Dan, die pas. Eers niks snaaks nie, elk geval, niks wat ons nog nie van gehad het nie, en dan - sonder waarskuwing 'n paar opdraendes wat jou 'n loodsmaak in die mond gee. Steil. Skerp draaie, dan nog op - daar is selfs 'n bordjie wat jou aanraai om die revolusies op te hou, die draaie wyd te vat en met selfvertroue te bestuur. Gelukkig is daar sement gegooi anders sou daar baie onderbroeke gewees het wat in die slag gebly het.
Daar is 'n besonderse bekoring om vroeoggend iewers in die natuur te wees, en wanneer dit met afsondering gepaard gaan, dan is dit op 'n volgende vlak van geseënd wees. Blessed. Bo-op die pas sien ons Tiffendell - dis nog toe as gevolg van Covit en daarom mis ons die Ben McDui, die hoogste punt in die Kaap. Ons ry in die rigting van die Volenteershoekpas, net om begroet te word met 'n dam met die blouste water wat ek nog ooit gesien het. Blou en koud. Baie koud. Dis onwerklik blou.
Die pas is meer uitdagend as wat ek gedink het, veral die deel wat afsak na Bidstone toe.
Dele van die pad word herstel met bande waarbinne klippe gepak word - dit werk, maar dit het sy eie uitdagings. Die gradering is 3, maar ek dink dat as jy die pas andersom doen, sal dit baie moeiliker wees en nader aan 'n 2 gradering. Maar wie gee om? Die uitwerk van wielplasing, die geknars van gruis onder die wiele en die lekkerte wanneer jy anderkant uitkom, is 'n vreugde wat sommige sal verstaan. Moeksie is tevrede, want die pille wat sy drink help dat die derms nie knoop nie.

Ons ry die War Trail, volg die Bidstone Pass en steek Lundean's Neck oor. Niks wat ek kan skryf of sê kan beskryf hoe dit lyk nie, of hoe die landskappe verander soos jy oor 'n piek of deur 'n vallei gaan nie. Hierdie is 'n kom ry dit self sodat jy kan sien.
Maak geen fout nie, dis 'n lang dag van slegte grondpad, maar dis absoluut die moeite werd.
Ons kom op Oldenburg Lodge aan en word begroet deur enorme Great Dane honde en 'n besonderse uitsig. Daar is genoeg hout vir die vuur en die lug is skoon. Wat 'n voorreg om deur ons land te kan reis.
Nou ja, more die pad na Clarens en 'n "af" dag vir almal om lekker rond te kuier. Vandag was buitengewoon op elke vlak.
Daar is definitief 'n Skepper.
MooiLoop
No comments:
Post a Comment