Wednesday, September 26, 2018

Dis duur om toilet toe te gaan! (#11)

Les nommer 1 vir Europa toer - begroot om toilet toe te gaan. Punt.  Maak nie saak hoe groot of sterk jou blaas of ander dele van jou anatomie is nie - iewers gaan jou anatomie en die natuur in "sinc" kom en dan het jy 'n probleem; knyp werk net tot op 'n punt.
Nou - om daardie benoude gevoel tot stilte te dwing moet jy by 'n fasiliteit genoem die WC aandoen.  Ongelukkig is daar by die meeste van daardie fasiliteite 'n hek, en om daarby verby te kom moet jy van 50 Euro sente to 1 Euro deponeer. Die hek swaai oop en meeste van die tyd is die plekke darem redelik tot goed skoon. Verligting volg.

In Switserland het ek my 1 Euro opgemaak deur die spoel knoppie 'n paar keer te druk - want dan kom daar so boksie uit die muur uit en die sitplek draai self in die ronde en daar kom so armpie uit wat die sitplek ontsmet en die sitplek gaan staan dan weer op sy plek - reg vir die volgende paar boude. Te oulik.

Met die huidige wisselkoers (ZAR na Euro) kos dit jou dus tussen ZAR9 en ZAR18 om die WC te besoek.

Die onmiddelike vraag was daarom - hoe bestuur jy die koste van hierdie oefening? Maklik - drink en eet minder!  Regtig? Dokter Ruth sal in haar graf omdraai want sy het lankal vir ons verduidelik hoe belangrik dit is om te hidreer, met ander woorde om baie water te drink. En met 76% humiditeit, nie maklik nie.

Dit bring ons by die volgende uitdaging - water uit die krane is nie noodwendig geskik vir drink nie, en kan jou daarom dwing om die WC meer gereeld te besoek. Absoluut teenproduktief en 'n frustrasie vir mede reisigers. Om 500ml gebottelde water te koop kan jou ook enigiets tussen 1 - 3 Euro uit die sak jaag. Natuurlik hang dit af waar jy dit koop, maar indien jy heeldag op die pad is, is die waarskynlikheid groot dat jy gebottelde water in 'n nice koelkas sal kry op jou pad uit nadat jy jou draai by die WC gemaak het - en omdat jy weet hoe belangrik dit is om te hidreer en jy elk geval dors is, koop jy 'n botteltjie vir jou en vir moeksie - want jy soek nie 'n uitgedroogte vrou nie.

Dit is toe nou hier waar ek 'n "conspiracy" vermoed - die geldmag het ook hier toegeslaan.  Kom ons veralgemeen - jy drink ten minste 2 botteltjies water teen 1 Euro elk (ZAR36) en daarom moet jy die WC ten minste 2 keer besoek teen 1 Euro elk (ZAR36). Dt is ZAR72 per dag per persoon om te doen waaroor jy geen beheer het nie.  En soos ons almal weet raak die besoeke aan die WC meer soos die ouderdom jou bekruip ... met die gevolglike finansiele implikasies. 

Sameswering sê ek vir jou! Dis duur om toilet toe te gaan in Europa.

O ja, en jy moet asseblief onthou om die koepon te neem by die WC hek, dit is 50 Euro sente werd en kan gebruik word as afslag op die wegneem koffie wat gaan koop, vir die pad natuurlik.

Monday, September 24, 2018

Nou gaan ons braai! (#10)



Sondagmiddag groet Den Haag ons met 'n mistroostige reën en wolk skerm. Ek wens ek kom daarvan saamneem vir ons droeë land, maar helaas. 
Die terugreis word aangepak en ons land moeg in Johannesburg, Ilke verwelkom ons met 'n koffie in die hand. Ons ry terug aan die regte kant van die pad, ek sien 'n hawelose (?) op die middelman - hy het 'n flenter oorpak aan met selfoon oorfone in sy ore. 
Ons pak af en besef ons wiele is pap. 
Maar voor ek kan aftrek en toeplak, is daar ietsie wat gedoen moet, net om die sisteem reg te kry - NOU gaan ons braai! Man moet  mos vleis eet en 'n behoorlike koue bier drink. MooiLoop.
Gegroet Paul en Karin!

Die Mense wat jy ontmoet as jy reis (#9)

Die doel van reis, vir my, is om my horisonne te verbreed. Om te sien hoe ander bly, werk en sosiaal verkeer. Dis goed en sleg, want jy kan die mooi en swaar van ander se lewens ervaar. Wat my opgeval het is dat ek net twee bedelaars in die hele reis van 3800km gesien het. Duitsland en Oostenryk is uiters georganiseer, Switserland is beeldskoon en ongelooflik duur, en die stuk van Italie wat ons gesien het is arm. 
Maar die mense is gasvry en bly om ons te ontvang.  Maar drie mense het 'n indruk op my gemaak.

By die B&B in Italie ervaar ons die groter as die lewe persoonlikheid - Alessia. In 'n omgewing van smal paadjies met bromponies en waar Engels bykans nie bestaan nie, is sy die ene wat met 'n groot glimlag, 'n uitbundige lag, huppel in die stap en oordrewe handgebare dinge vir ons maak werk. Niks is te klein of groot  nie. Sy is 25, bly by haar ouers, het 'n 3 jarige kind, werk as onderwyser van Maandag tot Vrydag in die voormiddag en Dinsdag tot Sondag in die namiddag by die B&B. Geld is min en die lewe duur - maar sy maak dit werk met 'n smile.

In Iseo is ons kelner 'n laat 20er Italianer. Lank en maer met 'n bos krulhare, 'n breë glimlag en 'n harde stem. Hy is opgewonde want die naweek gaan hy op verlof, hy en sy hond, Spanje toe om te gaan "surf". As hy genoeg geld het sal dit wees wat hy doen tot volgende jaar toe. Life is good.

In Den Haag ontmoet ek vir Johan.  Hy is verby 60, ongetroud en ek vermoed afgetree.  Hy is alleen en praat baie as hy die kans kry.  'n Turk van herkoms, 'n Moslem wat Christen geword het. Hoe gebeur dit? Op 21 het hy 'n afbeelding van Jesus gesien en geweet dit is God  - net so! In Oktober 2009 het hy na 'n Katolieke kerk in Den Haag gegaan en gevra dat hulle vir hom moet bid, hom moet aanneem en later is hy ook gedoop. MAAR, dis juis die liggaam van Christus, die kerk, wat hom verstoot in plaas van intrek. Hy skenk 'n skildery en dit word aan hom teruggegee, hy sluit aan by 'n selgroep en hulle sê hy praat te veel, hy hou 'n kunsuitstalling in die kerk en word geboikot - almal stap uit na die diens. Hy sê hy ervaar baie aanslae van die duiwel - in die nag, en hy beskerm homself met Jesus se naam. Hy versamel musiek instrumente en kameras. Hy is besig met 'n interresante skildery van die verlore seun. Voorwaar 'n interresante mens  - hy het gebed nodig. Bid vir hom.

Dis voorwaar die mense op jou reise wat reis die moeite werd maak.
(Geen fotos word geplaas nie om die onskuldiges te beskerm.) 😉

Friday, September 21, 2018

Regdeur Duitsland tot by die Rhyn en terug na Den Haag (#8)

Elke reis het 'n begin en 'n einde, hierdie ene is soos in 'n aflos, in die derde been, volspoed om die laaste draai. In Rudlingen slaap ons by die B&B in the Green. Ons gasvrou is Cynthia, en toe Belinda die naam hoor verlang sy sommer huistoe. 
Deur die nag reën dit en toe ons opstaan voel dit kompleet of ons in Swakop is.  Een ding is verseker, sonder 'n GPS of Google Maps gaan jy jouself tot in die volgende geslag verloor.


Die teerpad na Rudesheim am Rhein ('n dorpie by die Rhyn rivier) is lank en uitputtend.  Paul hang aan die stuurwiel, ek weet nie so lekker wat agter in die kar aangaan nie, maar ek doen my bes om wakker te lyk.
Ons laai af by die Gastezimmer en ry dadelik om die ou dorpie in Rudesheim te besigtig.  
 
   
 
  
Ons bekyk die kerk, die Boosenburg Kasteel en 'n wyn museum. Ons eet 'n schnitsel en drink 'n bier. Maar ek moet bieg - boetie is nou moeg. Die afgelope twee weke was 'n warrelwind van plekke, dorpe, paaie, besienswaardighede  - ek is totaal visueel oorgestimuleer.


Die laaste been van die reis ons na Monschau en dan na Den Haag. Ons trek weg uit Rudesheim met 'n besonderse blou lug en vliegspore orals.  Die uitsig van bo die heuwel is uitsonderlik.  




Eers dink ek Monschau gaan net nog 'n dorpie wees, wat in 'n mate waar is. Om by die ou gedeelte van Monschau te kom daal jy in 'n vallei af, en dit is juis dit wat die dorpie uniek maak ek dalk aan die bopunt van die ervarings plaas.
Dis dieselfde argitektuur as by die ander dorpe, maar die manier hoe dit in die vallei gebou is, met brue heen en weer oor die rivier is wat dit anders maak.  


Ek dink ons het by hulle geleer, selfs in die klein dorpie is daar verskeie kerke. 







Daar is ook St Antonio se Kapel en 'n interresante fontein wat 'n wewer, 'n verwer en 'n knipper.












By die parkering staan 'n Ural motorfiets met 'n sidecar - gelukkig vat ons die laaste deel in die Land Rover wat heelwat vinniger is. Ons kom veilig by die huis aan, net betyds want die wind waai en dit begin reën, die venster op lekker weer het toegemaak - die Hollanders se winter het begin.


Nou ja, so is die dan ook nou klaar - 'n besonderse reis teen 'n besonderse tempo uitstekend gereël deur toermeester Karin en veilig afgelê der meester bestuurder Paul. Met dank.
Ek publiseer fotos later  - auf wedersehen.
 Vir nou pak ek eers my stapskoene in.

Wednesday, September 19, 2018

Villa Catherina tot Rudlingen (#7)

OK, ek is besig om die plot te verloor. Ons reis nou al konstant vir meer as 'n week en sien verskeie plekke op 'n dag. Op hierdie stadium dink ek Doris Day is 'n vakansiedag.
Vanoggend het ons uit Iseo (Villa Catherina) vertrek en met 'n konstante spoed deur die Alpe gereis om vanaand by Rudlingen te slaap. Watter ongelooflike landskappe.  




    
Net om seker te maak ons raak nie verveeld nie gaan maak ons 'n draai by die Iseo lake en ry met die ferrie oor na die eiland Monte Isola. Oppad terug kry ons 'n hewige bui reën - wat 'n plesier, en ons kelner is 'n Italianer wat die naweek Spanje toe gaan vir sy branderplankry vakansie, hopelik tot volgende jaar toe. Hy, sy hond en sy trokkie.
    



Die Italië gedeelte vas die landskap meer onversorg en soos jy die grens na Switserland toe oorsteek is dit 'n weer een groen tapyt na die ander. 
Watervalle uit die berg en strome water orals. Uitmuntend - ek dink die Duitsers gebruik 'n waterpas om hulle lande tussen die woude uit te lê.
Ons stop by 'n gerestoureerde dorpie uit die middel eeue, Bondensee und Rhein, en loop 'n klooster museum binne. Ook iets om te beleef.





 Ons ry op teen die berg om te gaan kyk hoe die Hochenklingen Kasteel lyk. Dis moeilik om te glo mense het daar geleef en geveg. Die uitsig vanaf die kasteel is asemrowend. Kyk maar self.
More is die tweede laaste dag van die reis wanneer ons die pad Rudesheim und Rhein toe vat. My asem raak nou op. MooiLoop.

Tuesday, September 18, 2018

Suidwaarts na La Spezia (#6)

Saterdag maal ons suidwaarts om by La Spezia uit te kom. Maar eers moet ons 'n besonderse "pas" gaan ry. Dis 'n pad deur 'n spleet in die berg, ongelooflik. Ek kry nie die naam van die pas nie, maar orals is borde op wat ons waarsku teen fietsryers.



Ons kom uiteindelik by ons bestemming aan en boek in by 'n werkende boerdery hoog teen die berg met die ongelooflikste uitsig en kamers. La Burlanda is die plek se naam en dit het iets met narre te doen.



Ons jaag La Spezia toe en ek is teleurgestel - die hawedorp is vuil en verwaarloos. Die jongmense, meer kinders as jy my vra hang uit, op verskeie maniere.
Die La Spezia area is eintlik deel van 'n natuurpark, waarvan vyf dorpies eintlik die aantrekkingskrag is.

   





Vroegoggend (sonder ontbyt) maal ons La Spezia toe, om die trein te kry na die vyf dorpies toe. Die plan is eenvoudig, ons begin by die verste ene en werk hulle een vir een deur. Daar gaat ons. Trappies, stegies, draaitjies, hokkies geel, rooi en nog een of twee kleure. Wasgoed wat op balkonne of by vensters uit hang. Piepklein eetplekkies en winkeltjies, wat allerlei linne klere, kaggel goedjies en die normale Made in China verkoop.
Dit is warm, en vogtig. Ek sweet soos ek laas op militêre opleiding gesweet het - en plak orals vas. Die eerste dorp het 200 trappe om tot by 'n kerkie te kom. Die derde dorp het 400 trappe (een rigting) om van die stasie tot in die dorp te klim. Ons besluit om met die bus te ry, maar die toeririste het nie maniere nie en druk in.  Moeksie bars 'n aar en moet wikkel om by te bly, kopseer ofte nie.
Nou ja, uiteindelik verander die laaste twee dorpies in 'n  vertrapping en koes ons die hasepad huistoe. Langs die pad koop ek 12x500ml water vir 3 Euro, terwyl die toeririste winkels tot 3 Euro een vra.
Terug by die blyplek is die eerste saak van orde om twee keer te sort. Dan 'n bier. More begin die Land Rover se neus noord-wes draai, terug na Holland.

Sunday, September 16, 2018

Lake Garda tot Verona - op 'n Drafstap (#5)

Regstelling om te maak - Heidi is van Switserland en nie van Oostenryk, ek het darem die Alpe in gedagte gehad. Gelukkig los speurder Lynn die raaisel op en bevind dat Peter vir Heidi ontvoer het. Opgelos.
Verder, laat ek dit in geen onduidelike terme verklaar, selfs ek kan moeg raak vir smal paadjies, bergpasse en stegies - voeg daarmee saam 'n vertrapping toeriste, dan is ek sommer gatvol.
Gister het ons Monte Baldo en Malcesine besoek  - dit is weerskante van die Garda Meer. Tipies Italiaanse dorpies wat 'n ernstige mengsel van oud en nuut, met toeriste goetertjies en pryse naby aan die water en meer normale gedoentes een of twee strate van die water af. 




 Maar, as daar in enige stadium twyfel by jou was oor die krag in jou kuite en boude, kom loop so ietwat hier rond. Op en af met nou gangetjies het 'n nuwe betekenis gekry. Warm en vogtig het dit meeste van die tyd onaangenaam gemaak, dit was kompleet of ons Durban in die somer besoek het, darem sonder die reuk van kruie.

Interresant is die teenstrydighede van geboue wat van buite uitmekaarval, maar wanneer jy na binne kyk, is die mure glad gepleister, mooi wit geverf en die inhoud baie modern. Die plaaslike mense is eintlik baie vriendelik en giggel hulle dood vir ons poging om koffie te koop. Een van die toeriste het 'n goue ketting om sy nek wat ons myn vakbonde in koue koors sal laat uitslaan.


Vanoggend spring ons weg met 'n plan om na 'n werklik outentieke dorpie te gaan sodat ons kan sien hoe dit werklik lyk - die uitdaging is om die regte name op Google Maps in te lees, en so ook met die regte spelling. Die gevolg is dat ons die verkeerde dorp  (Molina de Ledro) met die regte naam aan die verkeerde kant van meer besoek, maar dit was nog steeds die moeite werd. 


Weereens 'n kerkie wat jou asem wegslaan.

Ons lees die regte naam (Parco Delle Cascace di Molina) in, ry om die meer en begin die berg bestyg. Ek het nog nie so baie kronkels in een pad teen so 'n helling vir so lank gery nie. 
7 en 8 Grade draaie was aan die orde van die dag, gelukkig was dit teer. Sal nie graag daardie padjies met sneeu wil aanpak nie. Die uitsig is ongelooflik en jy word gereeld verras met 'n klein dorpie reg teen die pad, en ek bedoel reg teen die pad. Ons enkel lane dien as tweerigting verkeer, en die maters aan hierdie kant van die water het geen vrees nie. 


Interresant is die gebruik van graniet stene om die paadjies te omring, maar ook graniet stene van omtrent 60cm x 1000cm te dien as dakteëls.





  Ons kom by die park van watervalle (Parco Delle Cascace) aan - blykbaar is hier 'n swaai by 'n waterval. Dis nou waar ek respek vir Moeksie kry. Die voortrekkers se vrouens het die Drakensberge kaalvoet aangedurf, Moeksie stap die park se op en afdraendes sommer met winkel plakkies. Respek. Ek gaan haar nie weer kwaad maak nie. Ons kry die swaai en ons swaai in die aangesig van die waterval - nogal lekker moet ek sê.
Omdat ons toe al klaar aan die anderkant van die berg was besluit ons om sommer 'n draai by Verona te maak. Wat 'n belewenis - 'n besige stad vol geskiedenis en 'n mengelmoes van mense. Mooi en jonk tot opgesmuk tot verwaarloos - blink swart karre, motorfietse, bromponies, fietse en plakkies.
Almal loop rond en beloer die stad. Ons bekyk die stadsmuur, die kasteel, die plein, en nog meer. Ek vermoed dat daar ook 'n Grand Toerismo wedren moes wees, want oral sien jy toeriste wat hulle tasse rondsleep - vreemd. O ja, en jy moet onthou om regs, link en weer regs te kyk, anders ry 'n Italjaner jou om.
 
Oppad terug na die kar loop ons  by die stadsaal verby, daar moet 'n spoggerige affêre aan wees, want die mans is almal mooi aangetrek in linne pakke en pragtige skoene - maar ek dink hulle het 'n geld gekort; hulle broekspype is heeltemal te kort en hulle het nie kouse nie.
Nou ja, more vat ons die pad verder suid om uiteindelik by La Spezia uit te kom. Laat die wiele rol. Praat later.