Ons slaap soos konings by die “Outpost” en toe ons vroegoggend uitry, sien ons uit na ‘n uitstekende dag. Ons kom by die hek waar ons moet uit om op die pad te klim - moeksie gaan oopsluit. Sy kom nie reg nie – ek staan nader, nie een van die sleutels wil in een van die twee slotte pas nie. Leon staan nader en selfs die grysheid moet wyk voor ‘n sleutel wat nie in ‘n slot wil pas nie. Wat nou – Gustav moet vir Johannes gaan haal – hy is die plaaswerker wat ons blyplek uitsorteer. Met ‘n groot stofwolk stop Gustav by die hek,
Johannes klim uit, nog erg deur die slaap en Klaasvakie stoffies in sy oë. Hy stap vorentoe, neem die sleutels en sluit die hek oop – die slot sit toe al die tyd aan die anderkant van die paal ………… nou ja.. Nou is ons nie meer so vroeg nie.
Johannes klim uit, nog erg deur die slaap en Klaasvakie stoffies in sy oë. Hy stap vorentoe, neem die sleutels en sluit die hek oop – die slot sit toe al die tyd aan die anderkant van die paal ………… nou ja.. Nou is ons nie meer so vroeg nie.
Ek het 'n vriend wat graag praat van "horrible" as iets regtig uitsonderlik sleg is. Nou ja, die pad Sesriem toe is "horrible" verby. Dis by plekke seker 50 meter wyd getrap, en maak nie saak hoe of waar jy ry nie – in die spoor, oor die spoor, eie spoor, vining, stadig - die motors kry 'n verskriklike pak slae en jou stopsels skud los. Daar is geen geleentheid om te ontspan en die omgewing in te drink nie – jou aandag is 100% ingestel om die stukkie pad te soek en die regte spoed te kry wat jou vir ‘n oomblik kan laat ontspan. Maar niks van daardie aard nie, horrible, horrible, horrible - en daar kry die D3 sy tweede papwiel, dieselfde band, net nadat ons 'n Renault Duster verbygesteek het. En daar staan ons, besig om die band om te ruil – terwyl die gryskop tannie by ons verbykruie – met haar Duster.
Die gedagte was dat ons lekker vroeg by die ingang sal wees, sodat die son ons nie op die duine vang nie - maar dit help nie, die son het sy handbriek al vroegmore op. Die kantoortjie by die ingang in maar knap en verskeie toeriste staan tou om te betaal - vir 'n slag betaal ons minder omdat ons van hier rond is.
Duin 45. Wat 'n majestieuse skepping. Al wat 'n toeris is wil daar op, ons ook. Daar is 'n groepie jong meisies van (ek vermoed) China wat met allerhande vreemde klere op die duin poseer, en giggel. Dan is daar die Duitsers met hulle safari klere en hoede - reg vir die woestery - hulle maal ten volle gekleed teen die duin uit. Daar is ook die plakkie en kouse brigade - maar almal is oppad na bo.
Belinda en Hettie span saam en oorwin die grootste kruin van die duin, en terwyl hulle asem skep stoom Leon verder aan - almal op 'n missie. Hettie se pasaangeeër bid vir halftyd. Die uitsig beloon jou poging - niks wat jy sê kan verduidelik wat jy sien en hoe dit jou laat voel nie.
Die kleinspan (Gustav, Lientjie en Annelies) spring op en af en hardloop van die duin af - ek vat 'n baie meer besadige en waardige tempo teen die duin af. Ek het mos al hierdie gedoen. Onder by die motors word 'n vinnige koffie gedrink en ons word verras met 'n buitelandse paartjie wat langs hulle motor verklee. Geen probleem - ook nie vir die wat dit raaksien nie.
Die Dooie Vlei is altyd 'n besoek werd. Die bordjies wat die vlei aandui is toegespoel, tekened van dit wat water in die woestyn kan doen. Ons skuil onder die bome by die “ingang - daar kry ons mense van Spanje en 'n toergids met 'n groepie Franse. Dit is seker soos Babel moes geklink het. Dis warm en die sand is los en die "schuttles" wat mense van die teerpad na die Dooie Vlei karwy jaag teen 'n nek breek spoed oor die uitgetrapte sandpaadjies.
Oppad terug ry ons by die Sesriem Canyon aan. Die plek fasineer my elke keer - die erosie, die uitgetrapte canyon vloer, die spoelklippe, die lae sediment wat jare se reënval en verandering aandui, die rotsformasies wat jou bang maak omdat dit dalk op jou kan val. Ek en Gustav gaan tot heel onder en klim oor die laaste paar rotse, tot by die laaste bietjie water wat daar is - en dis definitief nie geskik om gedrink te word nie. Ongelooflik, dis waar water getrek is baie lank gelede, van bo af met rieme wat aan mekaar vasgebind is; oorvertelling wil dit hê dat as jy ses rieme moes gebruik om by die water te kom, dan het jy geweet dis amper klaar - en die water is van bo af geskep, omdat dit te gevaarlik was om in die canyon af te stap; skelms kon jou daar vaskeer .....
Oppad terug, weer oor die flentersgeryde pad, met toerbusse wat jou doodeenvoudig van die pad af druk, is ek beide in verwondering en gefrustreerd. Verwondering oor ons skepping en oor dit wat ons sopas gesien en beleef het - maar uiters gefrustreerd oor die oorkommersialisering van Sesriem en die toestand van die paaie. Daardie pad kan maar geteer word, Sesriem is lankal nie meer "off the beaten track" nie.
Die pad see toe.
Ons groet die "Outpost" teensinnig en pak die pad aan see toe. Eers ‘n vinnige stop by Solitaire vir 'n broodjie - die plek is omtrent dubbel die grote as toe ons in 2007 daar was.
Die grootste gevaar op die pad is nie net die toestand daarvan nie, maar ook die roekelose bestuurders van toer busse. Op een stadium jaag 'n bus van "Sense of Africa" (N367 830W) twee keer by ons verby - by Gert verby terwyl daar 'n motor van voor af kom. Ek vermoed hulle het by ons Taxidrywers geleer. Opvallend was die hoeveelheid Dusters wat daar ry, ‘n jong paartjie in 'n Picanto wat ons verbygesteek het, en dat by baie toeriste die dames bestuur.
Maar getrou aan die Namib verras dit jou telke male met besonderse natuur tonele, konstant veranderende kleure en die effek van mis. Ons stop by die Gramadoelas Uitkykpunt en ry verder na die Kuiseb Canyon - daar moet "duck tape" eers ingespan word om die plastiek panele van Leon se X Trail aan hom vas te plak. Dit bevestig weereens my teorie dat Land Rover eienaars duck tape, cable ties en olie saamry sodat hulle ander reisigers kan help.
Die pad word leefbaar toe ons onder die misgordel inbeweeg. So 50 km voor Walvisbaai is Vogelfederberg - 'n rotsformasie uitgekerf deur wind en weer, met 'n besonderse uitsig oor die Namib. Ons bewonder die beeldhouwerk van Moeder Natuur en ek vermoed die permanente geskud het Leon iewers langs die pad konsentrasie laat verloor - hy boet verskriklik baie punte in toe hy vir Hettie sê sy kan nie teen Vogelfederberg uit nie, "want jy kan nie loop en brei nie".
Dis n fasineerende wereld daai.... dis nie van hier nie.... die wildernis wat n bord sommerso insluk, en die woonstelblok lyk awkward in die barre wereld....ek wonder of reenval of geen reenval n verskil maak....
ReplyDelete