Kom ry saam.
Kom ry saam.
Die son steek sy kop uit oor die Vrystaatse vlakte en kondig so die laaste dag van ons reis aan. Terwyl ons na die RSG luister om te hoor wat in Senekal aangaan, drink ons koffie en eet 'n beskuitjie. Ons is maar almal bekommerd.
In Clarens is die vrouens in hulle noppies. Dit lyk darem of besigheid begin oplewe. Ons verkyk ons aan die mense dan eet ons 'n laaste aandete by Clementines. Puik.
En so sluit ons die laaste aand van ons reis af. Vreetsaam. Ons bespreek die roete en slaapplekke - ek neem kennis vir die volgende toer. Die lewe is soms gekompliseerd, baie keer as gevolg van die besluite wat ons maak - maar dis nog steeds goed. More is ons weer almal tuis - elke perd in sy eie stal.Ek bedink die roete en dit wat ons beleef het. Die wonderskoon en avontuur is beskikbaar vir elkeen, ons moet net bereid wees om dit te gaan soek. Ky kan of na een plek toe gaan en alles daar beleef, of jy kan kan jou rybroek aantrek en gaan soek. Ons mooi is orals, maar die kilometers is baie.
Dankie aan my reismaats, ons maak weer so. Hier is nog so 'n paar onthou fotos.
Tot volgende keer. MooiLoop.
Ons reis deur die Ongeluksvallei, rigting Mount Fletcher. Die vallei was in die 90's een van die produktiefste in die land, maar dis opgekoop en is nou platteland met huisies en bestaansboere orals. Dis 'n mooi land, maar produksie is min en orals drentel mense rond. Dis jammer.
Ons draai af net na Mount Fletcher, regs op die D8018, nou is dit grondpad oor Naude's Nek tot in Rhodes. Die GPS waarsku "bad gravel" -maar teenstrydig met die waarskuwing is smal grondpad verfrissend en heel goed. Ons vleg deur verskeie tiepes lanskappe, sandspore, oor ontelbare laagwaterbrue, teen die hange van berge op net om anderkant weer af te gaan.
Ons pak op en eet ontbyt by die Olde Duck in Underburg. Slo, die kelner, is totaal onbewus van die feit dat hy reeds in die hemel bly - hy dink Gauteng is die plek om te wees. Ons koop water en brood by die Spar en vat die pad na Matatiele, via Bushman's Neck en Swartberg. Groot gedeeltes van die pad laat my dink dat ons ons eie Switserland het. Maar, die pad van Swartberg na Matatiele is 'n gemors. Punt. Dit breek jou kar.
Oppad terug deur die Ongeluksvallei stop ons by 'n murasie met 'n uitsig. Die Afrikaner hond ignoreer ons, seker maar omdat hy kruppel is. Mathew, die oppasser, net sy informele huis agter aan die murasie gebou - die eienaar bly in Kokstad. Mathew wil weet of ons 'n dink" het.
Terug by die Resthaven in Matatiele maak ons die rygoed se tenks vol, en begin die vuur pak. Gelukkig kom Phillip, die eienaar, daar om en herinner my dat ek aandete bespreek het ..... die vrouens was beindruk met die "lamb shank en groente" (wat ons gebraai het). Goed so.
Nou is dit slaaptyd. More na Rhodes via Naude's Nek. Ons gaan beslis terugkom om saam met hom Lesotho binne te vaar, en besonderse fotos te neem. Kyk wat hang teen sy muur.
MooiLoop.
Die effek van Covid word orals gesien. Plekke verwaarloos en staf is min.
Die geweeklaag onder die enjinklap kom en gaan, maar toe dit ophou raak ek bekommerd. Dis soos wanneer moeksie ophou om te praat, dan weet jy. In Bergville loop ek vir Andy van Al's Automotive Repairs raak - hy pluk 'n stetoskoop uit en identifiseer die sondaar as die idler pulley. Gelukkig ry ek 'n ou Land Rover en herstel is maklik, nie te lank daarna wikkel ons voort. Die Amarok wag vir ons lang die pad.
In Nottingham eet ons 'n bord kos by The Bierfassl, besonders. Die eienaar vertel hy moes sy Defender verkoop om die Covid te oorleef. Sondagoggend. Rusdag. Dis die dag wat ons besluit om die Maluties van alle hoeke te bekyk. Die plan is om rondom Lesotho in 6 dae te ry, en omdat Covit Lesotho se grense ontoeganklik gemaak het, is die Sanipas en die Orange River Gorge uitgesluit - maar ry gaan daar gery word.
Die groep is klein, Covit het selfs hier 'n impak gehad. 08h00 word Santie se tasse gelaai en die Kraaij'e daag op. Santie gaan saam om die fotografie deel van die toer te hanteer. Ek vermoed ek gaan iets hier leer.Die teerpad na Harrismith word vinnig afgestof, maar die trok herinner my gou dat haar tande lank is. Onder die enjinkap is daar 'n geweeklaag en 'n gekners van tande. Altenator se bearing. Dis Sondag! Namiddag. Regtig! Maar geen probleem word op 'n leë maag opgelos nie. Wimpie toe, en 'n broodjie met 'n groot koffie later kry ons die Midas oop - wonderwerk. 'n Besonderse goeie dosis Q20 en Copper Slip laat die geluid bedaar, tot omtrent op die vlak van die gebrom van my maag voor Sondag middagete.
Die pas val vinnig teen die berg af tot onder in die vallei se vloer - dis waar jy Geluksburg aantref. 'n Piepklein dorpie uit vergange se era - sommige huisies met kleurvolle potplante op 'n helder geverfde stoep.
More gaan ons verder suid, rigting Underburg, maar eers gaan ons na die kaalvoetvrou kyk. Die bearing is nog stil. Die Q20 is gereed.
MooiLoop