Die kilometers is min vandag, maar die tyd is lank. Ons groet vir Philìp by Resthaven met 'n belofte om weer 'n draai te maak - maar die keer om Lesotho in te gaan. Die Orange River Gorge of die Horse Shoe Gorge moet gesien word.
Ons reis deur die Ongeluksvallei, rigting Mount Fletcher. Die vallei was in die 90's een van die produktiefste in die land, maar dis opgekoop en is nou platteland met huisies en bestaansboere orals. Dis 'n mooi land, maar produksie is min en orals drentel mense rond. Dis jammer.
Ons draai af net na Mount Fletcher, regs op die D8018, nou is dit grondpad oor Naude's Nek tot in Rhodes. Die GPS waarsku "bad gravel" -maar teenstrydig met die waarskuwing is smal grondpad verfrissend en heel goed. Ons vleg deur verskeie tiepes lanskappe, sandspore, oor ontelbare laagwaterbrue, teen die hange van berge op net om anderkant weer af te gaan.Slinger, slinger oor Naude's Nek tot by die Naude' se monument. Langs die pad kry ons 'n swerm Blou Kraanvoëls, manjefiek. Vandag se belewenis was landskap op landskap, en die afsondering, en die feit dat jy 'n bees kan hoor bulk al staan jy honderde meters ver teen die hange op - so ver dat jy dis bees nie eens kan sien nie.
Rhodes is klein. Baie klein, en stowwerig. By die Inligtingkantoor koop ons 'n sak hout vir R60 - ingevoeg vanaf Barkley Wes. Niks het verander in die 4 jaar wat ons laas hierdeur is nie - maar ek hou daarvan. Rhodes Universiteit is nie op Rhodes nie.
By die Rhodes Hotel kry ons 'n man en vrou wat besig is om die land se bergpasse een vir een af te jaag, blykbaar in die rigting van 70 al. Die vrou is sterk, sy ry al oor 'n week met 'n gekneusde rib. Name gevra, nope ....
Vanaand slaap ons op Den Hagen Guest Farm, oud maar baie lekker - die koue staan op as die son sak. More tot in Ladybrand, verskeie passe om kaf te draf.
Mooiloop.
No comments:
Post a Comment