Springbok, Kleinsee, Port
Nolloth, Alexanderbaai, Sendelingsdrif.
Vroeg op - die kilometers is nie
te veel nie, maar na die spookstorie oor die toestand van die pad, weet ons nie
hoe lank ons gaan ry nie.
Ek het vergeet dat die son 40
minute later in die Kaap opkom as in Gauteng .... die dat ons die motors pak
terwyl dit nog donker is. Die gesamentlike kombuis is gesluit en my
ysblokke is in die vrieskas ... toe klop ek maar een van die gaste op om oop te
sluit. Jammer hoor. Regtig, maar 'n man moet doen wat 'n man moet doen.
Cynthia vertel ons dat sy en Gert
gisteraand 'n besoeker gehad het .... in die enigste kamer met 'n
dubbelbed. Sy vertel dat daar gisteraand nog 'n vrou in hulle bed
was. 'n Ouerige dame, baie mooi opgemaak en netjies, het tussen haar en
Gert gelê en boeklees, en as Cynthia omdraai dan kyk die ou tannie vir
haar. Gert weet van niks. Belinda sê vir Cynthia sy moet asseblief
net die tannie hier los, daar is nie vir haar ook plek nie .....
Ons vat die pad. die eerste
stuk is teer en dan kom die bordjie wat my opgewonde maak - daardie ene wat wys
die teerpad is nou klaar en grondpad begin nou. Die pad is toe gladnie so
vrot soos beweer nie - hier en daar uitgetrap, maar ons ry goed.
Kleinsee - kusdorpie, ons vind
die strand. Die wind begin weer waai en die water is besonders koud - ons
het die Atlantiese Oseaan gehaal en ons gaan die met gepynigde,
blou-van-die-koue, tone vier. Ek knoop 'n gesprek aan met twee
"locals", hule gee nie name nie. Die ene is 'n rasta wat sy
dreadlocks al 14 jaar groei, die ander ene mis 'n paar tande, maar glimlag
breed. Ek vra waarmee hulle hulself besig hou – “hoofbesigheid in die
dorp is maar diamante en kreef, my lanie”. Ek vra uit na 'n paar
diamante en hou my hand uit - nee sê die manne, dit werk nie so nie! Kreef
dan - nog nie uitgehaal vanoggend nie. Ek wonder.

Grondpad na Port Nolloth - die
pad is nie te erg nie en Leon se X Trail maal aan. Min het ons geweet wat
wag. Dis Sondag en die plek is morsdood, behalwe teen die see is daar so
ietwat lewe. Die plaaslike mampara met sy warmgemaakte Datsun dreun rook
rook daar rond. Dis tyd om 'n hol kol te vul, en Vespetti is oop, ons val
in en word gewaarsku dat alle voedsel vars voorberei word - niks
voorafvoorbereide disse nie. Ons wag 2 ure vir ons bestelling, maar dit smaak
besonders. O ja, moet net nie 'n verkeerde bestelling terugstuur nie.
Nou is dit die pad Alexanderbaai
toe. Die plek het agteruitgegaan. Die klubhuis op die golfbaan se dak het
'n gat in - diewe. Die see kan in die verte gesien word, en perde wei op
die "greens".
Die vrouens rapporteer dat daar
nood is - maar nêrens is daar 'n publieke fasiliteit te vinde nie. Ons
sien een van die huisies se deur is oop en dit lyk of daar lewe is - die vrouens
klop aan en Meidjie maak oop. Sonder om te huiwer jaag sy almal in die
huis uit - hier is gaste sê sy - en die vrouens in ons lewens slaak 'n sug van
verligting. Almal se baie dankie en Meidjie glimlag van oor tot
oor. Gewone mense wat ander gewone mense (in nood) help.
En die wind waai ons flenters.
Ons loop 'n bietjie laat as
gevolg van ons uitgerekte ete in Port Nolloth maar ons durf die pad na
Sendelingdrif aan met nuwe krag. Die dag se einde is in sig, of so het
ons gedink. Die grondpad Sendelingsdrif toe wissel van mooi tot sinkplaat
kwadraat - en die wind waai ons moedeloos. Op sommige plekke verloor jy
sig van die pad en fotos neem is bykans onmoontlik. Dis erg.
Ons bereik die Park se hek net
betyds en word verras met puik huisies op die oewer van die Oranje Rivier -
terwyl die lug wit is van die stof.
Ons pak af en kyk of daar skade
is - die Amarok se bak is gladnie stofdig nie, en my yskas het uit sy hegpunte
geskud - gelukkig geen skade nie. Ons steek die vuur aan en die son
verdwyn oor 'n stowwerige horison - 'n vuilwit bal.
More gaan ons in die Park in en
'n hoenderpotjie is bestel vir aandete.
Ons mik moeg bed en net voor ek
aan die slaap raak is daar iemand by die deur. My armhare spring regop -
het die antie saamgery vanaf Springbok?!
Ek staan op om my vrou te
beskerm in die aangesig van die vyand, kyk deur die deur se venster ... maar
dis die deur, die wind en die sleutel in die slot wat saamwerk om met my brein
gek te skeer.
Bleddie spookstories. Toe slaap
ek - morsdood.