Tuesday, October 13, 2020

Rondom Lesotho 2020 - Mariazell Mission en "Locals"

 


Daar is min goed wat so bevredigend is as om wakker te word met stilte wat jou pla. Dis na jy gereeld gehoor het hoe Poue mekaar roep - "help, help, help". Nie seker wat hulle pla nie, maar na al die eeue roep hulle nog steeds om hulp. Langs 'n plaassdam, met stoom op - en dou op die gras. Groener as groen.



Ons pak op en eet ontbyt by die Olde Duck in Underburg. Slo, die kelner, is totaal onbewus van die feit dat hy reeds in die hemel bly - hy dink Gauteng is die plek om te wees. Ons koop water en brood by die Spar en vat die pad na Matatiele, via Bushman's Neck en Swartberg. Groot gedeeltes van die pad laat my dink dat ons ons eie Switserland het. Maar, die pad van Swartberg na Matatiele is 'n gemors. Punt. Dit breek jou kar.




Die Mariazell Mission anderkant Matatiele is 'n plek om 'n draai by te gaan maak. Pad is swak, maar gelukkig herbou hulle nou die grondpad daarheen. Die Mission is amper onwerklik - 'n Katolieke Katedraal in die middel van "nêrens". Met al die simboliek wat daarmee saamgaan.



Ek klop aan deur en Suste Winfred maak oop. Sy begelei ons deur die kerk. Ongelooflik. Sy  verduidelik geesdriftig dat Heilige Water is gewome water wat deur Priester geseën is, en waaroor gebid is. Dan word hulle besprinkel om hulle te herinner aan die doop. Sy sê "ons het nodig om herinner te word."


Oppad terug deur die Ongeluksvallei stop ons by 'n murasie met 'n uitsig. Die Afrikaner hond ignoreer ons, seker maar omdat hy kruppel is. Mathew, die oppasser, net sy informele huis agter aan die murasie gebou - die eienaar bly in Kokstad. Mathew wil weet of ons 'n dink" het.


Terug by die Resthaven in Matatiele maak ons die rygoed se tenks vol, en begin die vuur pak. Gelukkig kom Phillip, die eienaar, daar om en herinner my dat ek aandete bespreek het ..... die vrouens was beindruk met die "lamb shank en groente" (wat ons gebraai het). Goed so.

Nou is dit slaaptyd. More na Rhodes via Naude's Nek. Ons gaan beslis terugkom om saam met hom Lesotho binne te vaar, en besonderse fotos te neem. Kyk wat hang teen sy muur.



MooiLoop.


No comments:

Post a Comment