Wat ‘n ongelooflike voorreg om
langs die see wakker te word, om die son te voel met die vars geur van see in
jou neus. Daar is geen haas nie en ons
eet ‘n ietsie – net om seker te maak die honger oorval ons nie langs die pad
nie. Die plan is eenvoudig – ons gaan ‘n
draai by die soutgat maak, ons gaan vir Retha ‘n herdenkingsteen opsit en Henties
so bietjie verken. More gaan ons Sandwich Harbour toe, dan gaan ons ‘n dag niks
doen nie – en daarna draai die neuse suid om die terugtog te begin aanpak. Maklik. Lekker.
Ons ry deur Henties en ek probeer
my niggie wat in Henties bly in die hande kry – maar selfone laat my in die
steek. Nog ‘n jammerte, maar die die
doelwit is om by die Soutgat uit te kom, of die Namib se eie Dooie See. So 40km Noord van Henties is daar ‘n kwarriegat
vol verskriklike soutwater – dis waar ek wil uitkom en in gaan dryf, glad mos
nou nie nodig om Israel toe te gaan vir hierdie ondervinding nie.
Ons kry dit maklik genoeg en drie
van ons is durf die water aan. Die water is groen,
lou warm en ek kan nie die bodem sien nie. Ek swem nie maklik in water waar ek nie kan
sien nie, maar enigiets wat in hierdie soutwater kan oorleef, kan my maar byt -
daai bytplek sal onmiddelig ontsmet wees.
Terug in Swakop probeer ons 'n
koffie drink by die Mohle, maar dis 17h20 en die kelner lig ons vriendelik dog
ferm in dat ons 10 minute het om koffie te bestel en te drink - 17h30 word die
deure toegetrek? Dan gaan ons maar.
Daar is tyd en ek ry gou Swakop
toe om die idler pulley wat ek by LR Parts bestel het, te gaan haal. Ek vat 'n kans en ry na Venieta Motors toe,
kom 16h30 daar aan en 17h10 is die pulley op en die Amarok se pensplaat is
reguit geslaan met 'n Land Rover hammer - 'n moerse hammer, met ander woorde. Verniet. Dankie Nico en Grobbies. Ons groet dankbaar en vertrek - min het ons
geweet.
Ek vermoed dit was die leidraad
wat die trok gesoek het, niks wat ons doen kry hom aan die gang nie. Wel, Gerrit se Amarok moet maar sleepvoertuig
speel na Venieta Motors toe - en natruurlik is daar verskeie beterwetige
gesigte en glimlagte langs die pad. My
eer is nie gekrenk nie. Ondersoek word
ingestel na die "crank sensor" wat toe nie die probleem is nie - en
uiteindelik is die uitslag dat die petrolpomp se "relay" foutief
is. Die word vervang en daar gaan ons - maar nie ver nie. Weer sleep die Amarok die Trok terug - ek los
die trok daar en gaan drink 'n rustige koffie terwyl die vrouens die vellie
fabriek besoek en Gerrit sy kar laat was. Uitslag - die gronddraad van die
"relay" was foutief en die is reggestel. Dis 17h00 - na gister was hierdie maar 'n
anti-klimaks. Maar, met almal se bystand
is ons op skedule - more vat ons die pad Mariental toe.
Maar ek is nie tevrede nie, 'n
man weet mos as sy ryding nie lekker is nie .....






