Monday, September 24, 2018

Die Mense wat jy ontmoet as jy reis (#9)

Die doel van reis, vir my, is om my horisonne te verbreed. Om te sien hoe ander bly, werk en sosiaal verkeer. Dis goed en sleg, want jy kan die mooi en swaar van ander se lewens ervaar. Wat my opgeval het is dat ek net twee bedelaars in die hele reis van 3800km gesien het. Duitsland en Oostenryk is uiters georganiseer, Switserland is beeldskoon en ongelooflik duur, en die stuk van Italie wat ons gesien het is arm. 
Maar die mense is gasvry en bly om ons te ontvang.  Maar drie mense het 'n indruk op my gemaak.

By die B&B in Italie ervaar ons die groter as die lewe persoonlikheid - Alessia. In 'n omgewing van smal paadjies met bromponies en waar Engels bykans nie bestaan nie, is sy die ene wat met 'n groot glimlag, 'n uitbundige lag, huppel in die stap en oordrewe handgebare dinge vir ons maak werk. Niks is te klein of groot  nie. Sy is 25, bly by haar ouers, het 'n 3 jarige kind, werk as onderwyser van Maandag tot Vrydag in die voormiddag en Dinsdag tot Sondag in die namiddag by die B&B. Geld is min en die lewe duur - maar sy maak dit werk met 'n smile.

In Iseo is ons kelner 'n laat 20er Italianer. Lank en maer met 'n bos krulhare, 'n breë glimlag en 'n harde stem. Hy is opgewonde want die naweek gaan hy op verlof, hy en sy hond, Spanje toe om te gaan "surf". As hy genoeg geld het sal dit wees wat hy doen tot volgende jaar toe. Life is good.

In Den Haag ontmoet ek vir Johan.  Hy is verby 60, ongetroud en ek vermoed afgetree.  Hy is alleen en praat baie as hy die kans kry.  'n Turk van herkoms, 'n Moslem wat Christen geword het. Hoe gebeur dit? Op 21 het hy 'n afbeelding van Jesus gesien en geweet dit is God  - net so! In Oktober 2009 het hy na 'n Katolieke kerk in Den Haag gegaan en gevra dat hulle vir hom moet bid, hom moet aanneem en later is hy ook gedoop. MAAR, dis juis die liggaam van Christus, die kerk, wat hom verstoot in plaas van intrek. Hy skenk 'n skildery en dit word aan hom teruggegee, hy sluit aan by 'n selgroep en hulle sê hy praat te veel, hy hou 'n kunsuitstalling in die kerk en word geboikot - almal stap uit na die diens. Hy sê hy ervaar baie aanslae van die duiwel - in die nag, en hy beskerm homself met Jesus se naam. Hy versamel musiek instrumente en kameras. Hy is besig met 'n interresante skildery van die verlore seun. Voorwaar 'n interresante mens  - hy het gebed nodig. Bid vir hom.

Dis voorwaar die mense op jou reise wat reis die moeite werd maak.
(Geen fotos word geplaas nie om die onskuldiges te beskerm.) 😉

No comments:

Post a Comment