Monday, December 21, 2020

Sederberge - Rooibos Heritage Route, Wupperthal en die Stadsaalgrotte

Wanneer jy besef dat die reis net so belangrik is as die bestemming, dis dan waar jou oë vir die ruwe en asemrowende skoonheid van ons land oopgaan.  Wanneer jy wonder watter ander pad daar is as ‘n breë teerpad, dan begin jy verstaan hoe lekker dit is om padkos en koffie langs die pad te geniet, om ure te ry sonder ander voertuie in sig, en wanner jy ‘n ander reisiger sien, word die hand gelig in ‘n groet – wanneer jy reis en stop sonder beplanning, om ‘n foto te neem of om net in angstige onvermoë die landskap gade te slaan – en te weet dat ongeag watter hoek jy neem, niks vir ander kan vertel wat jy tans sien en beleef nie. 

Stofpaaie en vrotpaaie is kos vir die siel, al sorg dit soms vir ‘n knoop in die derm!  Dis die ervaringe waarvan stories en herinneringe (memories) gemaak word.

2017.  Ons reis vanaf Pretoria met ‘n wye draai na die skone Kaap en terug – hierdie keer deur die Sederberge; die berge wat hulle naam te danke het aan die Clanwilliam Sederboom, wat endemies van daardie omgewing en baie raar is. 

Van Nieuwoudtsville ry ons die Rooibos Heritage Route tot by Wupperthal en daarvandaan na die Stadsaalgrotte.  In Wupperthal ontmoed ons vir Albert, wat vir baie jare reeds die skoenfabriek bestuur, en elke dag 6 km in en uit stap – werk toe en terug.



Die Stadsaalgrotte is ‘n besonderse plek om te wees –  ‘n groep grotte wat deur gange aan mekaar verbind is, gange wat deur jare se wind en ander erosie uitgekerf is.  Buitekant flymskerp rotse, afgeëts teen die helder son en binnekant, glad.

Anders as die Boesmantekeninge wat verwag kan word, pryk daar name van mense teen die wande van die grotte, so ver terug as die 1800’s.  Nogal prominente name ook.  Ek wonder baie oor die gesegde van “gekke en dwase skryf hulle name op mure en glase (of so iets).”

Die grotte opsigself is ‘n fotograaf se droom. Buitengewone vorms, kleure en lig sal jou kreatiewe self besig hou, veral om die grotte se oranje en bruin skakerings (die werk van yster oksied) in beeld vas te vang.


        


Interresant van die Sederberge is dat dit ook plek het in die Anglo Boereoorlog, toe ‘n klein Boere Kommando daar probeer het om opstand teen die Britse regering te bewerkstellig.
  Hulle het gefaal.  Daar is egter ‘n staaltjie van ‘n Engelsman, Luitenant Clowes, wat saam met sy patrollie deur die Kommando in ‘n lokval gelei is en almal het geval.  Daar word verder vertel dat die Kommando deur ‘n enkele Engelsman  gekonfronteer is en geeis het dat hulle oorgee.  Die Boere wou nie oorgee nie en die Engelsman wou nie bes gee nie – wat tot sy dood gelei het.  Presies hoe al hierdie drade inmekaarsteek is ek nie seker nie, maar waar die Engelsman geval het, word vandag Engelsmankloof genoem.


Die Sederberge is ryk aan geskiedenis en foto oomblikke – gaan kyk self.  

Kom ry saam.

Saturday, November 28, 2020

Sesriem, Duin 45 en Sossusvlei

 

Toerismeplek; emmerskoplys bestemming; heilige plek; fotografie bestemming.  Sossusvlei, majefieke rooi duine wat uit die dorre aarde opstaan, al ‘n miljoen keer gefotografeer, en tog is die vernis nog nie eers afgekrap nie.  Afhangende van wie jy is en hoekom jy reis het Sesriem met sy rooi duine en die Dooie Vlei met sy wit klei vloer verskillende betekenisse.  

Vir baie is dit ‘n pelgrimstog, erg gefrustreerd deur malende toeriste wat net nog ‘n plek op hulle lysie wil aftik. 

Vanaf Sesriem loop die duine amper 60km weerskante van die pad, verby Duin 45 tot by die Dooie Vlei.  Die duine weerskante van die pad is “ster duine”, tot 220m hoog, wat hulle besondere vorm te danke het aan die altyd teenwoordige wind wat ewe sterk van alle rigtings af waai.  Yster oksied sorg vir die besonderse rooi kleur van die duine met swart magnetiet (magnetite) wat donker kwasstrepe daarteen maak.

  

Geen twee fotos is dieselfde nie.  Die duine speel verkleurmannetjie tussen oggend- en aandlig, en in die middag word alles oorbelig.  Vroegoggend vries jou voete in die koue sand en net ‘n knikkie later stroom die sweet teen jou gesig af wanneer jy Duin 45 se sand piek aandurf.  Duin 45, ongeveer 45 km vanaf Sesriem, is die toeriste se duin, almal wil daar op, en dis ‘n moet.  80m bo die vloer van die vallei is dit ‘n uitdaging vir enige paar bene – gaan vroeg, sit ‘n hoed op en vat water saam.  Geen terugkeer daarna laat jou onaangeraak nie.  Nie as jy jouself net ‘n oomblik se stilte, met toe oë en ‘n ligte Namib bries in die gesig toelaat nie.

Sossusvlei wat in Nama “plek waar die water bymekaarkom of doodloop” beteken, is die einde van die droeë Tsauchab Rivier, ‘n kurkdroeë wit kleipan wat net in uitsonderlike nat jare water kry.  

In die vlei poseer 900 jaar oue Kameeldoring boomstompe trots vir die volgende fotograaf om dit deel te maak van sy storie - swart gebrand deur die son, geduldig.  Probeer vir ‘n oomblik jouself afsluit van die duisende voete wat die laaste 500m vanaf die parkering loop en drink die algehele verlatenheid in; hoe sou dit wees sonder al die mense wat daar maal?


 Godgeskape.  Beeldskoon.

Kom ry saam.

Absolutegravel@gmail.com

Friday, October 16, 2020

Rondom Lesotho 2020 - Elke Perd het sy eie Stal

 

Die son steek sy kop uit oor die Vrystaatse vlakte en kondig so die laaste dag van ons reis aan. Terwyl ons na die RSG luister om te hoor wat in Senekal aangaan, drink ons koffie en eet 'n beskuitjie. Ons is maar almal bekommerd.





Ons groet en vat die pad, net om by die Berry Padstal te stop vir 'n dermvullertjie - in my geval, 'n tuisgemaakte kerrie javel. By die Fouriesburg kruising stop ons by die volgende padstal - die ene is vol snuisterye en het selfs 'n museum vol van allerhande ou goete uit die gemeenskap.



Ons stop by die Surrender Hill Gedenksteen. Die plek het besonderse betekenis in ons geskiedenis. Dis hier waar 4300 boere aan die Engelse oorgegee het, nadat slegs 2000 saam met Generaal de Wet ontsnap het. Hierna het die gevegstaktieke van die boere begin oorleun na guerilla oorlogvoering. Dis 'n jammerte dat daar mense is wat geen respek vir geskiedenis het nie  - die gedenksteen is gesteel.

In Clarens is die vrouens in hulle noppies. Dit lyk darem of besigheid begin oplewe. Ons  verkyk ons aan die mense dan eet ons 'n laaste aandete by Clementines. Puik.

En so sluit ons die laaste aand van ons reis af. Vreetsaam. Ons bespreek die roete en slaapplekke - ek neem kennis vir die volgende toer. Die lewe is soms gekompliseerd, baie keer as gevolg van die besluite wat ons maak - maar dis nog steeds goed.  More is ons weer almal tuis - elke perd in sy eie stal.


Ek bedink die roete en dit wat ons beleef het. Die wonderskoon en avontuur is beskikbaar vir elkeen, ons moet net bereid wees om dit te gaan soek. Ky kan of na een plek toe gaan en alles daar beleef, of jy kan kan jou rybroek aantrek en gaan soek. Ons mooi is orals, maar die kilometers is baie.

Dankie aan my reismaats, ons maak weer so. Hier is nog so 'n paar onthou fotos.

Tot volgende keer. MooiLoop.









Rondom Lesotho 2020 - Oor Tiffendell se Berge tot in die Vrystaat se Dale

Vanoggend word daar nie tyd gegun vir gras groei onder die voete nie. 05h30 lui die wekkers en word daar koffie gemaak, beskuit geeët en lorries gepak. Vandag is die dag waarvoor ek gewag het - berge en dale. Die son loer oor die berg se rand toe ons die voet van die  Carlisle Pas na Tiffendell oorsteek. Daar is 'n paar bokke in 'n kraal wat bok-bok speel, klouter op alles wat beskikbaar is.

 
Dan, die pas.  Eers niks snaaks nie, elk geval,  niks wat ons nog nie van gehad het nie, en dan - sonder waarskuwing 'n paar opdraendes wat jou 'n loodsmaak in die mond gee. Steil. Skerp draaie, dan nog op - daar is selfs 'n bordjie wat jou aanraai om die revolusies op te hou, die draaie wyd te vat en met selfvertroue te bestuur. Gelukkig is daar sement gegooi anders sou daar baie onderbroeke gewees het wat in die slag gebly het.


Daar is 'n besonderse bekoring om vroeoggend iewers in die natuur te wees, en wanneer dit met afsondering gepaard gaan, dan is dit op 'n volgende vlak van geseënd wees. Blessed. Bo-op die pas sien ons Tiffendell - dis nog toe as gevolg van Covit en daarom mis ons die Ben McDui, die hoogste punt in die Kaap. Ons ry in die rigting van die Volenteershoekpas, net om begroet te word met 'n dam met die blouste water wat ek nog ooit gesien het. Blou en koud. Baie koud. Dis onwerklik blou.

Die pas is meer uitdagend as wat ek gedink het, veral die deel wat afsak na Bidstone toe.

Dele van die pad word herstel met bande waarbinne klippe gepak word - dit werk, maar dit het sy eie uitdagings. Die gradering is 3, maar ek dink dat as jy die pas andersom doen, sal dit baie moeiliker wees en nader aan 'n 2 gradering. Maar wie gee om? Die uitwerk van wielplasing, die geknars van gruis onder die wiele en die lekkerte wanneer jy anderkant uitkom, is 'n vreugde wat sommige sal verstaan.  Moeksie is tevrede, want die pille wat sy drink help dat die derms nie knoop nie.





Ons ry die War Trail, volg die Bidstone Pass en steek Lundean's Neck oor. Niks wat ek kan skryf of sê kan beskryf hoe dit lyk nie, of hoe die landskappe verander soos jy oor 'n piek of deur 'n vallei gaan nie. Hierdie is 'n kom ry dit self sodat jy kan sien.
Maak geen fout nie, dis 'n lang dag van slegte grondpad, maar dis absoluut die moeite werd. 


Ons kom op Oldenburg Lodge aan en word begroet deur enorme Great Dane honde en 'n besonderse uitsig. Daar is genoeg hout vir die vuur en die lug is skoon. Wat 'n voorreg om deur ons land te kan reis.


Nou ja, more die pad na Clarens en 'n "af" dag vir almal om lekker rond te kuier. Vandag was buitengewoon op elke vlak. 

Daar is definitief 'n Skepper.
MooiLoop

Rondom Lesotho 2020 - Rhodes Universiteit is nie op Rhodes nie

Die kilometers is min vandag, maar die tyd is lank. Ons groet vir Philìp by Resthaven met 'n belofte om weer 'n draai te maak - maar die keer om Lesotho in te gaan. Die Orange River Gorge of die Horse Shoe Gorge moet gesien word.

Ons reis deur die Ongeluksvallei, rigting Mount Fletcher. Die vallei was in die 90's een van die produktiefste in die land, maar dis opgekoop en is nou platteland met huisies en bestaansboere orals. Dis 'n mooi land, maar produksie is min en orals drentel mense rond. Dis jammer.

 Ons draai af net na Mount Fletcher, regs op die D8018, nou is dit grondpad oor Naude's Nek tot in Rhodes. Die GPS waarsku "bad gravel" -maar teenstrydig met die waarskuwing is smal grondpad verfrissend en heel goed.  Ons vleg deur verskeie tiepes lanskappe, sandspore, oor ontelbare laagwaterbrue, teen die hange van berge op net om anderkant weer af te gaan. 

Slinger, slinger oor Naude's Nek tot by die Naude' se monument. Langs die pad kry ons 'n swerm Blou Kraanvoëls, manjefiek.  Vandag se belewenis was landskap op landskap, en die afsondering, en die feit dat jy 'n bees kan hoor bulk al staan jy honderde meters ver teen die hange op - so ver dat jy dis bees nie eens kan sien nie.


Rhodes is klein. Baie klein, en stowwerig. By die Inligtingkantoor koop ons 'n sak hout vir R60 - ingevoeg vanaf Barkley Wes.  Niks het verander in die 4 jaar wat ons laas hierdeur is nie  - maar ek hou daarvan. Rhodes Universiteit is nie op Rhodes nie. 




By die Rhodes Hotel kry ons 'n man en vrou wat besig is om die land se bergpasse een vir een af te jaag, blykbaar in die rigting van 70 al.  Die vrou is sterk, sy ry al oor 'n week met 'n gekneusde rib. Name gevra, nope ....





Vanaand slaap ons op Den Hagen Guest Farm, oud maar baie lekker  - die koue staan op as die son sak. More tot in Ladybrand, verskeie passe om kaf te draf.

Mooiloop.

Tuesday, October 13, 2020

Rondom Lesotho 2020 - Mariazell Mission en "Locals"

 


Daar is min goed wat so bevredigend is as om wakker te word met stilte wat jou pla. Dis na jy gereeld gehoor het hoe Poue mekaar roep - "help, help, help". Nie seker wat hulle pla nie, maar na al die eeue roep hulle nog steeds om hulp. Langs 'n plaassdam, met stoom op - en dou op die gras. Groener as groen.



Ons pak op en eet ontbyt by die Olde Duck in Underburg. Slo, die kelner, is totaal onbewus van die feit dat hy reeds in die hemel bly - hy dink Gauteng is die plek om te wees. Ons koop water en brood by die Spar en vat die pad na Matatiele, via Bushman's Neck en Swartberg. Groot gedeeltes van die pad laat my dink dat ons ons eie Switserland het. Maar, die pad van Swartberg na Matatiele is 'n gemors. Punt. Dit breek jou kar.




Die Mariazell Mission anderkant Matatiele is 'n plek om 'n draai by te gaan maak. Pad is swak, maar gelukkig herbou hulle nou die grondpad daarheen. Die Mission is amper onwerklik - 'n Katolieke Katedraal in die middel van "nêrens". Met al die simboliek wat daarmee saamgaan.



Ek klop aan deur en Suste Winfred maak oop. Sy begelei ons deur die kerk. Ongelooflik. Sy  verduidelik geesdriftig dat Heilige Water is gewome water wat deur Priester geseën is, en waaroor gebid is. Dan word hulle besprinkel om hulle te herinner aan die doop. Sy sê "ons het nodig om herinner te word."


Oppad terug deur die Ongeluksvallei stop ons by 'n murasie met 'n uitsig. Die Afrikaner hond ignoreer ons, seker maar omdat hy kruppel is. Mathew, die oppasser, net sy informele huis agter aan die murasie gebou - die eienaar bly in Kokstad. Mathew wil weet of ons 'n dink" het.


Terug by die Resthaven in Matatiele maak ons die rygoed se tenks vol, en begin die vuur pak. Gelukkig kom Phillip, die eienaar, daar om en herinner my dat ek aandete bespreek het ..... die vrouens was beindruk met die "lamb shank en groente" (wat ons gebraai het). Goed so.

Nou is dit slaaptyd. More na Rhodes via Naude's Nek. Ons gaan beslis terugkom om saam met hom Lesotho binne te vaar, en besonderse fotos te neem. Kyk wat hang teen sy muur.



MooiLoop.


Monday, October 12, 2020

Rondom Lesotho 2020 - Nuwe Planne

 Die effek van Covid word orals gesien. Plekke verwaarloos en staf is min.

Ons ry rigting Harrismith om na die standbeeld van die Kaalvoetvrou te gaan kyk. Johanna Smit is haar naam, en net soos die meeste mense in SA vandag, is sy gatvol vir die regering van die dag - die Engelse wat beheer oor Natalia het. Op die berg stap sy rigting suid, Vrystaat toe. Gaan kyk.

Die geweeklaag onder die enjinklap kom en gaan, maar toe dit ophou raak ek bekommerd. Dis soos wanneer moeksie ophou om te praat, dan weet jy. In Bergville loop ek vir Andy van Al's Automotive Repairs raak - hy pluk 'n stetoskoop uit en identifiseer die sondaar as die idler pulley. Gelukkig ry ek 'n ou Land Rover en herstel is maklik, nie te lank daarna wikkel ons voort.  Die Amarok wag vir ons lang die pad.

In Nottingham eet ons 'n bord kos by The Bierfassl, besonders. Die eienaar vertel hy moes sy Defender verkoop om die Covid te oorleef.

Die roete word vinnig aangepas en ons wikkel Bulwer oor na Underberg. Die omgewing is ongelooflik mooi - foto hemel. 
Ons bly in die Meadow Lane Cottages in Underberg. Woorde is te min om die plek te beskryf. Manjefiek. Ons kom beslis terug. Vandag rol die wiele na Matatiele en die Marianzell Missie.