.  Geen motor in sig nie, dis net ons en die lang wit pad.




Die pad voor en na die Bosua Pas is uitgery maar ongelooflik mooi - Hettie kan nie uitgepraat raak oor die kontraste en die natuurskoon nie.  Ek wys vir die manne die “long drop” by die uitkykpunt, waar jy regtig die toekoms kan insien terwyl jy doen waarvoor die natuur jou roep.  En natuurlik is daar ‘n paar manne wat ‘n ernstige roeping ervarvaar. 



 
 Ons maak 'n draai by skoonma in Windhoek en word bederf met koek en koffie - regte Namibiese gasvryheid.  Maar ons kan nie lank bly nie, Mariental is nog ‘n ent in die pad af.  Ons vat die pad na Mariental, stop voor die Kalahari Lafenis Hotel in Kalkrand - vroeër jare was dit die Kalkrand Hotel en Pupkewitz, maar dis nie meer dieselfde nie.  Die Jongspan is reeds in Mariental en ingeboek by die Bastion Farmyard - hulle steek solank die vuur aan.  Uitstekende oornagplek.


Op Keetmanshoop maak ons die brandstoftenks propvol, ry 'n draai deur die dorp en sien 'n standbeeld wat vir skaapwagters opgerig is.  Ons kry die grondpad na Aroab - die pad is mooi en nie lank nie toe ry ons Aroab in – dis arm en stowwerig, maar met ‘n eietydse bekoring.

By die Rietfontein grenspos word ons hout, aartappels, tamaties en eiers gekonfiskeer, maar ons is terug op eie bodem.  Interresant dat die grenspos se kombuis net neffens die deurgang lê – ek vermoed hulle was lus vir “chips” en vars slaai …. maar nie voordat Leon die tamaties uit die asdrom opdiep en enetjie eet vir die pad. 

Die grondpad tussen Askam en Van Zylsrus is baie na aan die slegste pad wat ons op die hele roete gery het, met diep wit stofgate.  Die trok is nukkerig, definitief brandstof "starvation" en die krag is min - natuurlik, as jy dors het hardloop jy nie lekker nie.  Nou moet ons maar ry totdat ons gaan staan, dan maak ons ‘n plan.

Ons is vir twee nagte bespreek by Leeupan - maar ongelukkig was die blyplek nie op standaard nie, en daar word besluit dat ons die volgende (Saterdag) deurstoot huistoe.  Vir my persoonlik was dit 'n geweldige teleurstelling, maar min het ek geweet dat daar tog geluk by die ongeluk is.  Die Kalahari is egter ongelooflik mooi.



                       

 











'n Onklaar brandstofpomp en engele
Van Zylsrus
Ons groet die rooi sandduine en kameeldoringbome by ons blyplek en vat die pad na Van Zylsrus.  Petroltenks word vol gemaak en dan draai rigting Karasburg. Die grondpad droog gelukkig op en kort voor lank is ons op teer - nooit gedink ek sou dit verwelkom nie, die rooi duine met vaal gras en doringbosste flits verby.

Net voor Hothazel begin die trok weer sukkel en toe ons Kuruman haal trek ek by die eerste groot motorhawe in.  Dis tyd vir planmaak - so gaan ons nie die huis haal nie.  Ek laat die Kleinspan en Leon hulle verder ry, dis Saterdag voormiddag in Karasburg en daar is geen rede hoekom hulle moet wag nie.

Daryll en Johann
By die motorhawe staan 'n groot sekerheidswag nader - met 'n 12 boor haelgeweer oor sy skouer lyk hy nogal intimederend.  Hy pas die motorhawe op want dis al drie keer beroof, en van hy daar is - geen probleem.  Sy naam is Johann met twee n'e en hy bel onmiddelik 'n werktuigkunidge vriend - Daryll.  Tussen my, Gerrit en Daryll word 'n inlyn petrolpomp by Midas gekoop en geinstalleer - en na vele probeerslae vat ons die pad Vryburg toe.  Die uitdaging is dat dit 'n hoëdruk pomp is wat sonder die regte "fittings" in die petrollyn ingeforseer is - en lekke is verseker.

Maar - die koop van die petrolpomp is 'n storie op sy eie - dit loop so.  Na die beslut om 'n ekstra petrolpomp in te bou moet ene gekoop word, by Midas op die dorp, en tyd loop uit.  Daryll en sy vrou is voor in 'n Chico Golf en ek agterin - en maak nie saak hoe ek sit nie, my kop druk teen die dak.  Daryll reken hy is Geniel de Villiers en blits deur die dorp - wel eintlik klink dit so as gevolg van 'n tekort aan 'n agterste klankdemper - en moet konstant hard rem vir taxis en trokke en voetgangers - daar is geen reëls nie.  By Midas gekom is daar 'n keuse van twee verkeerde pompe - 'n swak ene en 'n sterk ene, dis dan die sterk ene, dankie meneer.  Maar die is 'n "fitting" wat oor 'n "banjo" bout moet kom en die het Midas nie - ek verstaan nog steeds nie wat, waar en hoe musiekinstrumente en boute met gate in enigiets met mekaar te doen het nie.
Daarom sit ons af na iewers in die onderdorp, wat lyk of ons pas Nigerië betree het - by 'n hardewarewinkel wat enigiets van 'n kopspeld tot 'n dooie polisieman verkoop, loop ons 'n bloutjie.  Langsaan is daar 'n straat werktuigkundige wat vanuit 'n vodde Navara bakkie sy besigheid bedryf - ek verstaan nou weereens die gesegde dat 'n werktuigkunidge se motor altyd stukkend is, ek dink nie daai Navara het in die afgelope jaar geroer nie, maar hy is vol gereedskap en goete.  

Daar is 'n plastiek vernouing wat uit die "banjo" bout verwyder moet word, meneer Navara probeer eers met 'n stukkie draad, toe 'n spyker en later 'n groter spyker.  Gerrit bel en vra waar is ons - ek sê staan by.  Nou vra ek of hy dalk 'n boor het - en uit die Navara se paneelkissie verskyn 'n houer met boorpunte - ons kies ene.  Het jy 'n boor - natuurlik, en die word uitgevis onder die agterste sitplek.  Kan ons boor - nie hier nie, krag is langsaan.  Ons stap na die huis langsaan, klim deur 'n hek wat lankal nie meer kan oopmaak nie, stap verby 'n konka met vuur en 'n pot bo-op met pap in, dalk was dit ontbyt.  'n Kleintjie loer vir my oor 'n snotneus, wantrouig - ek dink ook nie hulle hond was baie ingenome met my nie.  Maar daar is krag en na 'n paar probeerslae is die plastiek uit en groet ek dankbaar.  Daryll ken definitief die manne en groet geesdriftig.

Terug by die trok is daar 'n ernstige spoeg en plak operasie, en na vele spreekwoorde loop die trok.  Ons pomp bande terwyl die petrol joggie ons waarsku teen skelms wat jou helder oordag in die hoofstraat aanval - hou alles toe en wees versigtig vra hy mooi, sodat niemand kan sien nie.

Met voldoende brandstof na die enjin loop die trok asof hy pille ingekry het - maar 30km voor Vryburg radio Gert dat ek moet stop want die brandstof spuit uit.  Uit kom die sleeptou en die Navara loop voor tot in Vryburg.  Wat teleurstellend is dat niemand wat ek bel bereid is om te help nie.
Ons het nog nie die seile onder die trok ingegooi nie, toe stap 'n "local" nader, Johan - hy wil hoor of hy kan help.  Hy kan, en vir die eerste keer is ek opgewonde, want hy bel vir Mike, en Mike is nog by sy werkswinkel - Mike van Kalahari Gearbox Exchange.  Mike en Gerrit praat met mekaar in tegnies en kort voor lank het ons die regte bout om die banjo se gate toe te knyp, sonder enige petrol lekke - blessings.  Dis by 16h00 en ons is moeg - Johan se sy vrou het 'n gastehuis (die Molopo Inn), skoon en netjies.  Ons gaan bad en geniet aandete by die Spur - more (Sondag) vat ons die laaste stuk huistoe - wat 'n avontuur.

Nodeloos om te se, 6km van die huis af gaan staan die trok weer – die enjin loop droog.  Maar ons is by die huis en vir oulaas vra ek vir Gert om ons te sleep tot by die huis.  Dit maak nie saak nie. 5600km verder.  Ons is tuis.

Sunday, December 29, 2019

Soutgat, Sandvishawe en ons 1ste Moeilikheid (#7)


Wat ‘n ongelooflike voorreg om langs die see wakker te word, om die son te voel met die vars geur van see in jou neus.  Daar is geen haas nie en ons eet ‘n ietsie – net om seker te maak die honger oorval ons nie langs die pad nie.  Die plan is eenvoudig – ons gaan ‘n draai by die soutgat maak, ons gaan vir Retha ‘n herdenkingsteen opsit en Henties so bietjie verken. More gaan ons Sandwich Harbour toe, dan gaan ons ‘n dag niks doen nie – en daarna draai die neuse suid om die terugtog te begin aanpak.  Maklik. Lekker.

Soutgat.  Ons ry deur Swakop na Henties toe.  Stadig, stadig.  Swakop groei teen ‘n ongelooflike tempo.  By Myl 30 draai ons af see toe en gaan soek ‘n plek om vir vir Retha 'n herdenkingsteen op te sit.  Ons was saam op skool, vriende vir ewig, haar man is 2 jaar gelede oorlede en sy 'n paar weke gelede aan kanker.  Nog nie 60 nie – dis hartseer.  Die steen vind sy plek en kyk uit oor die see, net bokant die hoogwatermerk.  Dieselfde see wat beide van hulle baie lief gehad het. Die lewe gaan aan.

Ons ry deur Henties en ek probeer my niggie wat in Henties bly in die hande kry – maar selfone laat my in die steek.  Nog ‘n jammerte, maar die die doelwit is om by die Soutgat uit te kom, of die Namib se eie Dooie See.  So 40km Noord van Henties is daar ‘n kwarriegat vol verskriklike soutwater – dis waar ek wil uitkom en in gaan dryf, glad mos nou nie nodig om Israel toe te gaan vir hierdie ondervinding nie.


Ons kry dit maklik genoeg en drie van ons is durf die water aan.  Die water is groen, lou warm en ek kan nie die bodem sien nie.  Ek swem nie maklik in water waar ek nie kan sien nie, maar enigiets wat in hierdie soutwater kan oorleef, kan my maar byt - daai bytplek sal onmiddelig ontsmet wees. 

Sonder om dramaties te raak, jy dryf nie in die water nie, jy dryf bo-op die water.  Die water druk jou letterlik uit die water uit.  Alle grense moet getoets word en ek probeer om 'n "crunchie" te maak sodat ek kan sink, maar heelaas, ek val net om.  Dryf, dryf ek – wat ‘n interresante ervaring.  Natuurlik is die volgende uitdaging om die soutkristalle van jou lyf af te kry voordat jy weer aantrek, maar gelukkig het ek heelwat water saamgebring.  My hoed, wat vir 'n sekonde die water geraak het, staan nog steeds stokstyf, nes Lot se vrou.

Terug in Swakop probeer ons 'n koffie drink by die Mohle, maar dis 17h20 en die kelner lig ons vriendelik dog ferm in dat ons 10 minute het om koffie te bestel en te drink - 17h30 word die deure toegetrek?  Dan gaan ons maar.

Sandwich Harbour.  Vandag ry ons strand en duine, vir my die hoogtepunt van die reis - Sandwich Harbour toe, of soos my pa-hulle gese het: Sandvishawe.  Jan en Koot is ons gidse met 'n almintige Land Cruiser 200.  Ons wikkel deur die soutwerke en blaas bande af - 1 bar.  Dan strandlangs, deur die mis – met robbe wat so hier en daar vir ons kyk.  Die mis maak oop en toe, en is tegelykertyd vreesaanjaend en betowerend.

Jan trap gou spoor die duin op en ek is volgende - maar ek maak geen hond haar af nie.  My getroue V8 gaan nêrens, dis asof ek probeer om deur in plaas van oor die duin te ry.  Probeer weer, terug, sit vas. Jan sleep my uit.  Probeer weer - iets is nie reg nie.  Reg so – kom ons bepaal die oorsaak van die problem.  Dan stop 'n ou groen Cruiser by my.  Die legendariese Uwe Kessler klim uit wat is sy woorde aan my? “Dis omdat jy 'n k@k kar ry en jou bande is te hard.”  Nou verstaan almal.  Gelukkig ken ek hom en vat dit van wie dit af kom.  Cruiser eienaars het hulle eie probleme.  Hy gee sy bandrukmeter aan my en heelaas, my banddruk lees 1.6 bar - my meter is verkeerd.  Blaas af. Blaas af.  Skielik hardloop daardie trok van my teen die duine uit soos 'n miskruier op spirits - manjefiek.  
 
Gustav sy soos 'n professional, maar vol adrenalien kom vra hy vir my of "ek hulle wil doodmaak".  Hoekom sou ek dit wou doen?  Die Amarok is 'n monster in die sand, maar buig sy pensplaat teen 'n duin. Die vrouens ry saam met Jan in sy Cruiser - en opsluit verloor ons ander gesig - die Cruiser ry blykbaar soos die Gautrein teen die duine op. Lekker.  Hogere slip faces word oorgesteek en hoë duine word oorwin - lekker man, lekker.  Gril lekker.  
               
              
                 
                      
Ons sluit duine af met 'n middagete by die Walvisbaai Waterfront en drink 'n Jaggermeister om die senuwees te kalmeer.  Dit help, veral vir die dames.  Dalk moes ons vir hulle al voor die tyd ingegee het – goeie medisyne.

Daar is tyd en ek ry gou Swakop toe om die idler pulley wat ek by LR Parts bestel het, te gaan haal.  Ek vat 'n kans en ry na Venieta Motors toe, kom 16h30 daar aan en 17h10 is die pulley op en die Amarok se pensplaat is reguit geslaan met 'n Land Rover hammer - 'n moerse hammer, met ander woorde.  Verniet.  Dankie Nico en Grobbies.  Ons groet dankbaar en vertrek - min het ons geweet.

Rus dag moeilikheid.  Woensdag is rusdag - 12h00 is dit middagete saam met 'n ou vriend, maar eers gaan ons Duin 7 om en neem 'n paar fotos. Die trok wil nie onmiddelik aanskakel nie, maar daar gaan ons.  Ons stop by die bakkery in Swakop om broodjies te koop vir ons reis terug.  Ek en Gerrit besluit om die voertuie bietjie af te stof by 'n karwas, so die vroue gaan te voet, en sonder ons, die dorp in.

Ek vermoed dit was die leidraad wat die trok gesoek het, niks wat ons doen kry hom aan die gang nie. Wel, Gerrit se Amarok moet maar sleepvoertuig speel na Venieta Motors toe - en natruurlik is daar verskeie beterwetige gesigte en glimlagte langs die pad.  My eer is nie gekrenk nie.  Ondersoek word ingestel na die "crank sensor" wat toe nie die probleem is nie - en uiteindelik is die uitslag dat die petrolpomp se "relay" foutief is.  Die word vervang en daar gaan ons - maar nie ver nie.  Weer sleep die Amarok die Trok terug - ek los die trok daar en gaan drink 'n rustige koffie terwyl die vrouens die vellie fabriek besoek en Gerrit sy kar laat was.  Uitslag - die gronddraad van die "relay" was foutief en die is reggestel.  Dis 17h00 - na gister was hierdie maar 'n anti-klimaks.  Maar, met almal se bystand is ons op skedule - more vat ons die pad Mariental toe.


Maar ek is nie tevrede nie, 'n man weet mos as sy ryding nie lekker is nie .....




Monday, December 23, 2019

Duin 45, Dooie Vlei, Sesriem Canyon tot by Langstrand (#6)

Ons slaap soos konings by die “Outpost” en toe ons vroegoggend uitry, sien ons uit na ‘n uitstekende dag.  Ons kom by die hek waar ons moet uit om op die pad te klim - moeksie gaan oopsluit.  Sy kom nie reg nie – ek staan nader, nie een van die sleutels wil in een van die twee slotte pas nie.  Leon staan nader en selfs die grysheid moet wyk voor ‘n sleutel wat nie in ‘n slot wil pas nie.  Wat nou – Gustav moet vir Johannes gaan haal – hy is die plaaswerker wat ons blyplek uitsorteer.  Met ‘n groot stofwolk stop Gustav by die hek,

Johannes klim uit, nog erg deur die slaap en Klaasvakie stoffies in sy oë.  Hy stap vorentoe, neem die sleutels en sluit die hek oop – die slot sit toe al die tyd aan die anderkant van die paal ………… nou ja..   Nou is ons nie meer so vroeg nie.
Ek het 'n vriend wat graag praat van "horrible" as iets regtig uitsonderlik sleg is.  Nou ja, die pad Sesriem toe is "horrible" verby. Dis by plekke seker 50 meter wyd getrap, en maak nie saak hoe of waar jy ry nie – in die spoor, oor die spoor, eie spoor, vining, stadig - die motors kry 'n verskriklike pak slae en jou stopsels skud los. Daar is geen geleentheid om te ontspan en die omgewing in te drink nie – jou aandag is 100% ingestel om die stukkie pad te soek en die regte spoed te kry wat jou vir ‘n oomblik kan laat ontspan.  Maar niks van daardie aard nie, horrible, horrible, horrible -  en daar kry die D3 sy tweede papwiel, dieselfde band, net nadat ons 'n Renault Duster verbygesteek het.  En daar staan ons, besig om die band om te ruil – terwyl die gryskop tannie by ons verbykruie – met haar Duster.
Die gedagte was dat ons lekker vroeg by die ingang sal wees, sodat die son ons nie op die duine vang nie - maar dit help nie, die son het sy handbriek al vroegmore op.  Die kantoortjie by die ingang in maar knap en verskeie toeriste staan tou om te betaal - vir 'n slag betaal ons minder omdat ons van hier rond is.
Duin 45. Wat 'n majestieuse skepping.  Al wat 'n toeris is wil daar op, ons ook. Daar is 'n groepie jong meisies van (ek vermoed) China wat met allerhande vreemde klere op die duin poseer, en giggel. Dan is daar die Duitsers met hulle safari klere en hoede - reg vir die woestery - hulle maal ten volle gekleed teen die duin uit.  Daar is ook die plakkie en kouse brigade - maar almal is oppad na bo.

  Belinda en Hettie span saam en oorwin die grootste kruin van die duin, en terwyl hulle asem skep stoom Leon verder aan - almal op 'n missie. Hettie se pasaangeeër bid vir halftyd.  Die uitsig beloon jou poging - niks wat jy sê kan verduidelik wat jy sien en hoe dit jou laat voel nie. 

Die kleinspan (Gustav, Lientjie en Annelies) spring op en af en hardloop van die duin af - ek vat 'n baie meer besadige en waardige tempo teen die duin af.  Ek het mos al hierdie gedoen.  Onder by die motors word 'n vinnige koffie gedrink en ons word verras met 'n buitelandse paartjie wat langs hulle motor verklee.  Geen probleem - ook nie vir die wat dit raaksien nie.

Die Dooie Vlei is altyd 'n besoek werd.  Die bordjies wat die vlei aandui is toegespoel, tekened van dit wat water in die woestyn kan doen.  Ons skuil onder die bome by die “ingang - daar kry ons mense van Spanje en 'n toergids met 'n groepie Franse.  Dit is seker soos Babel moes geklink het.  Dis warm en die sand is los en die "schuttles" wat mense van die teerpad na die Dooie Vlei karwy jaag teen 'n nek breek spoed oor die uitgetrapte sandpaadjies.  
                                                                                                   


Oppad terug ry ons by die Sesriem Canyon aan.  Die plek fasineer my elke keer - die erosie, die uitgetrapte canyon vloer, die spoelklippe, die lae sediment wat jare se reënval en verandering aandui, die rotsformasies wat jou bang maak omdat dit dalk op jou kan val.  Ek en Gustav gaan tot heel onder en klim oor die laaste paar rotse, tot by die laaste bietjie water wat daar is - en dis definitief nie geskik om gedrink te word nie.  Ongelooflik, dis waar water getrek is baie lank gelede, van bo af met rieme wat aan mekaar vasgebind is; oorvertelling wil dit hê dat as jy ses rieme moes gebruik om by die water te kom, dan het jy geweet dis amper klaar - en die water is van bo af geskep, omdat dit te gevaarlik was om in die canyon af te stap; skelms kon jou daar vaskeer .....

Oppad terug, weer oor die flentersgeryde pad, met toerbusse wat jou doodeenvoudig van die pad af druk, is ek beide in verwondering en gefrustreerd.  Verwondering oor ons skepping en oor dit wat ons sopas gesien en beleef het - maar uiters gefrustreerd oor die oorkommersialisering van Sesriem en die toestand van die paaie.  Daardie pad kan maar geteer word, Sesriem is lankal nie meer "off the beaten track" nie.
Die pad see toe.
Ons groet die "Outpost" teensinnig en pak die pad aan see toe. Eers ‘n vinnige stop by Solitaire vir 'n broodjie - die plek is omtrent dubbel die grote as toe ons in 2007 daar was.
Die grootste gevaar op die pad is nie net die toestand daarvan nie, maar ook die roekelose bestuurders van toer busse.  Op een stadium jaag 'n bus van "Sense of Africa" (N367 830W) twee keer by ons verby - by Gert verby terwyl daar 'n motor van voor af kom.  Ek vermoed hulle het by ons Taxidrywers geleer.  Opvallend was die hoeveelheid Dusters wat daar ry, ‘n jong paartjie in 'n Picanto wat ons verbygesteek het, en dat by baie toeriste die dames bestuur.
Maar getrou aan die Namib verras dit jou telke male met besonderse natuur tonele, konstant veranderende kleure en die effek van mis.   Ons stop by die Gramadoelas Uitkykpunt en ry verder na die Kuiseb Canyon - daar moet "duck tape" eers ingespan word om die plastiek panele van Leon se X Trail aan hom vas te plak.  Dit bevestig weereens my teorie dat Land Rover eienaars duck tape, cable ties en olie saamry sodat hulle ander reisigers kan help.

 Die pad word leefbaar toe ons onder die misgordel inbeweeg.  So 50 km voor Walvisbaai is Vogelfederberg - 'n rotsformasie uitgekerf deur wind en weer, met 'n besonderse uitsig oor die Namib.  Ons bewonder die beeldhouwerk van Moeder Natuur en ek vermoed die permanente geskud het Leon iewers langs die pad konsentrasie laat verloor - hy boet verskriklik baie punte in toe hy vir Hettie sê sy kan nie teen Vogelfederberg uit nie, "want jy kan nie loop en brei nie".
Ons kom by ons woonstelle in Langstrand aan, eet ietsie en beplan die volgende drie dae. Maar eers gaan ons 'n draai loop by die see.

Thursday, December 19, 2019

Die Pad Noord – Aus, Luderitz en die Outpost (#5)

Visrivier Canyon

Vandag is ‘n lang trek, maar voordat ons verder Noord beur, moet ons eers weer 'n draai maak by die Visrivier Canyon se uitkykpunt, ons het mos betaal vir 'n permit wat 24 uur geldig is.  Uitstekende idee - dis baie stiller en die mense wat daar is, is meer respekvol teenoor die groot natuurwonder.  Die son kom op die regte op en fotos word geneem.  Ek knoop 'n geselsie aan met Vivian - hy is 'n toeroperateur wat (volgens hom) 'n klomp oumense rondry – wil hom eers ‘n klap gee want die mense in sy bus is net knap ouer as ons.  Knopkop.  Hy ry Canyon toe omtrent 15 keer elke jaar. Ons eet gisteraand se koue vleis en spoel dit af met vars, warm koffie, terwyl ons die omvang van die canyon bewonder.  Selfs die toilette het 'n uitsig oor die canyon.

Holoog Kalk Oond



Ons stop by Holoog, wat lank terug 'n spoorweg stasie was vanwaar die Duitsers kalk gebrand en uitgevoer  het.  Die oond is nog daar en so ook die grafte van twee Duitse soldate wat nooit huistoe gegaan het nie.  







Ons val in die pad en draai in by die Canyon Roadhouse Lodge – definitief ‘n besoek werd.  Die dames koop SIM kaarte, want daar moet gepraat kan word.  Dis egter nie so maklik om die spul op te stel nie en Gerrit word die tegnologie held van die dag - die moeders is gelukkig want hulle fone werk en daar kan met die spruite gekommunikeer word. 















Leon is nie bekommerd oor SIM kaarte nie - hy gesels sommer met almal wat lyk of hulle lus het vir gesels.  Daar is duisende foto's om te neem, wat 'n aangename plek en ons spandeer heeltemal te veel tyd daar.                       
         
      


 Die fokus is nou Aus want ons slaap vanaand daar, maar eers moet ons Seeheim verby.  Ek was laas as kind daar.  Die GPS en die kaart verskil met mekaar oor die beste pad na Seeheim en amper bevind ons ons op 'n pad wat lankal nie meer onderhou word nie – daar is gelukkig geen eer om te verloor nie, so ons draai om en vind die beter pad.  Daar is nie brandstof op Seeheim nie en 60 km voor Aus moet die Jerrykan se inhoud die holte in die Land Rover se tenk vul.

By Aus aangekom besluit on sons is moeg gery en gaan daarom vanaand by die Bahnhof Hotel eet.  'n Uitstekende besluit en ons maak vir ‘n vroeë aand – more gaan ons Luderitz besoek.

Vroegmore pak ons die pad Luderitz toe aan, daar moet fotos geneem word by Kolmans kop.  Die wind waai ons tot in Kolmanskop, maar toe ons daar uitklim is die wind stil - 'n heerlike dag.  Omdat ek alleen rondloop praat die plek met my - die Duitsers het darem 'n vermoë om iets uit niks te skep, dit moes 'n besonderse plek gewees het.

                           
                               
                         





     


                                       

 In Luderitz voed ons die hongeriges by die Diaz Koffiewinkel waar almal 'n monster hamburger eet - met gekrummelse hoender of calamari.  Tilla, die eienares is 'n besige bytjie en baie trots op haar plek - goeie kos, goeie prys, maak gerus 'n draai daar.
 










Ons draai terug Aus toe en neem nog ‘n paar fotos langs die pad en gaan maak 'n draai by die Oorlogbegraafplaas en die Krygsgevangenekamp net buite Aus.  Ek kan my net indink hoe swaar daardie mense moes kry - daardie plek is koud.  Om die koue te ontsnap het die gevangenes ingegrou, en dis die klipstrukture wat nog daar rondstaan - maar min mense gee om oor geskiedenis.


                                  





Outpost toe.  Vandag is die pad lank - D707, Duwiseb Castle (Maj van Wolf se blyplek), oor Betta, 
Maltahohe tot by Ababis Lodge se Outpost. 


   

Voor sonop is ons al aan die gang.  Langs die pad maak ons 'n noodstop by die Tirool Kampterrein - daar moet toiletbesoek gedoen word. Hermien die plaasvrou stap ons tegemoed en sluit die ablusies oop.  Ons gesels oor die droogte en die uitdagings wat hulle het - almal voel verlig en toe ek 'n foto van haar wil neem lyk dit of sy 'n slang gesien het, sy verdwyn in die huis in en ons reis verder Noord.


Maltahohe is die volgende kol op die kaart.  Ons stop op Betta en ry by Maltahohe verby, tot die vrouens se frustrasie - hulle wou gaan kyk hoe lyk die dorp.

Maltahohe hou nie noodwendig goeie herinneringe vir my in nie.  Terugflits na die vroeë 1970's en Laerskool Kalkrand - 29 kinders in die hele skool.  Ons is arm en kan nie elke naweek huistoe nie. 'n Maatjie nooi my saam na hulle plaas toe by Maltahohe.  Vrydagaand speel die familie Monopolie en ek verloor alles, tot my waardigheid.  Die volgende dag gaan ons perdry, nie noodwendig iets waarmee ek vertroud is nie – alhoewel dit baie lekker was eindig ek blikners op en kan Sondag amper nie loop nie.  Niks hiervan was snaaks nie.  Maar nou ja.

Ons verloor die kleinspan - hulle kry 'n papwiel in die berge en ons kan nie die radio hoor nie.  Ons draai om en kry hulle net toe Gustav die laaste boute vasdraai.  Nou na die Outpost - en wat 'n plek is dit nie.  Drie huise op 'n koppie langs 'n droeë rivierloop, met baie glas in die rigting van sonopkoms, absoluut buitengewoon.  Hier maak ons die pap band reg en steek die vuur aan, ons bly twee aande hier en gaan in en uit ry na Sesriem.



My trok het 'n nare skreeugeluid voor iewers by die enjin - dit klink soos die "idler pulley" wat besig is om uit te klaar.   Wel, ons is ver van die beskawing af en draai moet die “pulley” draai, so ek dokter die met 'n goeie dosis Q20.  Sal maar sien wat gebeur.