Friday, October 16, 2020

Rondom Lesotho 2020 - Elke Perd het sy eie Stal

 

Die son steek sy kop uit oor die Vrystaatse vlakte en kondig so die laaste dag van ons reis aan. Terwyl ons na die RSG luister om te hoor wat in Senekal aangaan, drink ons koffie en eet 'n beskuitjie. Ons is maar almal bekommerd.





Ons groet en vat die pad, net om by die Berry Padstal te stop vir 'n dermvullertjie - in my geval, 'n tuisgemaakte kerrie javel. By die Fouriesburg kruising stop ons by die volgende padstal - die ene is vol snuisterye en het selfs 'n museum vol van allerhande ou goete uit die gemeenskap.



Ons stop by die Surrender Hill Gedenksteen. Die plek het besonderse betekenis in ons geskiedenis. Dis hier waar 4300 boere aan die Engelse oorgegee het, nadat slegs 2000 saam met Generaal de Wet ontsnap het. Hierna het die gevegstaktieke van die boere begin oorleun na guerilla oorlogvoering. Dis 'n jammerte dat daar mense is wat geen respek vir geskiedenis het nie  - die gedenksteen is gesteel.

In Clarens is die vrouens in hulle noppies. Dit lyk darem of besigheid begin oplewe. Ons  verkyk ons aan die mense dan eet ons 'n laaste aandete by Clementines. Puik.

En so sluit ons die laaste aand van ons reis af. Vreetsaam. Ons bespreek die roete en slaapplekke - ek neem kennis vir die volgende toer. Die lewe is soms gekompliseerd, baie keer as gevolg van die besluite wat ons maak - maar dis nog steeds goed.  More is ons weer almal tuis - elke perd in sy eie stal.


Ek bedink die roete en dit wat ons beleef het. Die wonderskoon en avontuur is beskikbaar vir elkeen, ons moet net bereid wees om dit te gaan soek. Ky kan of na een plek toe gaan en alles daar beleef, of jy kan kan jou rybroek aantrek en gaan soek. Ons mooi is orals, maar die kilometers is baie.

Dankie aan my reismaats, ons maak weer so. Hier is nog so 'n paar onthou fotos.

Tot volgende keer. MooiLoop.









Rondom Lesotho 2020 - Oor Tiffendell se Berge tot in die Vrystaat se Dale

Vanoggend word daar nie tyd gegun vir gras groei onder die voete nie. 05h30 lui die wekkers en word daar koffie gemaak, beskuit geeët en lorries gepak. Vandag is die dag waarvoor ek gewag het - berge en dale. Die son loer oor die berg se rand toe ons die voet van die  Carlisle Pas na Tiffendell oorsteek. Daar is 'n paar bokke in 'n kraal wat bok-bok speel, klouter op alles wat beskikbaar is.

 
Dan, die pas.  Eers niks snaaks nie, elk geval,  niks wat ons nog nie van gehad het nie, en dan - sonder waarskuwing 'n paar opdraendes wat jou 'n loodsmaak in die mond gee. Steil. Skerp draaie, dan nog op - daar is selfs 'n bordjie wat jou aanraai om die revolusies op te hou, die draaie wyd te vat en met selfvertroue te bestuur. Gelukkig is daar sement gegooi anders sou daar baie onderbroeke gewees het wat in die slag gebly het.


Daar is 'n besonderse bekoring om vroeoggend iewers in die natuur te wees, en wanneer dit met afsondering gepaard gaan, dan is dit op 'n volgende vlak van geseënd wees. Blessed. Bo-op die pas sien ons Tiffendell - dis nog toe as gevolg van Covit en daarom mis ons die Ben McDui, die hoogste punt in die Kaap. Ons ry in die rigting van die Volenteershoekpas, net om begroet te word met 'n dam met die blouste water wat ek nog ooit gesien het. Blou en koud. Baie koud. Dis onwerklik blou.

Die pas is meer uitdagend as wat ek gedink het, veral die deel wat afsak na Bidstone toe.

Dele van die pad word herstel met bande waarbinne klippe gepak word - dit werk, maar dit het sy eie uitdagings. Die gradering is 3, maar ek dink dat as jy die pas andersom doen, sal dit baie moeiliker wees en nader aan 'n 2 gradering. Maar wie gee om? Die uitwerk van wielplasing, die geknars van gruis onder die wiele en die lekkerte wanneer jy anderkant uitkom, is 'n vreugde wat sommige sal verstaan.  Moeksie is tevrede, want die pille wat sy drink help dat die derms nie knoop nie.





Ons ry die War Trail, volg die Bidstone Pass en steek Lundean's Neck oor. Niks wat ek kan skryf of sê kan beskryf hoe dit lyk nie, of hoe die landskappe verander soos jy oor 'n piek of deur 'n vallei gaan nie. Hierdie is 'n kom ry dit self sodat jy kan sien.
Maak geen fout nie, dis 'n lang dag van slegte grondpad, maar dis absoluut die moeite werd. 


Ons kom op Oldenburg Lodge aan en word begroet deur enorme Great Dane honde en 'n besonderse uitsig. Daar is genoeg hout vir die vuur en die lug is skoon. Wat 'n voorreg om deur ons land te kan reis.


Nou ja, more die pad na Clarens en 'n "af" dag vir almal om lekker rond te kuier. Vandag was buitengewoon op elke vlak. 

Daar is definitief 'n Skepper.
MooiLoop

Rondom Lesotho 2020 - Rhodes Universiteit is nie op Rhodes nie

Die kilometers is min vandag, maar die tyd is lank. Ons groet vir Philìp by Resthaven met 'n belofte om weer 'n draai te maak - maar die keer om Lesotho in te gaan. Die Orange River Gorge of die Horse Shoe Gorge moet gesien word.

Ons reis deur die Ongeluksvallei, rigting Mount Fletcher. Die vallei was in die 90's een van die produktiefste in die land, maar dis opgekoop en is nou platteland met huisies en bestaansboere orals. Dis 'n mooi land, maar produksie is min en orals drentel mense rond. Dis jammer.

 Ons draai af net na Mount Fletcher, regs op die D8018, nou is dit grondpad oor Naude's Nek tot in Rhodes. Die GPS waarsku "bad gravel" -maar teenstrydig met die waarskuwing is smal grondpad verfrissend en heel goed.  Ons vleg deur verskeie tiepes lanskappe, sandspore, oor ontelbare laagwaterbrue, teen die hange van berge op net om anderkant weer af te gaan. 

Slinger, slinger oor Naude's Nek tot by die Naude' se monument. Langs die pad kry ons 'n swerm Blou Kraanvoëls, manjefiek.  Vandag se belewenis was landskap op landskap, en die afsondering, en die feit dat jy 'n bees kan hoor bulk al staan jy honderde meters ver teen die hange op - so ver dat jy dis bees nie eens kan sien nie.


Rhodes is klein. Baie klein, en stowwerig. By die Inligtingkantoor koop ons 'n sak hout vir R60 - ingevoeg vanaf Barkley Wes.  Niks het verander in die 4 jaar wat ons laas hierdeur is nie  - maar ek hou daarvan. Rhodes Universiteit is nie op Rhodes nie. 




By die Rhodes Hotel kry ons 'n man en vrou wat besig is om die land se bergpasse een vir een af te jaag, blykbaar in die rigting van 70 al.  Die vrou is sterk, sy ry al oor 'n week met 'n gekneusde rib. Name gevra, nope ....





Vanaand slaap ons op Den Hagen Guest Farm, oud maar baie lekker  - die koue staan op as die son sak. More tot in Ladybrand, verskeie passe om kaf te draf.

Mooiloop.

Tuesday, October 13, 2020

Rondom Lesotho 2020 - Mariazell Mission en "Locals"

 


Daar is min goed wat so bevredigend is as om wakker te word met stilte wat jou pla. Dis na jy gereeld gehoor het hoe Poue mekaar roep - "help, help, help". Nie seker wat hulle pla nie, maar na al die eeue roep hulle nog steeds om hulp. Langs 'n plaassdam, met stoom op - en dou op die gras. Groener as groen.



Ons pak op en eet ontbyt by die Olde Duck in Underburg. Slo, die kelner, is totaal onbewus van die feit dat hy reeds in die hemel bly - hy dink Gauteng is die plek om te wees. Ons koop water en brood by die Spar en vat die pad na Matatiele, via Bushman's Neck en Swartberg. Groot gedeeltes van die pad laat my dink dat ons ons eie Switserland het. Maar, die pad van Swartberg na Matatiele is 'n gemors. Punt. Dit breek jou kar.




Die Mariazell Mission anderkant Matatiele is 'n plek om 'n draai by te gaan maak. Pad is swak, maar gelukkig herbou hulle nou die grondpad daarheen. Die Mission is amper onwerklik - 'n Katolieke Katedraal in die middel van "nêrens". Met al die simboliek wat daarmee saamgaan.



Ek klop aan deur en Suste Winfred maak oop. Sy begelei ons deur die kerk. Ongelooflik. Sy  verduidelik geesdriftig dat Heilige Water is gewome water wat deur Priester geseën is, en waaroor gebid is. Dan word hulle besprinkel om hulle te herinner aan die doop. Sy sê "ons het nodig om herinner te word."


Oppad terug deur die Ongeluksvallei stop ons by 'n murasie met 'n uitsig. Die Afrikaner hond ignoreer ons, seker maar omdat hy kruppel is. Mathew, die oppasser, net sy informele huis agter aan die murasie gebou - die eienaar bly in Kokstad. Mathew wil weet of ons 'n dink" het.


Terug by die Resthaven in Matatiele maak ons die rygoed se tenks vol, en begin die vuur pak. Gelukkig kom Phillip, die eienaar, daar om en herinner my dat ek aandete bespreek het ..... die vrouens was beindruk met die "lamb shank en groente" (wat ons gebraai het). Goed so.

Nou is dit slaaptyd. More na Rhodes via Naude's Nek. Ons gaan beslis terugkom om saam met hom Lesotho binne te vaar, en besonderse fotos te neem. Kyk wat hang teen sy muur.



MooiLoop.


Monday, October 12, 2020

Rondom Lesotho 2020 - Nuwe Planne

 Die effek van Covid word orals gesien. Plekke verwaarloos en staf is min.

Ons ry rigting Harrismith om na die standbeeld van die Kaalvoetvrou te gaan kyk. Johanna Smit is haar naam, en net soos die meeste mense in SA vandag, is sy gatvol vir die regering van die dag - die Engelse wat beheer oor Natalia het. Op die berg stap sy rigting suid, Vrystaat toe. Gaan kyk.

Die geweeklaag onder die enjinklap kom en gaan, maar toe dit ophou raak ek bekommerd. Dis soos wanneer moeksie ophou om te praat, dan weet jy. In Bergville loop ek vir Andy van Al's Automotive Repairs raak - hy pluk 'n stetoskoop uit en identifiseer die sondaar as die idler pulley. Gelukkig ry ek 'n ou Land Rover en herstel is maklik, nie te lank daarna wikkel ons voort.  Die Amarok wag vir ons lang die pad.

In Nottingham eet ons 'n bord kos by The Bierfassl, besonders. Die eienaar vertel hy moes sy Defender verkoop om die Covid te oorleef.

Die roete word vinnig aangepas en ons wikkel Bulwer oor na Underberg. Die omgewing is ongelooflik mooi - foto hemel. 
Ons bly in die Meadow Lane Cottages in Underberg. Woorde is te min om die plek te beskryf. Manjefiek. Ons kom beslis terug. Vandag rol die wiele na Matatiele en die Marianzell Missie. 

Sunday, October 11, 2020

Rondom Lesotho 2020 - Geluksburg en Altenator Bearings

 Sondagoggend. Rusdag. Dis die dag wat ons besluit om die Maluties van alle hoeke te bekyk. Die plan is om rondom Lesotho in 6 dae te ry, en omdat Covit Lesotho se grense ontoeganklik gemaak het, is die Sanipas en die Orange River Gorge uitgesluit - maar ry gaan daar gery word.

Die groep is klein, Covit het selfs hier 'n impak gehad. 08h00 word Santie se tasse gelaai en die Kraaij'e daag op. Santie gaan saam om die fotografie deel van die toer te hanteer. Ek vermoed ek gaan iets hier leer.



Die teerpad na Harrismith word vinnig afgestof, maar die trok herinner my gou dat haar tande lank is. Onder die enjinkap is daar 'n geweeklaag en 'n gekners van tande. Altenator se bearing. Dis Sondag! Namiddag. Regtig! Maar geen probleem word op 'n leë maag opgelos nie. Wimpie toe, en 'n broodjie met 'n groot koffie later kry ons die Midas oop - wonderwerk. 'n Besonderse goeie dosis Q20 en Copper Slip laat die geluid bedaar, tot omtrent op die vlak van die gebrom van my maag voor Sondag middagete.




Nou moet daar stof gemaak word.  Die SS1101 vanaf Harrismith na Geluksburg is 'n juweel. Die pad kronkel deur die landelike gebied, tussen huisies deur, bokke wat op die pad loop en smal enkelvoertuig bruggies wat rivierlope oorsteek. Die berge vertoon kontraste van asgebrande swart, grasgroen uitgroeisels en skakerings van blou en bruin soos die berge en valleie die verte invloei. Manjefiek.

Die pas val  vinnig teen die berg af tot onder in die vallei se vloer - dis waar jy Geluksburg aantref. 'n Piepklein dorpie uit vergange se era - sommige huisies met kleurvolle potplante op 'n helder geverfde stoep.


Aandete? Die Sandford Country Hotel, gestig in 1852, het goeie kamers en 'n besonderse uitsig, maar vanaand, geen aandete nie. Ons ry na die Tower of Pizza (R74, rigting Harrismith) en word bederf met 'n gesellige ete. En 'n yskoue bier.






More gaan ons verder suid, rigting Underburg, maar eers gaan ons na die kaalvoetvrou kyk. Die bearing is nog stil. Die Q20 is gereed.

MooiLoop

Sunday, April 26, 2020

Hier K@k ‘n Band, Meneer!


Desember 2015, die land is in die greep van ’n hittegolf soos min gesien.  Amper soos nou; nou hou ‘n virus ons in die huis, toe het die son ons naby ‘n lugversorger gehou, in jou huis of motor.

Ons moet Kaap toe, sien, komende vanaf die Kalahari is ‘n hittegolf nie noodwendig buite die normaal nie.  In die Coetzee’s se huis word ‘n pad selde twee keer gery – maak nie saak of die bestemming dieselfde is nie, en daar moet stofpaaie betrokke wees.  Daar is eenvoudig te veel om te sien in hierdie wonderlike land van ons.

So vat ons die pad – teer tot by Gariep, slaap by Ovison, daarvandaan allerhande agterpaaie na Prins Albert, Swartbergpas, Die Hel, Calitzdorp, Ronnie se Sekswinkel, Barrydale, kuier by my ma in Gordonsbaai, en dan slaap ons oor in die Paarl by vriende.  En dis waar die storie begin.

Sien, toe ons by die Pretorius’e aankom, in die Paarl, toe kook dit. 40 Grade plus.  Die eerste keer sit ek in die kar en wag vir die vrouens in die winkel - terwyl die enjin luier en die lugversorger loop.  Die probleem is die humiditeit – dit druk my dood, en ek begin verlang na die woestyn.  Enige toekomsdroom van Kaap toe trek verdamp net daar.  Die aand slaap ons in die plaashuis, en soos enige goeie plaashuis is die stoep toegebou – met die gevolg dat die kamers in die middel van die huis ‘n bakoond is, warm.

04H00 die volgende oggend is ons op, drink koffie en word die trok gelaai.  Die trok is ‘n ’99 V8 Discovery 2.  Ingerig vir die lang pad.  Stofpad.  Bainskloof, Ceres nog voor die petrolpompe behoorlik oop is.  Dan die R355 – een van die paaie op my om te doen lys.  Die padteken wat wys “hier hou die teer op” doem op en my hart sing – die trok is gelukkig.


So 30 km in die pad af is daar ‘n draai in die pad, met ‘n skaduboom en ‘n plek om te eet.  Belinda haal die koffie en broodjies en eetgoed uit – daar is niks soos ‘n lekker beker koffie met ‘n ietsie in die hand lang ‘n grondpad nie.  Die pad draai noord en ons is gewaarsku om nie vining te ry nie – hierdie pad vreet bande op, en dis hoeka die laaste reis wat hierdie stel bande onderneem.

So klompie grade verder op die sonmeter stop ons by ‘n Ford Ranger, wiele in die lug.  “Alles oraait? Kan ek help?”  Nee oom, reken die mater, die wielmoere het losgekom en die “studs” teen die drom afgebreek – ek kan nie help nie, maar hulle is reeds besig met ‘n plan.  Ek maak sommer dadelik seker die trok se wielmoere is vas, maar eers toe ek buite sig is van die Ranger.


Die Tankwa Padstal is toe, en ons stoot aan – Calvinia toe.  Ons slaap daar vanaand.  Iewers langs die pad is daar klipstapeltjies teen ‘n “cutting” - ons stop en voeg ons eie daartoe.  

Die vlaktes is wyd en die stilte is groot.  Die berge in die verte is verskillende skakerings van grys en blou.  Die grondpad is gryswit en reguit – die toekoms in.  As jy mooi konsentreer sal jy sulke swart en wit strepies sien – dis die dae en nagte wat aankom.  Die son brand blou-wit, die metertjie wys 42 grade.  Maar daar is geen haas nie, en ons het nog nie ‘n ander motor gesien nie – niks.  Afdraai paaie na huise of poste is so 15 – 20 km uitmekaar, en dan kan jy nie noodwendig die huis van die hoofpad af sien nie.  Afgeleë.

Ongeveer 20km voor Calvinia gaan ons deur ‘n dippie in die pad en ek voel die trok maak so lastige swaai – net soos my rugbyknie in die winter.  Ek stop en weliswaar, regs agter, pap.  Gelukkig het nie die band of die velling seergekry nie.  Die metertjie wys 44 grade – die wiel wat moet af is aan die sonkant van die trok.  Warm genoeg dat jy onder jou hoed “tan”.  Die snotproppe wou nie die gat toemaak nie.  

Twee vrouens in ‘n Isuzu kom van die dorp se kant af by ons verby – hulle praat so baie dat hulle ons nie eers sien nie; gooi stof op ons en maal verby.  Almal werk saam en sonder te veel moeite is die wiele geruil en is ons oppad. 

Dit is Saterdag knap voor 13h00 en ek het ‘n behoefte aan ‘n spaar band.  Soos ‘n herderskim duik Supa Quick op soos ons Calvinia inry, onmiddelik draai ek in.  Ek hoor of hulle die spaar vir my kan herstel – ek weet dis Saterdag maar ek moet more huistoe, motiveer ek.  Natuurlik sal hulle help.  Band af – moeilikheid, 2 groterige gate; die band kan nie herstel word nie.  Ons redekawel en uiteindelik vind 2 groot “gaters” hulle weg na die binnekant van die band – hierdie outjie reis van nou af verder op die trok se rug.

Ek verwyl my tyd deur orals in te loer en praatjies te maak.  Daar is ‘n stoor met gebruikte bande.  BF Goodridge, MAXXIS, Good Year en nog ander – maar hulle is gaar, dit lyk of hulle deur ‘n motteplaag aangeval is.  Orals gate in die loopvlak en stukke rubber weg.  Klipwêreld.  Synde ek dan nou op die drempel is van nuwe bande koop vra ek die man in die stoor of hy, met sy ervaring, enige band sou aanbeveel – hy kyk my reguit in die oë en sê; “met daardie bande wat jy het sal jy hier so 7 tot 8 papwiele ‘n jaar kry, met daardie sal jy so 3-5 papwiele ‘n jaar kry, maak nie saak nie meneer, hier kak ‘n band.”

Ek verstaan.

MooiLoop.