Tuesday, September 18, 2018

Suidwaarts na La Spezia (#6)

Saterdag maal ons suidwaarts om by La Spezia uit te kom. Maar eers moet ons 'n besonderse "pas" gaan ry. Dis 'n pad deur 'n spleet in die berg, ongelooflik. Ek kry nie die naam van die pas nie, maar orals is borde op wat ons waarsku teen fietsryers.



Ons kom uiteindelik by ons bestemming aan en boek in by 'n werkende boerdery hoog teen die berg met die ongelooflikste uitsig en kamers. La Burlanda is die plek se naam en dit het iets met narre te doen.



Ons jaag La Spezia toe en ek is teleurgestel - die hawedorp is vuil en verwaarloos. Die jongmense, meer kinders as jy my vra hang uit, op verskeie maniere.
Die La Spezia area is eintlik deel van 'n natuurpark, waarvan vyf dorpies eintlik die aantrekkingskrag is.

   





Vroegoggend (sonder ontbyt) maal ons La Spezia toe, om die trein te kry na die vyf dorpies toe. Die plan is eenvoudig, ons begin by die verste ene en werk hulle een vir een deur. Daar gaat ons. Trappies, stegies, draaitjies, hokkies geel, rooi en nog een of twee kleure. Wasgoed wat op balkonne of by vensters uit hang. Piepklein eetplekkies en winkeltjies, wat allerlei linne klere, kaggel goedjies en die normale Made in China verkoop.
Dit is warm, en vogtig. Ek sweet soos ek laas op militêre opleiding gesweet het - en plak orals vas. Die eerste dorp het 200 trappe om tot by 'n kerkie te kom. Die derde dorp het 400 trappe (een rigting) om van die stasie tot in die dorp te klim. Ons besluit om met die bus te ry, maar die toeririste het nie maniere nie en druk in.  Moeksie bars 'n aar en moet wikkel om by te bly, kopseer ofte nie.
Nou ja, uiteindelik verander die laaste twee dorpies in 'n  vertrapping en koes ons die hasepad huistoe. Langs die pad koop ek 12x500ml water vir 3 Euro, terwyl die toeririste winkels tot 3 Euro een vra.
Terug by die blyplek is die eerste saak van orde om twee keer te sort. Dan 'n bier. More begin die Land Rover se neus noord-wes draai, terug na Holland.

No comments:

Post a Comment