Wednesday, December 11, 2019

Wilhelminas tot by die Mountain Camp (#4)

Vroegoggend, die voertuie is gepak, die sleutels word afgegee by die kantoor en dan staan ons in die ry om die Oranje oor te steek. Met die pont. Die voertuie word opgetrek, twee op 'n slag - dit is 'n ervaring op sy eie.  Die water is heeltemal ten aby aan my trok se wiele.  Die manne wat die pont hanteer weet wat hulle doen en in 'n oogwink is ons aan die Namibiese kant.





By die grenspos word ons vriendelik ontvang en die Namibiers kyk ons voertuie deeglik deur.  Ek maak die paneelkassie oop en die beampte wil weet wat is daai - Wilhelminas - my voorkeur pepperminte, vanuit Holland.  Die maak 'n wit poeier van al die skud - hy frons.  Ek bied hom een aan en sit self een in my mond, hy waai my tevrede aan.





Nou is dit rigting noord, maar eers ry ons swaai-swaai al langs die Oranje en  menige geleentehede vir fotos word aangebied, net om gemis te word omdat ek net nog so bietjie vorentoe wil ry.  Ons maak voete nat in die rivier en ry tot ons Aushenkehr, 'n groen oase in die woestyn.

En die wind waai onaangenaam hard.  




Ons draai links, noord, en die landskappe speel 'n dramatiese spel van vorm en kleur.  Verrasende opeenvolging van berge, klip koppe en vlaktes - waar daar gras kan staan wanneer dit reën. Maar dit is nou baie droog.  Die voertuie trek stofstrepe soos ons voortbeur – en die Baster Kokerbome kyk ons toe.




Ai-ais, oase in die woestyn en eindpunt van die dapperes wat die Visrivier Canyon stap.  Ons draai in en besoek die winkel, eet 'n ys-lollie en was ons gesigte by die swembad.  Die water is louwarm en ek vermoed die son het sy handbriek op – dit staan doodstil reg bo ons.  In die kamparea is daar twee paartjies wat kamp, en die een vrou is besig om in leer te verander; die son is genadeloos, die manne drink bier.  Errol is een van die wagte by die hoofhek en is baie dankbaar vir die Afrikaanse Bybels wat ek vir hom gee - hy gaan dadelik sy naam voorin skryf.

Ons gaan saal af by die Mountain Camp, 6 km van nêrens.  Dit lyk soos ‘n plaasopstal wat in ‘n hol vierkant gebou is met ‘n gesamentlike kombuis en braai area.  Die braai kyk uit oor die dorre Namib vlakte, agter ons is klipkoppe, vanwaar jy kilometres die toekoms in kan sien.  


'n Groot boom staan tussen die voete van twee swart gebrande klip koppe - 'n tikkie groen teen die swart klip - visuele towerkrag.  Dit is ‘n besonderse plek, veral as jy van afsondering hou.








Ons ry na die uitkykpunt van die Visrivier Canyon met die plan om sononder fotos van die Canyon te neem.  Ons is egter nie die enigste wat daardie plan het nie.  Die pad daarheen is verskriklik uitgetrap deur die massas toeriste en trokke wat daarheen beweeg en die hoof uitkykpunt lyk soos 'n piekiekplek met allerhande interresante mense wat daar rondloop, oud tot jonk, baie van hulle ingekleur soos 'n ou Huisgenoot Bollie.
Die son skyn reg in ons kameras se lense in en die kwaliteit van die fotos maak ons nie opgewonde nie – ons besluit om die aftog te blaas, voordat ons in die toeristebusse se stof moet ry. 


Terug by die Mountain Camp pak ons 'n vuurtjie en braai 'n vleisie - 'n uitstekende afsluiting vir 'n lang dag.  Ons gaan definitief weer more probeer om fotos van die Canyon te neem.  Maar eers roep skoon beddegoed ons.


Saturday, December 7, 2019

Richtersveld Park / Sendelings Drif (#3)


Die wind is stiller vanoggend en in die plek van golwe maak die wind speel-speel patrone op die water. Dit fluister deur die bome vir ons - gister was sy kwaad.  Vandag gaan ons die Park verken - en ons gaan foto's neem soos ons aangaan, soos en wanneer die wind ons toelaat.





Ons ry slinger-slinger met die smal grondpaadjie, deur die Halfmenspas oor klipharde, barre droë aarde. Die paadjie is met moeite deur die droeë rivierloop oopgebaklei – net wyd genoeg vir een voertuig op ‘n slag. As daar ‘n voertuig van voor af kom, moet een aftrek sodat die ander eers kan verby.  En soos altyd is daar ‘n mamparra op die pad, hierdie keer ‘n GP in ‘n Unimog Kampeerwa – ek vermoed hy het gedink hy is op die Hakskeenpan, besig met ’n landspoed rekord. Knopkop.


Ons stop by die Hand van God. Die plaaslike bewoners glo dat God sy hand hier op die rotse geruk het - hier by ons, suid van die Oranje Rivier.


Die volgende stop is by 'n Nama hut - dis onbewoon.  God's verlate.   Neffens die hut is daar bewyse van 'n kraal waar kleinvee gestaan het, die kraal is omtrent 10m by 10m met ‘n dik laag bok en skaap mis.  Daar was lewe, maar ek weet nie hoe lank terug nie. Ek verwonder my daaraan dat mens en dier hier kan bly, met geen water in sig nie. Met die wind wat onaangenaam hard waai.


Ons draai af na Potjiespram.  Teen die Oranjerivier is daar nog onbewoonde Nama hutte, maar hierdie hutte het 'n spog uitsig oor die Oranjerievier.  Die hutte het verskeie verbruikersitems in, asof die mense terstond gaan terugkom.  Ongeag die feit dat ons teen die rivier staan met ons voete in die koue water, is ons steeds bewus dat dit baie droog is – hier groei niks amper ‘n meter hoog.



Voort tot by Potjiespram se kampeerterrein en ons verwonder ons aan die manne wat met hulle "boogie boards" afstap rivier toe; ek wonder hoe ver hulle rivieraf gaan swem. Ek weet darem nie – ek het juis vanoogend ‘n enorme “skaduwee” in die water gesien.

Terug by Sendelingsdrif maak ek my hoenderpotjie en daar word gesmul.  

Sononder ry 'n paar van ons weer die Park in om fotos te neem.  Die wind het gaan lê en ons word bederf met trotse Baster Kokerbome wat oor die vlaktes kyk, Halfmense wat wag hou en 'n besonderse sonsondergang in skakerings van grys, swart en blou.  

Jy sal self moet gaan beleef – hierdie is meer as sien – dis beleef.

More beweeg ons aan, bestemming Canyon Lodge, Mountain Camp - noord, oor die Oranje, met die pont.







Wednesday, December 4, 2019

Spookstories (#2)


Springbok, Kleinsee, Port Nolloth, Alexanderbaai, Sendelingsdrif.
Vroeg op - die kilometers is nie te veel nie, maar na die spookstorie oor die toestand van die pad, weet ons nie hoe lank ons gaan ry nie. 

Ek het vergeet dat die son 40 minute later in die Kaap opkom as in Gauteng .... die dat ons die motors pak terwyl dit nog donker is.  Die gesamentlike kombuis is gesluit en my ysblokke is in die vrieskas ... toe klop ek maar een van die gaste op om oop te sluit. Jammer hoor. Regtig, maar 'n man moet doen wat 'n man moet doen.

Cynthia vertel ons dat sy en Gert gisteraand 'n besoeker gehad het .... in die enigste kamer met 'n dubbelbed.  Sy vertel dat daar gisteraand nog 'n vrou in hulle bed was.  'n Ouerige dame, baie mooi opgemaak en netjies, het tussen haar en Gert gelê en boeklees, en as Cynthia omdraai dan kyk die ou tannie vir haar.  Gert weet van niks.  Belinda sê vir Cynthia sy moet asseblief net die tannie hier los, daar is nie vir haar ook plek nie .....

Ons vat die pad.  die eerste stuk is teer en dan kom die bordjie wat my opgewonde maak - daardie ene wat wys die teerpad is nou klaar en grondpad begin nou.  Die pad is toe gladnie so vrot soos beweer nie - hier en daar uitgetrap, maar ons ry goed.

Kleinsee - kusdorpie, ons vind die strand.  Die wind begin weer waai en die water is besonders koud - ons het die Atlantiese Oseaan gehaal en ons gaan die met gepynigde, blou-van-die-koue, tone vier.  Ek knoop 'n gesprek aan met twee "locals", hule gee nie name nie.  Die ene is 'n rasta wat sy dreadlocks al 14 jaar groei, die ander ene mis 'n paar tande, maar glimlag breed.  Ek vra waarmee hulle hulself besig hou – “hoofbesigheid in die dorp is maar diamante en kreef, my lanie”.  Ek vra uit na 'n paar diamante en hou my hand uit - nee sê die manne, dit werk nie so nie!  Kreef dan - nog nie uitgehaal vanoggend nie.  Ek wonder.

Grondpad na Port Nolloth - die pad is nie te erg nie en Leon se X Trail maal aan.  Min het ons geweet wat wag.  Dis Sondag en die plek is morsdood, behalwe teen die see is daar so ietwat lewe.  Die plaaslike mampara met sy warmgemaakte Datsun dreun rook rook daar rond.  Dis tyd om 'n hol kol te vul, en Vespetti is oop, ons val in en word gewaarsku dat alle voedsel vars voorberei word - niks voorafvoorbereide disse nie. Ons wag 2 ure vir ons bestelling, maar dit smaak besonders.  O ja, moet net nie 'n verkeerde bestelling terugstuur nie.

Nou is dit die pad Alexanderbaai toe.  Die plek het agteruitgegaan. Die klubhuis op die golfbaan se dak het 'n gat in - diewe.  Die see kan in die verte gesien word, en perde wei op die "greens". 
Die vrouens rapporteer dat daar nood is - maar nêrens is daar 'n publieke fasiliteit te vinde nie.  Ons sien een van die huisies se deur is oop en dit lyk of daar lewe is - die vrouens klop aan en Meidjie maak oop.  Sonder om te huiwer jaag sy almal in die huis uit - hier is gaste sê sy - en die vrouens in ons lewens slaak 'n sug van verligting.  Almal se baie dankie en Meidjie glimlag van oor tot oor.  Gewone mense wat ander gewone mense (in nood) help. 
En die wind waai ons flenters.

Ons loop 'n bietjie laat as gevolg van ons uitgerekte ete in Port Nolloth maar ons durf die pad na Sendelingdrif aan met nuwe krag.  Die dag se einde is in sig, of so het ons gedink.  Die grondpad Sendelingsdrif toe wissel van mooi tot sinkplaat kwadraat - en die wind waai ons moedeloos.  Op sommige plekke verloor jy sig van die pad en fotos neem is bykans onmoontlik. Dis erg.




Ons bereik die Park se hek net betyds en word verras met puik huisies op die oewer van die Oranje Rivier - terwyl die lug wit is van die stof. 
Ons pak af en kyk of daar skade is - die Amarok se bak is gladnie stofdig nie, en my yskas het uit sy hegpunte geskud - gelukkig geen skade nie.  Ons steek die vuur aan en die son verdwyn oor 'n stowwerige horison - 'n vuilwit bal. 








More gaan ons in die Park in en 'n hoenderpotjie is bestel vir aandete.






Ons mik moeg bed en net voor ek aan die slaap raak is daar iemand by die deur.  My armhare spring regop - het die antie saamgery vanaf Springbok?!  
Ek staan op om my vrou te beskerm in die aangesig van die vyand, kyk deur die deur se venster ... maar dis die deur, die wind en die sleutel in die slot wat saamwerk om met my brein gek te skeer.
Bleddie spookstories. Toe slaap ek - morsdood.







Monday, December 2, 2019

Namibia 2019 - Mostert na die Maal (#1)

Mostert na die maal is wanneer iemand iets doen nadat die rede daarvoor reeds verby is. Dis wat hierdie reeks is - ons was reeds Namibia toe, ons is reeds terug, maar die trip lewe nog steeds in my gedagtes en siel .... en daarom gaan ek dit vertel asof ons dit nou doen. Want ek doen - met elke letter wat getik word, word elke kilometer, sonsopkoms en sonsondergang herleef. Elkeen. En tog is daar geen manier om in woorde uit te druk wat in die gees afspeel nie. Maar ek gaan probeer.

Ek het nog nie regtig gehoor van iemand wat nie Namibia toe wil gaan nie - en ons (ek en Moeksie - aka my vrou, Belinda) laat nie maklik 'n kans verbygaan om rigting noord te vat nie. Na maande se beplanning breek die tyd aan, die laaste week van September - tyd om te ry. Stof te proe.  Stilte te ervaar.  Vrede te beleef. Sinkplaatstofpad te ry ..... 16 Dae.

Ons gaan vier motors wees, 9 mense.  My trok, 'n 1999 Discovery 2 (V8), Gert se splinternuwe VW Amarok V6 met 1500km op, Leon se X Trail en Gustav se Discovery 3. Maar Vrydagoggend is dit net ek en Gert in die konvooi – ons slaap vanaand op Red Sands, knap anderkant Kuruman; die span kry mekaar Saterdagaand in Springbok.


Sannieshof verby. Ventersdorp – dis tyd vir 'n Wimpy koffie, jy kan tog nie die langpad vat sonder 'n Wimpy koffie nie. Die vyand slaan toe, Cynthia se selfoon kry voete. Bummer.
Red Sands - wat 'n mooi plek in die barre landskap.  Ons vermy die dorp gedeelte van Kuruman omdat ons gewaarsku is oor ons veiligheid daar.  Min het ons geweet.


Saterdagoggend - ons is oppad om ontbyt te gaan eet toe Gustav bel - die Discovery 3 mors diesel.  Hy staan op Vryburg, dis nog vroeg en hy sukkel om iemand te kry om te help;  hy kom reg - dit was "net" 'n koppeling wat losgekom het. Vasgemaak en skoongemaak - hulle is oppad. Sjoe. Springbok is nog ver.














Pienk Padstal. Upington.  Pofadder - ons neem fotos voor die Pofadder Hotel; Gert en Cynthia om vir die kinders te sê hulle was daar, en ek om 'n belofte wat in 1981 gemaak is, na te kom.  Dit was 'n belofte aan 'n diensplig vriend waar ek onderneem het om eendag 'n draai in Pofadder te maak - hy is nie meer daar nie.  Tyd vlieg.


Die laaste skof na Springbok raak ongemaklik, die wind waai ons stukkend - kopwind.  Die landskap wissel van rooi sand na hope klip, Versamelvoëlneste, doloriet rotse wat opgebreek is deur wind en weer.  En die wind waai.

Dis namiddag in Springbok en koud - baadjies aan.  Winkels toe, moet gou water en die uitstaande voorraad aankoop.  Moeksie konsentreer nie en lees haar PIN drie keer reg in - verkeerde kaart - kaart geblok! Plastiek is toe nie geduldig nie.

Geen probleem - nou gaan ons braai.  Leon en Hettie is reeds by die gastehuis en het oopgessluit.  Hy verduidelik dat hy homself met net twee biere gerantsoeneer het want hy bestuur more. Verantwoordelik.  Verdere verduideliking helder die rantsoen meer op - dit het niks met die alkohol te doen nie. Met meer as twee biere moet hy te veel deur die nag opstaan en dan is hy moeg die volgende dag. Sien. Logies.

Ek gaan loop 'n draai en neem die mooiste fotos van Baster Kokerbome.
Ek vind uit by die "locals" oor die pad na Kleinsee - ek word met smaak verduidelik dat die pad flenters gery is.  Die slaggate is so groot dat een kar gaan inry sodat die volgende ene bo-oor kan gaan! Genugtig.




Die D3 span daag op, moeg gery, almal gaan slaap vroeg.
Die reis het begin!

Wednesday, September 26, 2018

Dis duur om toilet toe te gaan! (#11)

Les nommer 1 vir Europa toer - begroot om toilet toe te gaan. Punt.  Maak nie saak hoe groot of sterk jou blaas of ander dele van jou anatomie is nie - iewers gaan jou anatomie en die natuur in "sinc" kom en dan het jy 'n probleem; knyp werk net tot op 'n punt.
Nou - om daardie benoude gevoel tot stilte te dwing moet jy by 'n fasiliteit genoem die WC aandoen.  Ongelukkig is daar by die meeste van daardie fasiliteite 'n hek, en om daarby verby te kom moet jy van 50 Euro sente to 1 Euro deponeer. Die hek swaai oop en meeste van die tyd is die plekke darem redelik tot goed skoon. Verligting volg.

In Switserland het ek my 1 Euro opgemaak deur die spoel knoppie 'n paar keer te druk - want dan kom daar so boksie uit die muur uit en die sitplek draai self in die ronde en daar kom so armpie uit wat die sitplek ontsmet en die sitplek gaan staan dan weer op sy plek - reg vir die volgende paar boude. Te oulik.

Met die huidige wisselkoers (ZAR na Euro) kos dit jou dus tussen ZAR9 en ZAR18 om die WC te besoek.

Die onmiddelike vraag was daarom - hoe bestuur jy die koste van hierdie oefening? Maklik - drink en eet minder!  Regtig? Dokter Ruth sal in haar graf omdraai want sy het lankal vir ons verduidelik hoe belangrik dit is om te hidreer, met ander woorde om baie water te drink. En met 76% humiditeit, nie maklik nie.

Dit bring ons by die volgende uitdaging - water uit die krane is nie noodwendig geskik vir drink nie, en kan jou daarom dwing om die WC meer gereeld te besoek. Absoluut teenproduktief en 'n frustrasie vir mede reisigers. Om 500ml gebottelde water te koop kan jou ook enigiets tussen 1 - 3 Euro uit die sak jaag. Natuurlik hang dit af waar jy dit koop, maar indien jy heeldag op die pad is, is die waarskynlikheid groot dat jy gebottelde water in 'n nice koelkas sal kry op jou pad uit nadat jy jou draai by die WC gemaak het - en omdat jy weet hoe belangrik dit is om te hidreer en jy elk geval dors is, koop jy 'n botteltjie vir jou en vir moeksie - want jy soek nie 'n uitgedroogte vrou nie.

Dit is toe nou hier waar ek 'n "conspiracy" vermoed - die geldmag het ook hier toegeslaan.  Kom ons veralgemeen - jy drink ten minste 2 botteltjies water teen 1 Euro elk (ZAR36) en daarom moet jy die WC ten minste 2 keer besoek teen 1 Euro elk (ZAR36). Dt is ZAR72 per dag per persoon om te doen waaroor jy geen beheer het nie.  En soos ons almal weet raak die besoeke aan die WC meer soos die ouderdom jou bekruip ... met die gevolglike finansiele implikasies. 

Sameswering sê ek vir jou! Dis duur om toilet toe te gaan in Europa.

O ja, en jy moet asseblief onthou om die koepon te neem by die WC hek, dit is 50 Euro sente werd en kan gebruik word as afslag op die wegneem koffie wat gaan koop, vir die pad natuurlik.

Monday, September 24, 2018

Nou gaan ons braai! (#10)



Sondagmiddag groet Den Haag ons met 'n mistroostige reën en wolk skerm. Ek wens ek kom daarvan saamneem vir ons droeë land, maar helaas. 
Die terugreis word aangepak en ons land moeg in Johannesburg, Ilke verwelkom ons met 'n koffie in die hand. Ons ry terug aan die regte kant van die pad, ek sien 'n hawelose (?) op die middelman - hy het 'n flenter oorpak aan met selfoon oorfone in sy ore. 
Ons pak af en besef ons wiele is pap. 
Maar voor ek kan aftrek en toeplak, is daar ietsie wat gedoen moet, net om die sisteem reg te kry - NOU gaan ons braai! Man moet  mos vleis eet en 'n behoorlike koue bier drink. MooiLoop.
Gegroet Paul en Karin!

Die Mense wat jy ontmoet as jy reis (#9)

Die doel van reis, vir my, is om my horisonne te verbreed. Om te sien hoe ander bly, werk en sosiaal verkeer. Dis goed en sleg, want jy kan die mooi en swaar van ander se lewens ervaar. Wat my opgeval het is dat ek net twee bedelaars in die hele reis van 3800km gesien het. Duitsland en Oostenryk is uiters georganiseer, Switserland is beeldskoon en ongelooflik duur, en die stuk van Italie wat ons gesien het is arm. 
Maar die mense is gasvry en bly om ons te ontvang.  Maar drie mense het 'n indruk op my gemaak.

By die B&B in Italie ervaar ons die groter as die lewe persoonlikheid - Alessia. In 'n omgewing van smal paadjies met bromponies en waar Engels bykans nie bestaan nie, is sy die ene wat met 'n groot glimlag, 'n uitbundige lag, huppel in die stap en oordrewe handgebare dinge vir ons maak werk. Niks is te klein of groot  nie. Sy is 25, bly by haar ouers, het 'n 3 jarige kind, werk as onderwyser van Maandag tot Vrydag in die voormiddag en Dinsdag tot Sondag in die namiddag by die B&B. Geld is min en die lewe duur - maar sy maak dit werk met 'n smile.

In Iseo is ons kelner 'n laat 20er Italianer. Lank en maer met 'n bos krulhare, 'n breë glimlag en 'n harde stem. Hy is opgewonde want die naweek gaan hy op verlof, hy en sy hond, Spanje toe om te gaan "surf". As hy genoeg geld het sal dit wees wat hy doen tot volgende jaar toe. Life is good.

In Den Haag ontmoet ek vir Johan.  Hy is verby 60, ongetroud en ek vermoed afgetree.  Hy is alleen en praat baie as hy die kans kry.  'n Turk van herkoms, 'n Moslem wat Christen geword het. Hoe gebeur dit? Op 21 het hy 'n afbeelding van Jesus gesien en geweet dit is God  - net so! In Oktober 2009 het hy na 'n Katolieke kerk in Den Haag gegaan en gevra dat hulle vir hom moet bid, hom moet aanneem en later is hy ook gedoop. MAAR, dis juis die liggaam van Christus, die kerk, wat hom verstoot in plaas van intrek. Hy skenk 'n skildery en dit word aan hom teruggegee, hy sluit aan by 'n selgroep en hulle sê hy praat te veel, hy hou 'n kunsuitstalling in die kerk en word geboikot - almal stap uit na die diens. Hy sê hy ervaar baie aanslae van die duiwel - in die nag, en hy beskerm homself met Jesus se naam. Hy versamel musiek instrumente en kameras. Hy is besig met 'n interresante skildery van die verlore seun. Voorwaar 'n interresante mens  - hy het gebed nodig. Bid vir hom.

Dis voorwaar die mense op jou reise wat reis die moeite werd maak.
(Geen fotos word geplaas nie om die onskuldiges te beskerm.) 😉