Wednesday, September 26, 2018

Dis duur om toilet toe te gaan! (#11)

Les nommer 1 vir Europa toer - begroot om toilet toe te gaan. Punt.  Maak nie saak hoe groot of sterk jou blaas of ander dele van jou anatomie is nie - iewers gaan jou anatomie en die natuur in "sinc" kom en dan het jy 'n probleem; knyp werk net tot op 'n punt.
Nou - om daardie benoude gevoel tot stilte te dwing moet jy by 'n fasiliteit genoem die WC aandoen.  Ongelukkig is daar by die meeste van daardie fasiliteite 'n hek, en om daarby verby te kom moet jy van 50 Euro sente to 1 Euro deponeer. Die hek swaai oop en meeste van die tyd is die plekke darem redelik tot goed skoon. Verligting volg.

In Switserland het ek my 1 Euro opgemaak deur die spoel knoppie 'n paar keer te druk - want dan kom daar so boksie uit die muur uit en die sitplek draai self in die ronde en daar kom so armpie uit wat die sitplek ontsmet en die sitplek gaan staan dan weer op sy plek - reg vir die volgende paar boude. Te oulik.

Met die huidige wisselkoers (ZAR na Euro) kos dit jou dus tussen ZAR9 en ZAR18 om die WC te besoek.

Die onmiddelike vraag was daarom - hoe bestuur jy die koste van hierdie oefening? Maklik - drink en eet minder!  Regtig? Dokter Ruth sal in haar graf omdraai want sy het lankal vir ons verduidelik hoe belangrik dit is om te hidreer, met ander woorde om baie water te drink. En met 76% humiditeit, nie maklik nie.

Dit bring ons by die volgende uitdaging - water uit die krane is nie noodwendig geskik vir drink nie, en kan jou daarom dwing om die WC meer gereeld te besoek. Absoluut teenproduktief en 'n frustrasie vir mede reisigers. Om 500ml gebottelde water te koop kan jou ook enigiets tussen 1 - 3 Euro uit die sak jaag. Natuurlik hang dit af waar jy dit koop, maar indien jy heeldag op die pad is, is die waarskynlikheid groot dat jy gebottelde water in 'n nice koelkas sal kry op jou pad uit nadat jy jou draai by die WC gemaak het - en omdat jy weet hoe belangrik dit is om te hidreer en jy elk geval dors is, koop jy 'n botteltjie vir jou en vir moeksie - want jy soek nie 'n uitgedroogte vrou nie.

Dit is toe nou hier waar ek 'n "conspiracy" vermoed - die geldmag het ook hier toegeslaan.  Kom ons veralgemeen - jy drink ten minste 2 botteltjies water teen 1 Euro elk (ZAR36) en daarom moet jy die WC ten minste 2 keer besoek teen 1 Euro elk (ZAR36). Dt is ZAR72 per dag per persoon om te doen waaroor jy geen beheer het nie.  En soos ons almal weet raak die besoeke aan die WC meer soos die ouderdom jou bekruip ... met die gevolglike finansiele implikasies. 

Sameswering sê ek vir jou! Dis duur om toilet toe te gaan in Europa.

O ja, en jy moet asseblief onthou om die koepon te neem by die WC hek, dit is 50 Euro sente werd en kan gebruik word as afslag op die wegneem koffie wat gaan koop, vir die pad natuurlik.

No comments:

Post a Comment