Sunday, September 16, 2018

Lake Garda tot Verona - op 'n Drafstap (#5)

Regstelling om te maak - Heidi is van Switserland en nie van Oostenryk, ek het darem die Alpe in gedagte gehad. Gelukkig los speurder Lynn die raaisel op en bevind dat Peter vir Heidi ontvoer het. Opgelos.
Verder, laat ek dit in geen onduidelike terme verklaar, selfs ek kan moeg raak vir smal paadjies, bergpasse en stegies - voeg daarmee saam 'n vertrapping toeriste, dan is ek sommer gatvol.
Gister het ons Monte Baldo en Malcesine besoek  - dit is weerskante van die Garda Meer. Tipies Italiaanse dorpies wat 'n ernstige mengsel van oud en nuut, met toeriste goetertjies en pryse naby aan die water en meer normale gedoentes een of twee strate van die water af. 




 Maar, as daar in enige stadium twyfel by jou was oor die krag in jou kuite en boude, kom loop so ietwat hier rond. Op en af met nou gangetjies het 'n nuwe betekenis gekry. Warm en vogtig het dit meeste van die tyd onaangenaam gemaak, dit was kompleet of ons Durban in die somer besoek het, darem sonder die reuk van kruie.

Interresant is die teenstrydighede van geboue wat van buite uitmekaarval, maar wanneer jy na binne kyk, is die mure glad gepleister, mooi wit geverf en die inhoud baie modern. Die plaaslike mense is eintlik baie vriendelik en giggel hulle dood vir ons poging om koffie te koop. Een van die toeriste het 'n goue ketting om sy nek wat ons myn vakbonde in koue koors sal laat uitslaan.


Vanoggend spring ons weg met 'n plan om na 'n werklik outentieke dorpie te gaan sodat ons kan sien hoe dit werklik lyk - die uitdaging is om die regte name op Google Maps in te lees, en so ook met die regte spelling. Die gevolg is dat ons die verkeerde dorp  (Molina de Ledro) met die regte naam aan die verkeerde kant van meer besoek, maar dit was nog steeds die moeite werd. 


Weereens 'n kerkie wat jou asem wegslaan.

Ons lees die regte naam (Parco Delle Cascace di Molina) in, ry om die meer en begin die berg bestyg. Ek het nog nie so baie kronkels in een pad teen so 'n helling vir so lank gery nie. 
7 en 8 Grade draaie was aan die orde van die dag, gelukkig was dit teer. Sal nie graag daardie padjies met sneeu wil aanpak nie. Die uitsig is ongelooflik en jy word gereeld verras met 'n klein dorpie reg teen die pad, en ek bedoel reg teen die pad. Ons enkel lane dien as tweerigting verkeer, en die maters aan hierdie kant van die water het geen vrees nie. 


Interresant is die gebruik van graniet stene om die paadjies te omring, maar ook graniet stene van omtrent 60cm x 1000cm te dien as dakteëls.





  Ons kom by die park van watervalle (Parco Delle Cascace) aan - blykbaar is hier 'n swaai by 'n waterval. Dis nou waar ek respek vir Moeksie kry. Die voortrekkers se vrouens het die Drakensberge kaalvoet aangedurf, Moeksie stap die park se op en afdraendes sommer met winkel plakkies. Respek. Ek gaan haar nie weer kwaad maak nie. Ons kry die swaai en ons swaai in die aangesig van die waterval - nogal lekker moet ek sê.
Omdat ons toe al klaar aan die anderkant van die berg was besluit ons om sommer 'n draai by Verona te maak. Wat 'n belewenis - 'n besige stad vol geskiedenis en 'n mengelmoes van mense. Mooi en jonk tot opgesmuk tot verwaarloos - blink swart karre, motorfietse, bromponies, fietse en plakkies.
Almal loop rond en beloer die stad. Ons bekyk die stadsmuur, die kasteel, die plein, en nog meer. Ek vermoed dat daar ook 'n Grand Toerismo wedren moes wees, want oral sien jy toeriste wat hulle tasse rondsleep - vreemd. O ja, en jy moet onthou om regs, link en weer regs te kyk, anders ry 'n Italjaner jou om.
 
Oppad terug na die kar loop ons  by die stadsaal verby, daar moet 'n spoggerige affêre aan wees, want die mans is almal mooi aangetrek in linne pakke en pragtige skoene - maar ek dink hulle het 'n geld gekort; hulle broekspype is heeltemal te kort en hulle het nie kouse nie.
Nou ja, more vat ons die pad verder suid om uiteindelik by La Spezia uit te kom. Laat die wiele rol. Praat later.

1 comment:

  1. Dit moet iets wees om te ervaar! Dankie vir die opdaterings. Geniet dit verder.

    ReplyDelete